“Ideologie van rasseverteenwoordiging is wetlik en moreel bankrot” sê Solidariteit

Die ideologie van rasseverteenwoordiging is wetlik en moreel bankrot, het die vakbond Solidariteit Donderdag oor die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming gesê in ʼn voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid. Volgens Solidariteit is verteenwoordigendheid niks anders nie as ʼn maatskaplike manipulasieprogram wat strydig is met die wet aangesien dit op kwotas neerkom.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, het gesê die uitsetgebaseerde syferbenadering tot regstellende aksie respekteer nie Suid-Afrika se ryk kulturele diversiteit nie, maar poog eerder om die land oral dieselfde te laat lyk. “Die beleid het absolute plafonne vir minderhede wat geld as hulle volgens die nasionale rassedemografie op enige plek oorverteenwoordig is. Die benadering het niks meer met regstelling te doen nie, maar alles met ras. Die mens word uit regstellende aksie gehaal en met syfers vervang.”

Kruger het gesê die huidige wet bepaal dat ’n aantal faktore in ag geneem moet word wanneer ’n werkgewer se voldoening aan die wet bepaal word. Dit sluit die volgende in: die beskikbare poel van mense met geskikte kwalifikasies; ekonomiese en finansiële faktore; die sektor waarin die werkgewer sake doen; die beskikbaarheid van vakante poste; en die personeelomset. “Ten spyte van fel kritiek op die vorige wysigingswet se identiese voorstelle, skrap die nuwe wysigingswet steeds hierdie bepalings en die faktore wat nie geskrap word nie, hoef ook nie meer noodwendig in ag geneem te word nie. Die wysigings sal die regering in staat stel om die nasionale rassedemografie af te dwing en unieke streeksverskille buite rekening laat. Artikel 42(2) en 42(3) van die nuwe wysigingswetsontwerp stel die minister van arbeid in staat om regulasies uit te vaardig wat enige aangewese werkgewer kan dwing om sy personeelkorps op elke posvlak en in elke werkplek ’n weerspieëling van die nasionale rassedemografie te maak.”

Kruger het gesê Solidariteit het tydens sy voorlegging ʼn alternatiewe model vir regstellende aksie voorgestel wat opleiding en ontwikkeling van die aangewese groep benadruk. “Hiervolgens is die fokus van regstellende aksie op primêre skoolvlak. Soos die onderwysstelsel verbeter, word vaardigheidsvoorsiening en die arbeidsmag meer verteenwoordigend. Die verbetering in die voorsiening van vaardighede lei tot ‘n ekonomiese inspuiting wat lei tot groei en werkgeleenthede. Ongelykheid, armoede en werkloosheid word sodoende aangespreek.”

Solidariteit het ook weereens gevra vir ʼn parlementêre en nasionale debat oor regstellende aksie en dat die uitkoms ʼn nuwe nasionale konsensus hieroor sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae