Hoop vir Witbank onder eMalahleni-administrasie

‘n Lugfoto van Emalahleni (Witbank). Foto: booktravel.travel

AfriForum se tak in Witbank (eMalahleni) het kwelpunte in dié dorp, wat algemene diensleweringsprobleme soos probleme met paaie, elektrisiteitsvoorsiening en waterinfrastruktuur insluit, onder die administrasie van die eMalahleni-munisipaliteit se aandag gebring. Volgens dié burgerregte-organisasie lyk dit of die administrateurs die bekommernisse van AfriForum  in ‘n ernstige lig beskou en die kwelpunte indringend sal hanteer.

Dié munisipaliteit is vroeër vanjaar deur die Mpumalanga provinsiale regering onder administrasie geplaas.

“Die administrateurs het die punte wat AfriForum geopper het in hul dienslewering- en begrotingsimplementeringsplan geïntegreer. Dit is vir ons verblydend om te sien dat die administrasie aandag aan die inwoners se kwellings gee,” het Ruan Lottering, AfriForum se organiseerder vir Mpumalanga, Dinsdag gesê.

Volgens Lottering het AfriForum se tak in Witbank die lys probleme en aksieplanne aan Theo Jansen van Vuuren, wat aan beheer staan van die administrasie, oorhandig. “Van Vuuren het reeds gereageer en stem saam met AfriForum se doelwit om Witbank weer te verander in ʼn dorp waarop mense trots kan wees,” het Lottering gesê.

AfriForum sal die administrasie ondersteun en sal die nodige hulp aanbied om die doelwitte te bereik.

“Hoewel daar probleme in die dorp is, kan goeie samewerking tussen die administrateurs en organisasies wat burgerlikes verteenwoordig dit saam die hoof bied,” het Leon Viviers, die voorsitter van AfriForum se tak in Witbank, gesê.

Mense wat by AfriForum wil aansluit en wil sien hoe Witbank weer ’n suksesverhaal word, kan “Witbank” SMS na 31336. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.