Huisbrake: Diewe se Top 10

Argieffoto.

Argieffoto.

Die versekeringsgroep Virseker het Vrydag gewaarsku dat misdadigers tussen Oktober en Desember na ‘n hoë rat oorskakel en neem insidente van huisbrake dramaties toe.

Eis-data van Virseker toon dat daar sekere huishoudelike items is waarna diewe gedurende hulle vinnige strooptog aangetrek word. Dit neem tussen slegs 5 en 12 minute vir ‘n dief om by die gemiddelde huis in te breek. Deur ‘n paar voorsorgmaatreëls in plek te stel kan huiseienaars die grootte van ‘n inbreker se buit tot ‘n minimum beperk.

“Huisbrake bied aan diewe ‘n goeie geleentheid om vinnig ‘n hele paar rand te maak. Die meerderheid van hulle stel nie belang in die risiko van konfrontasie of logistiese probleme wat gepaard gaan met die steel van groot items nie. Die items wat mees algemeen gesteel word gedurende ‘n vinnige strooptog is kompak, liggewig en relatief waardevol,” het Elmarie Twilley, ʼn woordvoerder van Virseker, gesê.

“Diewe breek nie sommer op lukrake wyse by wonings in nie. Hulle sal gewoonlik huise wat maklik toeganklik is – en mees waarskynlik is om maklik draagbare, waardevolle items te bevat – dophou en teiken. So, om te vermy dat jou huis geteiken word, en om verliese te minimaliseer indien dit wel gebeur, behoort jy stappe te doen om die hoë-waarde, draagbare items waarna hulle op soek is, weg te steek. Jy moet ook seker maak dat al jou kosbare besittings deur versekering gedek is.”

Hier volg inligting wat verkry is van eise teen versekering, wat die top tien items wat inbrekers steel, onthul:

Kontant – ‘n Groot gelukskoot vir inbrekers, nie net omdat dit liggewig is en maklik is om te vervoer nie, maar ook omdat dit nie iets is wat eers verkoop hoef te word nie. Moet nooit kontant in jou huis laat rondlê, of dit versteek in laaie, of kluise wat nie stewig vasgebout is nie.

Beursies – Inbrekers sal beursies buitmaak vir die krediet- en debietkaarte wat dit bevat. Sindikate kan maklik hierdie kaarte kloon en toegang tot jou bankrekening(e) verkry. Moenie beursies binne die algemene gesigsveld laat lê nie, selfs wanneer jy by die huis is. Hou, instede daarvan, die kaarte wat jy nie gereeld gebruik nie, in ‘n vasgeboute kluis.

Vuurwapens – Gewere en ander wapens is in hoë aanvraag by Suid-Afrika se ewig-groeiende misdaadsekte. Dit is ook maklik om hulle te verkoop vir groot hoeveelhede geld. Indien jy ‘n wapen besit, behoort dit ongelaaid in ‘n versigtig versteekte, vasgeboute kluis toegesluit te wees.

Draagbare rekenaars en -toestelle – Skootrekenaars, tablet-rekenaars, slimfone en mediaspelers is maklik vervoerbaar en word maklik aan pandjieswinkels, aanlyn en op straat verkoop. Ongelukkig is ons almal redelik laks wanneer dit kom daarby om hierdie hoë-waarde items in die algemene gesigsveld te laat. Eis-data getuig toenemend daarvan dat inbrekers vinnig toegang tot ‘n woning verkry deur vensters en ruite te breek en dan mobiele toestelle te gryp wat op koffietafels of kombuis-blaaie gelaat is. Daar word in baie gevalle niks anders uit die woning gesteel nie.

Juweliersware – Omdat juweliersware – gewoonlik van aansienlike herverkoopswaarde – gereeld bo-op laaikaste, in maklik toeganklike laaie en in juwelierskissies gelaat word, is dit maklik om te vind. Halssnoere, ringe en armbande kan maklik in broeksakke ingedruk word en is ‘n vinnige en maklike wenskoot vir inbrekers.

Elektroniese ware – Hoewel diewe items wat groot en moeilik is om te versteek, soos TV’s en ander vermaaklikheidstoerusting, probeer vermy, sal hulle dit steel indien hulle ‘n ontsnappingsvoertuig handig het of indien hulle nie ‘n tydsbeperking weens alarmstelsels het nie.  Moet nooit bokse van TV’s en ander items wat jy aangekoop het binne sig van verbygangers laat lê nie. Dit bied aan inbrekers die nodige leidrade om te bepaal wat hulle binne jou huis sal aantref. Belê in ‘n alarmstelsel en sluit by ‘n gewapende sekuriteitsmaatskappy aan wat vinnig kan reageer indien daar by jou huis ingebreek word. Dit sal die hoeveelheid tyd wat diewe vrye teuels binne jou huis het beperk en hopelik voorkom dat jou TV geneem word.

Huishoudelike toestelle – ‘n spog-ketel, menger of mikrogolfoond kan aan ‘n dief ‘n lekker geldjie in die sak besorg by ‘n pandjieswinkel of op straat. Omdat ons hierdie items gereeld gebruik, word hulle meestal gelos waar hulle gebruik word. Onthou om hierdie toestelle by jou huisinhoud-versekering in te sluit.

Hekmotors – Dit is deesdae ‘n algemene ding vir diewe om hekmotors te steel omdat dit vir groot bedrae verkoop kan word. Beskerm jou hekmotor deur dit stewig, met ‘n steunraam, aan die grond binne jou eiendom te anker. Bring ‘n steunarm aan die bokant van jou hek aan om te voorkom dat dit van die spoor gelig kan word. Bring ook elektriese omheining op grensmure aan om dit moeiliker te maak vir ‘n dief om toegang tot jou eiendom te verkry.

Identiteite – Misdadigers met goeie verbindings kry stewige uitbetalings in ruil daarvoor dat hulle dokumente en kredietkaarte steel wat hulle in staat stel om jou identiteit te gebruik. Maak seker dat jou belangrike dokumente, soos testamente, huweliksertifikate, paspoorte ensomeer veilig in ‘n versteekte kluis weggesluit is. Skeur of versnipper rekeningstate en ander dokumente voordat jy dit weggooi. Indien daar by jou huis ingebreek is, maak seker dat al jou belangrike dokumente steeds daar is.

Voertuie – Voertuie word ook gesteel tydens huisbrake en -rowe. Wanneer jy oppad uit is en jou motor by die huis laat, maak seker dat jy jou motorsleutels in ‘n kluis wegsluit en nie net aan sleutelhakies los nie. Indien jy ‘n toesluit-motorhuis het, sluit jou motor liefs deeglik toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.