Implementering van die NOP sal Suid-Afrika se ekonomie skaad

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) sal Suid-Afrika se ekonomie ernstige skade berokken. Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, gaan hierdie organisasie ʼn veldtog van stapel stuur om sakelui in te lig oor die versteekte kostes wat hierdie plan inhou. Dit volg in reaksie op die adjunk-president van die ANC, Cyril Ramaphosa, se pleidooi dat die NOP nou gedelimiteer behoort te word.

“Die beoogde inperking van eiendomsreg, die aftakeling van ʼn onafhanklike regbank en die verdringing van die privaat én burgerlike sektore is genoeg rede om ernstige voorbehoude oor die NOP te hê”, het Jansen van Rensburg gesê.

Indien die NOP se voorstelle rondom grondhervorming byvoorbeeld toegepas sou word, sal dit ʼn basis skep vir die staat om ook op die herverdeling van ander bateklasse te kan aandring. Gevolglik sal howe wat volgens die NOP, “seker moet maak dat die voordele van ontwikkeling die armste en mees uitgesluite groepe moet toeval en alle pogings van die elite om hulle eie belange te beskerm ten koste van minder invloedryke gemeenskappe moet teenstaan”, nie meer ʼn onafhanklike arbiter wees nie.

Dit is kommerwekkend dat die NOP nie ag slaan op die suksesse van die privaat sektor ten opsigte van onderwys- en gesondheidsdienste nie. Sentralisering en groter staatsbeheer word eerder as oplossings vir byvoorbeeld die land se swak onderwys- en gesondheidstelsels beskou.

“Ten einde die NOP behoorlik te kan evalueer, moet ons dieper delf as die oënskynlike groei-vriendelikheid daarvan. By nadere ondersoek kom ons af op ernstige skendings van eiendomsreg en ʼn sterk herverdelingsingesteldheid, maar nie ekonomiese groei nie. Enigeen wat die plan lees sal sien dat die planne vir uitgawes baie meer is as die planne vir inkomste. Dit hou noodwendig ʼn swaarder belastinglas vir Suid-Afrikaners in,” het Jansen van Rensburg gesê.

Die staat behoort eerder aan die miljoene mense in tradisionele gebiede, informele nedersettings en Hop-huise volle eienaarskap van die eiendom waarop hul tans woon oor te dra. Dit sal miljoene mense toegang tot kapitaalmarkte en die breër ekonomie gee. “Die staat besit tans hierdie grond en indien dit op die ope mark beskikbaar sou raak, sal vraag en aanbod die gewenste uitwerking op eiendomspryse hê en sodoende eiendomsbesit nog meer bereikbaar vir mense maak,” het Jansen van Rensburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.