“Hy het my kind vrek geskiet”

Johan Kotzé gister in die hoogeregshof in Pretoria. Die foto is deur @LielaMagnus op Twitter gelaai.

“Hy het my kind vrek geskiet.” Dit was glo Ina Bonnette se eerste woorde nadat sy haar vermoorde seun se liggaam gesien het.

Johan Kotzé, die sogenaamde ‘Modimolle-monster’, wou nie gister in die hooggeregshof in Pretoria pleit nie en die hof het ʼn pleit van onskuldig aangeteken. Kotzé se medebeskuldigdes Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka het skuld ontken op die aanklagte teen hulle en ʼn verweer van relatiewe dwang aangevoer. Kotzé en sy medebeskuldigdes word aangekla van die verkragting en marteling van Bonnette en die moord op haar seun, Conrad. Die voorval het op 3 Januarie plaasgevind.

Conrad se beste vriend, Marthinus Cloete, het gister getuig dat hy en Conrad by die gimnasium was toe Kotzé vir Conrad gebel het en vir hom gesê het hy wil iets met hom bespreek. Conrad het glo gesê dit is vreemd dat Kotzé van sy ma se foon af bel en dat hy bekommerd is oor haar. Toe Cloete en Conrad by Kotzé se huis aangekom het, het hy hulle glo vriendelik gegroet. Hy het glo aan hulle gevra of hulle hom sal help pak. Kotzé het vir Cloete gevra om ʼn krat in die motorhuis te gaan haal terwyl Conrad saam met hom in die huis in is. Na ʼn ruk is Cloete ook die huis in en het hy gesien Kotzé se motor is weg. Hy het Conrad probeer bel en vir hom ʼn SMS gestuur. Cloete het getuig dat Vivienne van der Merwe by die huis opgedaag het en dat sy aangedring het dat hulle in die kamers kyk. “Ek is na die kamer toe en het Conrad gevind waar hy op sy sy gelê het. Ek het bloed gesien. Toe is ek na die ander kamer…Vivienne was besig om Tannie Ina los te maak. Die tou is aan die venster vasgemaak. Conrad se ma was frantic. Ek het bloed op haar gesien. Sy het gevra waar is die drie mense wat haar verkrag het.” Cloete sê Bonnette is na die ander vertrek waar sy Conrad se liggaam gesien het en gesê het: “Hy het my kind vrek geskiet.”

Bonnette getuig vandag wanneer die verhoor voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trudie ·

Hier is nou iets wat ek nie mooi kan verstaan nie. Hoe lank het dit die Cloete gevat om ‘n krat in die motorhuis te gaan haal en ook dat hy dan niks gehoor het nie. Dit is ook eerste keer dat ek van die man hoor. Dit moes Kotze en sy trawante ‘n ruk geneem het om die vrou so te verkrag en te martel, sy het geskreeu en Cloete het niks gehoor nie?? Ook nie toe Kotze gery het nie? Nee, iets klink nie lekker vir my nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.