Houtbaai: Vermiste bemanningslid opgespoor

Die liggaam van die vermiste bemanningslid van ‘n boot wat in Houtbaai omgeslaan het, is Sondag deur vlootduikers opgespoor.

Twee mense is in dié voorval dood. Gesinslede van John Roberts het glo begin huil toe beamptes van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) aan hulle meegedeel het dat die liggaam opgespoor is, berig EWN. Die liggaam sal na die NSRI se hoofkantoor in Houtbaai geneem word waar die forensiesepatologie-eenheid eers bewyse sal insamel voordat die gesin hom kan uitken.

Ten minste een ander persoon, wat glo van Brittanje afkomstig is, is dood toe die plesierboot Saterdag omstreeks 15:00 omgeslaan het. Sy familie is versoek om hom by die lykshuis in Salt River uit te ken.

Altesaam 37 passasiers is gered en talle is beseer. Volgens die NSRI sal hulle almal spoedig herstel.

Die Suid-Afrikaanse Maritieme Owerheid (SAMSA) het die Mekoshker na Tafelbaai-hawe getou. Aanvanklike berigte wat aangedui het dat die Mekoshker iets in die water getref het is verkeerd, het beamptes van NSRI bevestig. Brad Geyser, woordvoerder van die NSRI het gesê water het by die vaartuig se elektriese enjinkamer ingelek en die boot het alle krag verloor en toe in rowwe seetoestande tot stilstand gekom. Die boot het toe omgeslaan nadat dit oorspoel het.

Twee vaartuie in die omgewing het hul na die Mekoshker gehaas en van die passasiers gered. In een stadium was drie vroue in die romp van die omgeslane vaartuig vasgekeer, maar hulle kon deur suurstofholtes asem haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.