ʼn Man is Maandag in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn gesin op hul kleinhoewe in De Deur, suid van Johannesburg.
ʼn Polisiewoordvoerder, brig. Anton du Bruyn, sê die 20-jarige man is die seun van die gesin se huiswerker. Hy is op ʼn plot naby aan die gesin se kleinhoewe in hegtenis geneem. Tony Vaina (50), sy vrou Giraldine en hulle 13-jarige seun Amaro, se liggame is Sondagmiddag gevind nadat die polisie hulle verlate motor in Orange Grove gevind het. Tony se liggaam is in die sitkamer gevind. Hy het op sy maag gelê en sy hande was agter sy rug vasgebind. Giraldine se liggaam is in die slaapkamer gevind. Sy is vermoedelik verkrag voor sy vermoor is. Amaro se lyk is in die bad gevind met sy hande agter sy rug vasgemaak. Die verdagte word aangekla van drie sake van poging tot moord, motordiefstal en huisroof. Hy sal binnekort in die Vereeniging landdroshof verskyn.