Huldeblyke stroom in vir die veteraan-akteur Johan van der Merwe, wat Dinsdagoggend, 31 Julie op 62-jarige ouderdom oorlede is. Van der Merwe is sowat ʼn maand gelede in die hospitaal opgeneem ná ʼn hartaanval wat ernstige skade aan sy hartspier veroorsaak en uiteindelik tot sy dood gelei het.
Johan het bekendheid verwerf vir sy rol as Jan in die reeks Nommer Asseblief. Hy is tans in die kykNET-reeks Parys Parys te sien as die karakter oom Tjoppie.
Sy dogter, Mart-Marie van der Merwe, het aan Maroela Media gesê sy roudiens vind op 10 Augustus vanuit die NG kerk Pretoria-Oos, Hatfield, naby Loftus Versfeld plaas. Die diens begin om 09:00.
Die aktrise Zetske van Pletzen skryf op Twitter: “RIP Johan van der Merwe. What a legend!!! ;-( ”
Sy aanhangers het op Facebook uiting gegee aan hul hartseer oor sy afsterwe:
• “Hy het ons soveel vreugde gegee!” – Irma Norminton
• “Rus in vrede. Dankie vir al die komedie. Jy was een uit ‘n miljoen!” – Nicholeen Smit
• “Mis hom verskriklik en hy was so opregte dierbare mens.” – Shaun Prinsloo
• “So hartseer. Hy was ʼn baie goeie akteur. Hierdie jaar is daar soveel al van ons akteurs en sangers weggeneem. Sterkte aan sy familie.” – Gertie Barney van der Schyff
Johan, ek het jou rolspel in NOMMER ASSEBLIEF verskriklik geniet. Jou afsterwe is n verlies vir die SA kunstenaarsbedryf. Aan Johan se familie, sterkte almal.
Johan rus in vrede. Nog n groot boom het geval. Jy was n uitstekende rol vertolk is Nommer asseblief,en nou ook in Parys Parys. My simpatie gaan uit na sy familie en vriende.
My innige simpatie aan ALLE familie en naaste vriende. Wat ‘n verlies vir ons drama afdeling.