‘Hulle sal ware straf van God kry’

Twee mans wat ʼn Pretoriase sakeman buite sy huis doodgeskiet het, is Vrydag lewenslank tronk toe gestuur.

Simon Mabena (29) en Lesiba Kgaledi Mabitsela (28) is Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Dave Bye (57). Bye is in April 2010 buite sy huis in ʼn veiligheidskompleks in Clubview, Centurion doodgeskiet toe hy op pad was werk toe. Bye het twee slaghuise in Soshanguve besit. Regter Bert Bam sê Mabena en Mabitsela het deurentyd volgehou dat hulle onskuldig is en dat hulle geen berou getoon het vir wat hulle gedoen het nie. Bye se vrou Adreen sê sy is tevrede dat geregtigheid geskied het maar glo dat haar man se moordenaars hulle ware straf van God sal kry. Sy sê haar man het in hulle jongste seun se arms gesterf nadat hy haar by die kantoor geskakel het en aan haar gesê dat sy pa geskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae