Hotelpryse styg flink voor Olimpiese Winterspele

SotsjiMet die Olimpiese Winterspele wat van 7 tot 23 Februarie in die Russiese stad Sotji plaasvind, het die pryse vir hotelverblyf flink gestyg. In een geval is die prys nou meer as 285 persent hoër as normaalweg.

Tog, as die pryse met die hotelpryse in Londen vergelyk word toe die Olimpiese Spele in 2012 daar plaasgevind het, is die Russe se akkommodasie steeds ‘n “winskoop”. Die hoogste prys vir hotelverblyf in Sotsji is $425 per nag, terwyl soortgelyke verblyf in Londen die sportgeesdriftige $547 per nag uit die sak sou jaag. In randwaarde sal iemand dus nou hotelverblyf in Sotsji vir tussen sowat R1 200 en R4 300 per nag kry.

Die prysstygings geskied selfs te midde van ‘n ernstige terreurbedreiging tydens die Spele. Pres. Waldimir Poetin het sy mees gedugte spesiale magte in die stad ontplooi om sekerheid te verseker, maar radikale Moslems uit die omgewing, veral Tsjetsniese terroriste en groepe uit Dagestan, het al getoon dat hulle nie maklik gestuit word nie. Intussen word ‘n boikotaksie ook deur talle menseregtegroepe, waaronder Verslaggewers Sonder Grense, teen die spele bepleit.

‘n Petisie deur die Nederlandse groep, COC, wat weens Rusland se homofobiese wetgewing beswaar maak teen die groot Nederlandse afvaardiging na die spele, het in ‘n ommesientjie 10 000 handtekeninge gekry. Daar was twyfel of Nederland weens Rusland se menseregterekord hoegenaamd ‘n afvaardiging sou stuur, maar die parlement het besluit om die koningspaar, die eerste minister en die minister van sport af te vaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.