Die internasionale atletiekliggaam, IAAF, het gesê Oscar Pistorius sal toegelaat word om aan hierdie jaar se wêreldkampioenskap deel te neem indien hy kwalifiseer.
‘n Regter het Donderdag beslis dat Pistorius, op sekere voorwaardes, buite Suid-Afrika mag reis om aan wedrenne deel te neem nadat hy appèl aangeteken het teen sy streng borgtogvoorwaardes. Pistorius word van die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, aangekla.
Yannis Nikolau, woordvoerder vir IAAF, het in ‘n verklaring gesê daar sal geen beswaar van die wêreldliggaam wees indien Pistorius deelneem nie. “Ons onderskryf die beginsel van onskuldig totdat jy skuldig bevind word, en dit staan hom dus vry om te hardloop,” het Nikolau gesê. Hy sê die besluit of Pistorius aan ander wedrenne mag deelneem sal deur die betrokke organiseerders gemaak moet word, en berus nie by die IAAF nie.