ʼn Vermeende huisrower is Sondag tydens ‘n oor-en-weer-skietery met die polisie in Benoni doodgeskiet.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag gesê polisiebeamptes wat die gebied gepatrolleer het, het Sondagoggend ʼn groep mans gesien wat by ʼn huis wou inbreek. Die beamptes het ondersoek ingestel, waarna ʼn verdagte ʼn vuurwapen op die beamptes gerig het. “ʼn Tweede verdagte het toe op die beamptes losgebrand. Die beamptes het teruggeskiet,” het Dlamini gesê.
Een verdagte is noodlottig gewond, en die ander het daarin geslaag om weg te kom. Nie een polisiebeampte is in die skietery beseer nie. Die polisie het op ʼn vuurwapen en selfoon beslag gelê.