Die skipper van die plesierboot Miroshqa wat vroeër die maand naby Houtbaai in Kaapstad omgeslaan het,het slegs ʼn basiese bevoegdheidsertifikaat gehad.
Beeld het Donderdag berig dat dié sertifikaat hom nie toelaat om passasiers te vervoer nie. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samvo) het Woensdag sy voorlopige verslag oor die voorval, waarin twee mense dood is, bekend gemaak.
Samvo se verslag dui daarop dat sewe van die agt redes wat tot die ramp gelei het, as gevolg van nalatigheid en onervarenheid veroorsaak is, en dus voorkom kon word.
Hulle het bevind die bemanning was onervare en dat swak besluitneming, infrastrukturele tekortkominge, tegniese probleme en weerstoestande tot die ramp bygedra het.
– Sapa