Huldeblyke vir hengelaar wat sterf tydens rooftog

Huldeblyke het Maandag bly instroom op sosiale media vir John Wickham, ʼn bekende in Suid-Afrikaanse hengelkringe. Twee gewapende rowers het Wickham Sondagoggend by ʼn gastehuis op Dullstroom in Mpumalanga doodgeskiet.

Volgens brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, het twee gewapende mans teen ongeveer 04:00 by The Wolery, ʼn gastehuis op die dorp, ingebreek en die sleutels van Wickham se motor geëis.

“Hulle [die rowers] het ʼn skoot afgevuur en twee selfone gevat,” sê Mohlala.

Volgens Craig Fraser, ʼn jarelange vriend en president van die Suid-Afrikaanse baarshengelvereniging (Sabaa), was hulle juis by die gastehuis saam met ander Sabaa-bestuurslede om informeel te gesels oor volgende jaar se hengelkompetisies.

Volgens Fraser het Wickham probeer verhoed dat sy vrou, Magda, in die spervuur beland.

John Wickham Family

John en Magda Wickham. (Foto: Magda Burger Wickham/Facebook)

Wickham is na ʼn hospitaal gejaag, maar is by sy aankoms dood verklaar.

Fraser, het vergeefs noodhulp op Wickham probeer toepas.

Fraser was een van die gaste wat saam met die Wickhams gekuier het.

“Hy het daar op die stoepie inmekaargesak. Ons het hom dadelik in sy voertuig gelaai en deurgejaag na die hospitaal in Belfast,” sê Fraser.

Op pad het Fraser gesien hoe Wickham ophou asemhaal. Hy het begin om noodhulp toe te pas.

“By die hospitaal was dit chaos … hulle het gesê dit help nie, hy is weg. Ek het geweier om dit te aanvaar en bly noodhulp toepas,” sê Fraser.

Volgens hom is Wickham drie keer geskiet. Een skoot het hom in die keel getref.

John Wickham Family

John en Magda saam met hul seuns Tristan en Nathan (links) en Tristan (regs). (Foto: Magda Burger Wickham/Facebook)

“Ons het nog tot omtrent middernag so lekker saam gesit en kuier en lag. John het nog met Magda gedans, hulle was so gelukkig,” sê Fraser.

“Ek weet nie van nog ʼn gesin wat as ʼn geheel so goedhartig was nie.”

Ferreira het  het Wickham as ʼn uitstekende hengelaar beskryf, met ʼn slag vir organisering.

“Wickham het al ons groot geleenthede gereël. Dit is nie net om tien mense om ʼn dam te kry nie, ons praat van internasionale kompetisies hier en oorsee en hy het dit maak gebeur,” sê Ferreira.

Wickham was onder meer die vise-president van Sabaa. Hy en sy gesin het in Emalahleni gewoon waar hy ook ʼn ingenieursfirma bedryf het.

John Wickham Family

John Wickham was ‘n begaafde visserman. (Foto: Verskaf)

“John was in die eerste plek ʼn toegewyde gesinsman. Hy was ʼn ware heer en vriend wat almal vriendelik en met respek behandel het. Hy het so baie lewens geraak,” het Sabaa Maandag in ʼn huldeblyk op sy Facebook-blad geskryf.

Nog ʼn vriend, Pierre Theron, het aan Maroela Media gesê Wickham was iemand met ʼn groot hart.

“Daar was geen uitdaging waarvoor hy nie kans gesien het nie. Hy het altyd ekstra moeite gedoen en was die een wat dinge voor en agter die skerms laat gebeur het.”

Mohlala sê die ondersoek duur voort, hoewel geen verdagtes tot dusver in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Delia ·

Hy het nie gesterf tydens n rooftog. Hulle het gekom om te moor en toe n bietjie probeer roof

Karoo ·

Inige simpatie aan vriende en familie. Dit is hartseer dat die wat die minste bydra tot die lewe, letterlik met moord weg kom.

Andre ·

…moenie asem ophou vir arrestasies nie; dis krismis en dis tyd om te rus!

M ·

Hoe, vra jou, hoe vertroos ‘n mens sy geliefde naby-mense wat so iets moet deurmaak, verdra,verduur ? Woorde ontbreek my … totaal…. geheel en al. Dit maak seer !!

Daarteenoor , is my gemoed vervul met woede ….. blatante woede ……………….. verder bly ek stil ……………..anders gebruik ek onwelvoeglike taal …….

Hannes ·

@Andre, hulle het nie ‘n vakansie nodig om niks te doen nie, dit kom natuurlik. Ons moet ontslae raak van die ANC / EFF en kaders, hulle saai net verwoesting sover hulle gaan. En Bheki Cele loop rond soos Freddy Kruger want elke dag is Friday the 13th soos hy “Cops & robbers” speel.

Pannies ·

Ek huil vir al hierdie goeie gemeenskapsmense wat so onnodig en te vroeg sterf aan die hand van mense wat niks vir enige iemand voel nie. Ek ken die mense nie, maar bid dat hul moordenaars eendag hul verdiende straf sal kry.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die sorgvye dae en luilekker lewe is verby. Sluit jouself toe na sonsonder en bly van die pad af. Skep ‘n “safe room” in jou huis.

Suzette ·

Mens kan nie in ‘n gastehuis tuisgaan, gaan stap of aan ‘n wedloop deelneem in hierdie land nie – dit is te gevaarlik – selfs in jou eie huis is jy nie meer veilig nie. Hierdie land is ‘n algehele mislukking.

Jeanette ·

Nee ons het nie meer ‘n lewe in die land nie. Jy kan rerig nerens meer gaan nie, moet altyd oor jou skouer kyk. Ek stem saam gaan reguit huistoe, sluit jou deure en vensters en waag dit nie buite na sonsondergang nie. So vergaan ons in ons eie tronke en die misdadigers loop rond en doen wat hulle wil, moor wie hulle wil en vat wat hulle wil. Ons hou wapens ten alle tye op die regte plekke en sal nie huiwer om dit te gebruik nie, dan is dit nou maar wat die Bybel van praat ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand!

Frikkie ·

En gebruik mens n wapen om jouself te verdedig, dan sit jy eerste in die tronk.

Skappie ·

Elke dag lees mens van moorde wat gepleeg word, en daar word net niks daaromtrend gedoen nie. Ons bly in ‘n oorlog land. Sterkte aan sy gesin en almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.