Hulp benodig om ou geskrifte te ontsyfer en vertaal

‘n Deurbraak is gemaak in die ontsyfering van ou kleitablette uit wat vandag die suid-weste van Iran is.

Dié tablette is nie baie oud nie, “slegs” sowat 5 000 jaar, maar die ontsyfering van wat as proto-Elamities bekend staan bied verskeie uitdagings.

Dr. Jacob Dahl van die Wolfson College in Oxford het egter belangrike vordering begin maak toe hy die aangepaste RTI (Reflectance Transformation Imaging) begin inspan het. Dit gebruik onder meer 76 verskillende fotografiese ligte en elke moontlike kenmerk op die tablette word uitgelig.

Dahl het reeds sowat 1 200 verskillende simbole ontsyfer, veral die simbole wat syfers aandui. Hy word deur ‘n groep Oxfordse akademici bygestaan in die ontsyfering, maar hy meen die aanlyn-plasing daarvan kan help dat mense van oral in die wêreld die ontsyfering en vertaling versnel.

Die proto-Elamite het die konsep van skrif by die Mesopotamiërs oorgeneem, maar om ‘n onbekende rede toe hul eie skrifstelsel ontwikkel.

Boonop was die skrywers nie baie geletterd nie, en baie foute is gemaak, wat die ontsyfering nog verder bemoeilik. Die skrif het dus ook slegs ‘n kort rukkie bestaan en is ‘n vroeë voorbeeld van tegnologiese kennis wat verlore geraak het.

Met al die hulp, meen Dahl is hulle naby die punt waar die taal volledig ontsyfer en verstaan sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.