Identiese tweeling ontmoet mekaar ná 24 jaar

Yang Yanfei (links) en Bao Lulin (regs)

‘n Vrou, wat gereeld deur vreemdelinge met iemand anders verwar is, het toe haar tweelingsussie opgespoor.

Bao Lulin, wat as ‘n kelnerin in Jiuyang, Sjina, werk, sê klante het haar gereeld met iemand anders verwar. In Junie 2009 het sy ‘n familielid by sy vrugtestalletjie gehelp toe vier vroue haar nader en die een opmerk, “Is jy terug van Fujian-provinsie? Hoekom het jy ons nie gesê nie?” Lulin het dié vroue egter nie geken nie.

‘n Paar maande later het ‘n middeljarige man haar genader en gesê, “jy lyk presies soos een van my familielede!” ‘n Tiener het kort daarna by die restaurant opgemerk, “Yanfei, werk jy nou hier?”

Lulin het besluit om na haar doppelgänger te soek. Sy het egter swanger geraak en moes die soektog vir drie jaar uitstel om eers na haar seuntjie om te sien.

In Oktober vanjaar het iemand Lulin weer met Yanfei verwar, en sy het van die geleentheid gebruik gemaak om haar doppelgänger op te spoor. Yang Yanfei, wat ook in Jiuyang bly, was glo besig om met haar seuntjie by die huis te speel toe haar skoonma haar skielik roep, “Yanfei, kom nou dadelik hier!” By die deur het dit gevoel of sy in ‘n spieël kyk, toe sy vir Lulin sien.

“Dit het gevoel of ons mekaar al jare lank ken,” het Lulin gesê. Die identiese tweeling is as babas deur verskillende gesinne onder Sjina se eenkind-beleid aangeneem.

Beide sussies het in 2007 getroud, beide hul mans het dieselfde naam – Bin, en hul seuntjies lyk ook byna dieselfde. Hulle deel ook soortgelyke persoonlikhede, stokperdjies en geniet dieselfde soorte eetgoed. Hulle het selfs dieselfde litteken op hul vingers ná soortgelyke ongelukke plaasgevind het toe hulle ses jaar oud was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.