“Hy wou net Malema ontmoet”

Julius Malema, leier van die EFF. Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, leier van die EFF. Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Weduwee van Limpopo, wie se man in Relela naby Tzaneen glo deur ʼn polisiebeampte doodgeskiet is, het Donderdag gesê haar man wou net vir Julius Malema, die leier van die Ekonomiese Vryheidvegters (EFF), ontmoet.

Dikeledi Selebe (22) het gesê haar man, Stanley Selowa (26), was Dinsdag omstreeks 18:00 op pad na ʼn EFF-vergadering in die informele nedersetting toe hy geskiet is.

“Stanley het gerugte gehoor dat Julius Malema Relela sou besoek om met betogers te praat,” het Selebe aan ʼn SAPA-korrespondent gesê. “Stanley het nie eens omgegee waaroor die inwoners betoog nie. Al wat hy wou doen, is om vir Malema vir die eerste keer in sy lewe persoonlik te ontmoet. Min het hy geweet dit sou die laaste dag van sy lewe wees.”

Selebe en Selowa het ʼn twee maande oue babadogtertjie. “Wat gaan ek nou doen? Ons het oorleef met los werkies wat Stanley gekry het. Ek is werkloos en kry nie ʼn maatskaplike toelae vir my kind nie,” het sy gesê.

Selowa se ouma, Mma-Nakampe Selowa (77), het gesê haar kleinseun se dood is sinneloos. “Hy was nie eens deel van die betoging nie. Ek het my kleinseun gewaarsku om nie uit die huis uit te gaan nie want die situasie in die gebied was gespanne,” het sy gesê. “Hy het belowe dat hy nie sal uitgaan nie. Ek was so geskok toe sy suster, Emmah, gesê het hy is deur die polisie geskiet. Nadat ek van die skietery gehoor het, het ek na die toneel toe gehardloop, maar die polisie het my gestop. Ek kon nie eens naby hom gaan nie, die polisie het my gedreig.”

Die gemeenskap betoog sedert verlede Vrydag nadat die liggaam van ʼn vrou, Khomotso Raolane, in die omgewing gevind is. Maroela Media het oor die gru-moord berig. Die 20-jarige vrou se liggaam, wie se hande afgesny is, is Vrydag dood aangetref in Limpopo met haar selfoon en sleutels in haar oopgesnyde maag. Die polisie het toe gesê hulle kan nie die moontlikheid uitsluit dat dit ʼn ritueelmoord was nie. Die gemeenskap is ontstoke omdat hulle voel die polisie doen nie hulle werk behoorlik nie en hulle kon ook nie die slagoffer se vermiste liggaamsdele opspoor nie.

Die polisie het Saterdag twee mans ondervra in verband met haar moord, waarna die gemeenskap gewelddadig geraak het. Die twee mans en die slagoffer se kêrel se huise is aan die brand gesteek. Die twee mans is intussen vrygelaat, aangesien hulle nie aan die vrou se moord verbind kon word nie.

Die polisie het tydens die brandstigting ingetree en glo ʼn 15-jarige seun, Tshepo Baloyi, doodgeskiet. Ballistiese toetse word nog gedoen om te bepaal watter beampte die tienerseun geskiet het.

Selowa en Clearance Molele is Dinsdag glo deur die polisie doodgeskiet nadat 1 500 gewelddadige betogers, gewapen met petrolbomme en klippe, die satelliet-polisiestasie in die gebied aangeval het.

Molele se ouma, Annah Maredi (66), het ook gesê dat sy haar kleinseun gewaarsku het om nie na die betoging te gaan nie. “Ek het hom gewaarsku om nie te gaan nie, maar hy het nie geluister nie. Kyk wat het nou gebeur, ek kan nie eens bekostig om hom te begrawe nie,” het sy gesê. -SAPA

Lees ook:
Polisie skiet glo 2 wat betoog oor vrou se gru-dood
Sesde polisie-skietdood vir jaar ná vrou se wrede moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

Die vrou moet maar uitspring en loop werk soek …. In tussen kan sy die polisie vir miljoene dagvaar omdat hulle haar man geskiet het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.