Huisarres ná sy drank “steel”

Natali B Jacobs (24), wat alkohol ter waarde van R20 000 wederregtelik bekom het terwyl sy in diens was van die kantoor van die premier van die Wes-Kaap, is Woensdag gevonnis.

Landdros Amrith Chabillal het Jacobs in die Bellville se gespesialiseerde kommersiële misdaadhof tot twee jaar huisarres gevonnis. Luidens die pleitooreenkoms was Jacobs ʼn administratiewe klerk in die premier se maatskaplike transformasieprogram (STP). Sy was verantwoordelik vir aankope vir konferensies van die program. Haar pligte het die prosessering en bevestiging van betaling aan diensverskaffers ingesluit.

Luidens die klagstaat het sy ʼn konferensie van R110 000 by die St George Hotel in Kaapstad gereël. Minder mense as wat verwag is, het opgedaag en die hotel het gevolglik ʼn betaling van R20 278 te veel ontvang. Op haar versoek het die hotel alkohol van dié bedrag aan haar verskaf in plaas van om die STP se bankrekening te krediteer.

Aanklaer Derek Vogel het aan die hof gesê dat Jacobs nie in staat is om die geld terug te betaal nie en dat sy haar posisie van vertroue in die premier se kantoor misbruik het. Regshulp prokureur Haley Lawrence het gesê Jacobs is onder psigiatriese behandeling vir erge depressie.

Jacobs is tot twee jaar tronkstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat sy haarself aan twee jaar huisarres sal onderwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.