Hoogtepunte van Gordhan se begrotingsrede

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingsrede wat Woensdag in Kaapstad gelewer is, het hoofsaaklik gefokus op ekonomiese groei. Daar was egter soos gewoonlik slegte nuus vir verbruikers.

Gordhan het aangekondig dat die brandstofheffing met 12c per liter gaan styg terwyl die Padongelukkefondsheffing met 8c per liter sal styg vanaf 2 April. Dit sal die algemene brandstofheffing tot R2,25 per liter vir brandstof opstyg en R2,10 per liter vir diesel. Gordhan het ook verder slegte nuus gehad vir sommige verbruikers met die aankondiging van stygings in die sogenaamde sondebelastings. Vonkelwyn styg met 62c per liter terwyl sterk drank met R4,76 per 750ml-bottel styg. Die prys van sigarette sal met 68c per pakkie van 20 styg terwyl sigarettetabak met 87c per 50g al styg.

Gordhan sê intussen die tesourie verwag ʼn groeikoers van 2,7% in 2014. Die regering se begroting vir die volgende 12 maande is R1,25 triljoen (of R1250 miljard), sowat 9% meer as in 2013. Daar is onder meer R254 miljard aan onderwys toegeken, R146 miljard aan gesondheid, R144 miljard aan maatskaplike beveiliging, 143 miljard aan behuising en gemeenskapsontwikkelinggeriewe, R116 miljard aan openbare orde en veiligheid en R48 miljard aan verdediging.

Gordhan het ook maatskaplike toelae verhoog. Oor die afgelope dekade het die aantal begunstigdes wat maatskaplike toelaes ontvang van 7,7 miljoen in 2003/4 na 15,8 miljoen in 2013/14 verdubbel. Ongeskiktheidstoelae neem van R1 265 toe na R1 350 terwyl kinderonderhoudstoelae van R295 na R315 toeneem.

Gordhan het belastingverligting van R9,25 miljard vir persoonlike inkomstebelasting aangekondig. Gordhan sê dit is veral diegene wat R250 000 per jaar en minder verdien wat hierby sal baat. Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) is dit egter net skynverligting. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.