‘Houdini’ steeds soek

Argieffoto

Die swartmamba wat by die Pretoria Dieretuin vermis geraak het, is steeds soek.

Craig Allanby, bemarkingsbestuurder van die dieretuin, sê die soektog na die reptiel het Saterdagoggend hervat. Die dieretuin het Vrydag gesê hulle ondersoek ook die moontlikheid dat die slang, wat ‘Houdini’ gedoop is, gesteel is. Allanby sê daar is ‘n mark vir die onwettige handel van inheemse reptiele soos swartmambas. Die dieretuin sal ‘n interne ondersoek van stapel stuur rakende die moontlike diefstal van die slang, en indien dit so is, hoe dit gebeur het en of personeel betrokke was.

Die soektog na ‘Houdini’ het op 11 Maart begin nadat personeel ontdek het die slang het uit sy hok verdwyn. Swartmambas bly gewoonlik in bome, so die omvattende soektog is op die dak van die reptielpark gekonsentreer. Prooi soos rotte, muise en kuikens is in die dienstoegangsarea geplaas in ‘n poging om die slang te lok. “Dit was egter tot dusver vrugteloos. Dit is moontlik dat die slang reeds ander prooi ontdek het of dat hy in ‘n meer dormante fase is en nie tans eet nie,” het Allenby verduidelik. ‘n Maatskappy is ontbied om met infrarooikameras na die slang te soek, maar Houdini bly soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.