Huldeblyke stroom in vir Christa Steyn

Christa Steyn. Foto: Facebook

Huldeblyke stroom in vir die bekroonde pianis Christa Steyn na sy Maandagaand haar jaar lange stryd teen kanker verloor het.

Steyn is omstreeks 20:00 Maandagaand by haar huis in Pretoria oorlede. Steyn is in Junie 2011 met bors- en lewerkanker gediagnoseer. Sy sou op 15 Junie haar 54ste verjaarsdag gevier het. Christa se chemoterapie is onlangs gestop na kanker deur haar hele lyf versprei het en sy was vir die laaste ruk bedlêend. Haar twee kinders, Douw Steyn en Madeleen Grobler, was aan haar sy. Een van Steyn se laaste inskrywings op Facebook lees: “My tyd is besig om vinnig uit te loop, menslik gesproke. Die kanker het nou my skelet ook oorgeneem MAAR my kop is so positief en ek as mens voel ongelooflik geseënd. Dankie vir elke gebed, gedagte en liefde wat ek so mildelik ontvang.”

Huldelyke vir Steyn stroom intussen in op sosiale netwerke. Die sanger Steve Hofmeyr het op Twitter gesê: “Jammer Christa Steyn. RIP. Ons sal jou nooit vergeet nie. Groetnis aan Lucas.” Die sanger Andre Schwartz ‏het geskryf: “Rus in vrede Christa. Een van die grootste legendes ooit – my heel eerste TV vertoning se liedjies danksy Christa.” Adam Tas, sanger, het gesê: “Het sopas gehoor Christa Steyn is oorlede, slaap sag op die klawers van die klaviere daar bo.” Die sanger Pieter Koen het gesê: “ Rus in Vrede Christa Steyn !!! Dankie vir jou bydrae in musiek en deur jou menswees en jou musiek sal vir altyd weerklink .” Die sanger Gerrie Pretorius het geskryf: “ Vanaand is daar geel Madeliefies in die hemel. R.I.P Christa Steyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.