Humphrey die seekoei byt eienaar dood

Marius Els saam met sy seekoeibul, Humphrey. Foto: Facebook

ʼn Bekende wildboer van Orkney, Marius Els, is Saterdagaand deur sy mak seekoeibul, Humphrey, doodgebyt.

Volgens berigte is Els (40), ʼn majoor in die weermag, deur Humphrey aangeval en doodgebyt op sy plaas naby Viljoenskroon. Hy is glo die water ingesleep en doodgemaak. Humphrey is glo kort hierna doodgeskiet. Els het die afgelope paar jaar opslae gemaak na plaaslike en oorsese koerante berig het van die besonderse band tussen hom en Humphrey. Els het Humphrey sowat vier jaar terug begin versorg nadat hy as kalfie tydens ʼn vloed gered is. Vroeër vanjaar moes ʼn oupa en sy kleinseun uit ʼn boom gered word nadat Humphrey hulle glo gejaag het en hulle in die boom moes wegkruip. Els het Humphrey egter met ʼn appel weggelok en hulle is uit die boom gered. Els word oorleef deur sy vrou.

Die video is deur die gebruiker barcroftmedia op Youtube gelaai:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.