Hospitaalwoordvoerder sterf in skietery

‘n Woordvoerder van die Steve Biko-hospitaal in Pretoria is dood nadat sy vermoedelik deur haar voormalige kêrel geskiet is.

Fredah Kobo (41) is Saterdag omstreeks 11:00 glo deur haar voormalige kêrel (39) in haar bolyf geskiet, waarna hy homself noodlottig gewond het, berig LookLocal Pretoria North. Na wat verneem word, het daar ʼn rusie tussen hulle by haar huis in The Orcards, in die noorde van Pretoria, uitgebreek.

Luitenant-kolonel Lungelo Dlamini het die voorval bevestig. Kobo is op die toneel dood verklaar en die man is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar hy later dood is.

Simon Zwane, die Gautengse gesondheidsdepartement se woordvoerder, het Sondag sy skok oor Kobo se dood uitgespreek. “Ons is baie hartseer om van haar dood te verneem. Ons betuig ons innige meegevoel aan haar familie, vriende en kollegas,” het hy gesê.

Kobo was ʼn bekende in die mediakringe en een van Maroela Media se goeie kontakte, en haar dood laat ʼn groot leemte. Kobo was ook ʼn lid van die Nasionale Persklub. Jos Charle, ondervoorsitter van die klub, het ook hul medelye betoon. “Sy bly in ons gedagtes. Ons wens haar seun, familie en kollegas alle sterkte toe,” het hy gesê.

Die inligting oor haar begrafnis is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.