‘Houdini’, die swartmamba, dalk gesteel

Argieffoto

‘n Swartmamba wat by die Pretoria Dieretuin vermis geraak het, is moontlik gesteel.

“Die moontlikheid dat die slang gesteel is, is nou hoogs waarskynlik,” het Craig Allenby, bemarkingsbestuurder van die dieretuin, gesê. Hy sê daar is ‘n mark vir onwettige handel van inheemse reptiele soos swartmambas. Die dieretuin sal ‘n interne ondersoek van stapel stuur rakende die moontlike diefstal van die slang, en indien dit so is, hoe dit gebeur het en of personeel betrokke was.

Allenby sê die soektog na die slang, wat nou “Houdini” gedoop is, duur voort. “Ons wil die publiek verseker dat ons toegeweid bly om die saak so gou as moontlik op te los.” Hy sê veiligheidsmaatreëls is ingestel.

‘n Nagtoer van die dieretuin Vrydagaand en besoekers wat gevolglik daar gaan oornag, duur voort. Dié nagtoere word teen ‘n verlaagde tarief vir Maartmaand aangebied. “Daar is geen bykomende bedreiging vir die publiek nie,” het Allenby gesê. Hy sê lede van die publiek wat daar oornag bly ‘n hele ent van die slangterrarium af en opgeleide personeel sal die heeltyd aan diens wees.

‘n Paaseierjag, een van die grootste in Suid-Afrika met 20 000 sjokolade-eiers wat weggesteek word, duur ook op 30 en 31 Maart voort.

Personeel het op 11 Maart ontdek die slang het uit die terrarium verdwyn. Swartmambas bly gewoonlik in bome, so die omvattende soektog het op die dak van die reptielpark konsentreer. Prooi soos rotte, muise en kuikens is in die dienstoegangsarea geplaas in ‘n poging om die slang te lok. “Dit was egter tot dusver vrugteloos. Dit is moontlik dat die slang reeds ander prooi ontdek het of dat hy in ‘n meer dormante fase is en nie tans eet nie,” het Allenby verduidelik.

Dit is nog te vroeg vir die slang om te hiberneer. Tydens hibernasie neem swartmambas se aktiwiteit af, maar stop nie in totaliteit nie.

‘n Maatskappy is ontbied om met infrarooikameras na die slang te soek, maar Houdini bly soek.

Werner Bronkhorst, ‘n rekenmeester van Kemptonpark, is vroeër die maand deur ‘n Mosambiekse spoegkobra in die gesig gepik terwyl hy by ‘n gastehuis in Noordwes tuisgegaan het. Volgens Bronkhorst het die slang ook ‘n waterbottel en leë sigaretpakkie aangeval.

Een van Suid-Afrika se topdeskundiges, Johan Marais, is in die begin van die maand in die hospitaal opgeneem nadat ‘n pofadder hom gepik het. “Dit was pynlik, maar nie so sleg as om na Justin Bieber te luister nie,” het Marais geskerts.

Die Wes-Randse nooddienste sê hulle moes gedurende die somer meer as 78 slange van residensiële erwe verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.