Hooggeregshof wys Motata aansoek van die hand

Regter Nkola Motata. Foto: Neil Baynes/INLSA

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het uitspraak gelewer in die omstrede regter Nkola Motata se aansoek om toegelaat te word om weer as regter op te tree hangende die dissiplinêre proses van die Regterlike Dienskommissie wat nog onderweg is.

Dié aansoek van Regter Motata is gebring teen die minister van justisie, die Regterlike Dienskommissie en die burgerregte-organisasie, AfriForum. Al drie die partye het die aansoek teëgestaan.

ʼn Regter is van die Oos-Kaapse afdeling van die hooggeregshof ontbied om die aansoek aan te hoor, aangesien regter Motata self ʼn regter in die Noord-Gautengse afdeling van die hooggeregshof is.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het in sy reaksie gesê AfriForum verwelkom die uitspraak van regter Jean Nepgen in die aansoek van Motata, aangesien daar by AfriForum geen twyfel is dat regter Motata nie bevoeg is om as regter op te tree nie. Motata is reeds aan dronkbestuur skuldig bevind na ʼn voorval waarin hy growwe rassistiese uitlatings teenoor polisielede en lede van die publiek gemaak het.

Daar word verwag dat ʼn tribunaal van die Regterlike Dienskommissie die dissiplinêre ondersoek teen regter Motata binnekort verder sal voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.