Hulp vir egpaar wat van hondekos leef

Die Potchefstroom Dienssentrum het glo ʼn paar uur nadat hulle uitgevind het van ʼn bejaarde egpaar, wat van hondekos moes leef, ʼn ondersoek van stapel gestuur en hulp van die gemeenskap ontvang.

“Ons het groot waardering vir die gemeenskap wat dadelik bystand verleen het,” het dr. Sanet Jansen van Rensburg, adjunk direkteur van die Dienssentrum, Maandag aan Maroela Media gesê.

Die egpaar het glo net ʼn staatspensioen ontvang en het in iemand se erf in die huishulp se kamer gebly. Hulle het R1 000 huur betaal. Die 72-jarige vrou het drie jaar gelede ʼn beroerte gehad nadat ʼn operasie glo skeefgeloop het. Sy het die gebruik van haar arms en bene verloor en haar man moes na haar omsien.

Die Dienssentrum se maatskaplike werker het mieliemeel, Morevite en eiers na die egpaar geneem. “Danksy hulp en ondersteuning van die gemeenskap kan ons nou elke dag etes aan die egpaar verskaf,” het Jansen van Rensburg gesê. “Daar is egter talle ander mense in die gemeenskap wat baie swaarder kry. Ons het intussen ook te hore gekom van ʼn bejaarde vrou wat in ʼn motorhuis bly. Sy het nie elektrisiteit of ʼn toilet nie. Sy betaal R1 000 huur, en ontvang slegs ʼn staatspensioen van R1 200. Sy het dus net R200 per maand om van te leef.”

Volgens Jansen van Rensburg kan hulle nou ook ander dienste, buiten die etes, aan bejaardes en ander mense in die gemeenskap verskaf. Daar is glo ook persone wat aanbiedings vir akkommodasie gemaak het.

Jansen van Rensburg doen ʼn beroep op die publiek om ook in hul eie gemeenskappe betrokke te raak.

Mense wat die Potchefstroom Dienssentrum wil ondersteun kan 018 293 0678 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Erika ·

Dit is so hartseer om sulke stories te lees, waar is hierdie bejaarde egpaar se kinders? Is daar geen familie wat wonder oor hierdie bejaarde egpaar nie? Ja die lewe is duur en swaar, maar mens smyt nie jou ouers weg nie.

Marli ·

Wat my ontstel is die ‘ Verhuurders ‘ wat geld vra vir hierdie onmenslike leefs-omstandighede. A nee a man, as jy ‘n kamer spaar het, laat die mense ten minste gratis woon!

Gennet ·

Dit maak my siek om te hoor dat desperate mense so uitgebeit word!! R1000 huur vir n garage is belaglik!

H J Bester ·

Kom ons vergeet van hierdie hartelose Verhuurders en sorg dat ons elke dag ‘n geldjie of kos gee vir hierdie sorgbehoewendes om van te leef. Dis ons uitlewing van naasteliefde !

Linda Holmes ·

ja,ek vra ook: waar is daardie bejaardes se kinders en familie? Ek en my man, is pensioenarisse en het beplan – maar ons het oor so baie dinge wat gebeur, ni beheer nie, hier sowel as oorsee in die ekonomie ens. sowel as die onsaglike verhogings in die maandelikse bydrae van siekefondse, ens ens. Dis ALLES buite ons beheer – jy kan beplan tot jy frieken blou is…. eventually word jou maandelikse inkomste (wat 10 jaar gelede meer as genoeg was) net minder. Ons het dierbare kinders wat daar is vir ons maar hoe gaan hulle pensioen beplanning in die toekoms lyk met dinge wat ook miskien gaan gebeur wat buite hulle beheer is? Gelukkig weet ons wat ook al gebeur, HY sal ons deur alles dra.

Marissa vN der walt ·

Ek wonder ook altyd hoe mems deur jou dag kom terwyl jy weet jou ma/ suster of wie ookal van jou, kry koud, is honger en het dalk pyn terwyl jy kon gehelp het. Maak net nie sin nie

Sanet Jansen van Rensburg ·

Ek verstaan al die vrae van ons lesers oor die betrokkenheid van familie en in die besonder kinders. Ek herinner u net graag daaraan dat daar mense is sonder kinders of familie of in hierdie geval – ‘n 27 jarige gestremde seun en ‘n werklose dogter. Nou hoe gemaak met hulle? Ons moet ook verantwoordelikheid vir ons medemens help dra. Daarom kan kerke en welsynsorganisasies betrokke raak indien ons van die mense in nood bewus is. Deur finansiële bydraes kan lede in die gemeenskap ons organisasies instaat stel om die nodige professionele dienste te lewer. Dankie vir almal wat al hulp in watter vorm ookal aangebied hier. Potchefstroom Dienssentrum het werklik groot waardering.

melissa ·

Sanet kontak gerus vir pro-upholstering Potchefstroom praat met fienie of willem botha op 082-5855872 hulle is baie betrokke met liefdadigheids werk en ook baie in die gemeenskap betrokke ek is seker as iemand van die diens sentrum met hul kontak maak sal hul met liefde erens kan uit help met iets,

Sanet Jansen van Rensburg ·

dankie Melissa, ek sal hulle kontak. Mooi dag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.