ANC-helkampe: ‘Niemand weet hoeveel mense is vermoor nie’

Argieffoto

Argieffoto

As daar een stukkie van Umkhonto we Sizwe (MK) se geskiedenis is waaroor hulle liefs nie wil praat nie, is dit die wreedhede van die “vryheidsvegters” se eie gevreesde veiligheidspolisie, Mbokodo, in aanhoudingskampe in soos Quatro in Angola. De Wet Potgieter het gaan kyk na die grusame menseregtevergrype wat Mbokodo gepleeg het.

In die boek, Mbokodo, Inside MK: Mwezi Twala- A Soldier’s Story, skryf Twala en Ed Benard oor die oorsprong van die benaming Mbokodo:

“Dit is ʼn Xhosawoord wat ‘meulsteen’ beteken. Dit was die naam van die sekuriteitstak van die African National Congress se gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe, want dit het sy mense op dieselfde wyse waarop ’n meulsteun mielies tot meel vergruis,  ‘gemaal’.

Paul Trewhela wat vroeër jare die ondergrondse redakteur van MK se mondstuk, Freedom Fighter, was, beskryf Quatro as erger as enige tronk van die ou apartheidsregering, dieselfde tronke wat as ʼn misdaad teen die mensdom beskou word.

In sy boek, Inside Quatro: Uncovering the Exile History of the ANC and Swapo (2010), skryf Trewhela dat Zaba Maledza, ʼn voormalige aangehoudene in dié kamp, se saaklike beskrywing die beste is: “As jy daar beland kan jy maar vergeet van menseregte.”

Daar was drie kommissies van ondersoek na die wandade in die ANC-helkampe, maar soos dit vandag gaan met die regering wat alles van Nkandla, Marikana, Al Sjabir, tot Guptagate eenvoudig net onder die mat invee, hang die skandale van hul eie Vlakplaaseenheid, Mbokodo, soos ’n ou geraamte, steeds in die ANC se hangkas.

Die ellende van die helkampe het eintlik begin die dag toe die ANC agtergekom het dat sy kaders in “exile”  wêreldwyd  geïnfiltreer is deur spioene van die apartheidsregering.

Op 14 Maart 1979 het twee Canberra-bomwerpers van Ondangwa in Namibië opgestyg en die ANC-vesting, Nova Catengue naby Lobito in Angola, flenters gaan skiet. Meteens het die ANC-leierskap lont geruik en dit het absolute paranoia en agterdog in die geledere van die uitgeweke ANC-leierskap veroorsaak. Hulle het begin om spioene om elke hoek en draai te soek. Vir die leierskap was dit te dik vir ʼn daalder dat die aanvalsvliegtuie só presies geweet het waar om die strategiese stellings te bombardeer. Hulle was oortuig daarvan dat daar spioene in hul midde was.

Na die lugaanval word Ruth First, Joe Slovo se vrou, in 1982 in Maputo deur ʼn briefbom opgeblaas. Pallo Jordan en ander ANC-lede was in dieselfde vertrek en is ernstig in die ontploffing beseer.  In 1985, 1986 en 1987 is ANC-teikens in Botswana, Swaziland en Zambië aangeval waar kaders óf dood, óf gewond is.

Uit die paniek wat hieruit gespruit het, is die Quatro-kamp opgerig onder die dekmantel van ʼn “rehabilitasiesentrum” vir spioene en mense wat onder verdenking was. Die plan was om die afvalliges te rehabiliteer in ʼn omkeerstrategie. Dit herinner vandag nogal baie aan die manier waarop die Vlakplaaseenheid van Eugene de Kock voormalige MK’s as die sogenaamde Askari’s in die stryd teen die ANC gebruik het.

Die Motsuenyane-verslag, die laaste van die drie kommissies van ondersoek, het in 1993 bevind dat Quatro in ʼn “stortingsterrein” ontaard het waar almal saamgegooi is – van mense wat in onguns by die Mbokodo verval het tot mense wat van spioenasie verdink was en gewone misdadigers in hul eie geledere.

“Hulle is almal gemartel, sleg behandel en verneder,” het Motsuenyane bevind. “As mens nou daarna kyk, is Quatro sonder enige beplanning gevestig. Dit was in Angola, ʼn land gewikkel in ʼn oorlog en is deur onervare en swak toegeruste personeel beman. Die eerste kampkommandant was net 19 jaar oud.”

Teen 1983 was daar duisende ANC-lede in verskeie kampe in Angola ontplooi. Baie van hulle was van die skoolkinders wat sedert 1976 se Soweto-opstande landuit gevlug het.  Verskeie opstande en muitery het by die kampe by Viana en Pango plaasgevind. Chris Hani en Joe Modise het verskeie kere probeer om die gemoedere te kalmeer, maar die Viana-muiters is uiteindelik in hegtenis geneem en met vragmotors aangery na Quatro.

ʼn Tribunaal is inderhaas saamgestel en sewe van die muiters is die doodstraf opgelê en tereggestel. Die Stuart-kommissie, die eerste van die drie, is daarna deur Hani aangestel.

In sy verslag verwys Motsuenyane na die Stuart-verslag wat bevind het: “Te veel mag was in ʼn liggaam, wat glad nie deursigtig of toerekenbaar was nie, gesentreer. Mbokodo het ondersoek ingestel, in hegtenis geneem, aangekla en veroordeel. Dit het sy eie slagoffers toegesluit en bewaak en self besluit waar en wanneer wie vrygelaat mag word. Daar kan geen regspleging wees waar dieselfde instelling polisieman, aanklaer, verhoorregter, tronkbewaarder en appèlhof speel nie.”

Volgens Mwezi Twala is die kaders gedurig bedag gemaak op die gevare van spioene in hul midde en een van Quatro se kampkommandante het daarvan gehou om die “die vyand se agente” en enige ander agent provokateurs met smaak in Xhosa te waarsku dat hy die skuldiges aan “hul knaters sal ophang”.

Twala het aanvanklik by ander gehoor van die gruwels van Quatro totdat hy later self ervaar het hoe mense uit hul selle gehaal is en dan vir altyd verdwyn het sonder enige rede. “Baie van hulle is op die een of ander manier vermoor en hul uiteinde was ʼn vlak graf. Ons het gerugte gehoor van mense wat lewendig begrawe is. Sekuriteitsmense met die laagste range en intelligensie, veertien tot agtien jaar oud, het ons meesters geword met die mag van lewe of dood in hul hande,” beskryf Twala die lewe in die helkamp.

Hy sê telkens wanneer selmaats verwyder is, het hulle hulself gedwing om te glo dat hulle elders heen verplaas is. “Ons het verkies om na die positiewe kant te kyk omdat ons die sielkundige vernietiging van die verskriklike waarheid wou vermy. Niemand weet hoeveel mense is vermoor nie… nie eens die ANC-leiers nie.”

Die rede hiervoor is, volgens Twala, omdat MK- en Quatro-skuilname gebruik is. Dit het bygedra tot die verwarring oor wie nou eintlik nog lewe en wie dood is.

In die lig van die oud-Vlakplaasbevelvoerder, Eugene de Kock, se versoenende bereidwilligheid om te help soek na die oorblyfsels van die slagoffers van die vorige regering se wandade, bly daar een brandende vraag oor:

Wat doen die ANC vir die naasbestaandes van daardie slagoffers wat elders in Afrika in ongemerkte grafte lê?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Rooijan ·

Die waarheid is niks. En vra bietjie die volgende vraag wie was verantworrdelik vir die anc se veiligheids afdeling gedurende hierdie tyd. Dan sal almal verstaan watse onreg het daai Malema die land aangedoen toe hy Zuma gehelp het om die anc te kaap in Polokwane. Dit is ook hoekom die anc en inderdaad groot dele vqn ons samelewing te bang is om iets te se oor ons liewe diktator.

SE ·

Almal weet wie agter die dade sit, bloed drup vandag nog uit die laggende leier se hande! Kan net dink hoe het hy gelag terwyl een van sy eie mense gemartel is!! Dit nie die eerste boek daaroor nie en sal ook nie die laaste een wees nie. Die eerste boek het No1 as die leier van die wreedste moontlike marteling uitgewys! Dit seker hoekom niemand bereid is om op te staan teen hom nie. Hulle weet waarna toe hy in staat is

Fanie ·

Hoekom word hulle nie vervolg vir hulle misdade nie. Of is hulle onaantasbaar. Is dit ‘n kwessie van: Die verkeerd is reg en die reg is verkeerd.

Winston ·

Dit is so tipies van Afrika. Net met mag word regeer en teenoor niemand in die wêreld aanspreeklik nie. Hierdie saak moet ook deur n internasionale hof verhoor word, soos die Nazis verhoor is. Dis die enigste manier. Die ANC het bestaan uit terroriste wat skielik n land kan regeer. Hulle sogenaamde leiers moet almal verhoor word vir mense regte skendings oor kleurgrense heen. Dit was nie net Eugene De Kock nie maar ook die ander kant se moordenaars, wat verhoor moes word. Apartheid is nie die enigste beskuldiging as dit oor reg en verkeerd gaan nie. Maar as jy swart is en in beheer, is jy reg.

Bruno Stef ·

Ek het Mwezi Twala self in die laat 1980 begin 1990 ontmoet nadat hy n simboliese doodskis wat met die vierkleur vlag gedrapeer was voor die SAUK se hoofingang gedra en afgelewer het na laasgenoemde instansie die NP se mondstuk alle ander sieninge van onderhandelinge net eenvoudig die middel vinger gewys het.Hoe ironies is dit nie dat mense daardie tyd al die gevaar vorentoe kon sien behalwe die dikvellige NP en die broederbond.n Swartman het ons gewaarsku maar ons het met oogklappe aan die Liberale siening blindelings gevolg en sit nou met die vrese wat die mense destyds gehad het .

Berhalet Beukes ·

Ja, oor hierdie gruweldade word daar geswyg, dis mos blankes wat die “wrede” nasie is!

Han ·

“Al jaag die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal dit wel”. Of dit 20, 30, 50 jaar of langer is, die waarheid kom uit. Níks kan vir die Almagtige God weggesteek word nie, al probeer die mens hóé hard en voor Hom sal elkeen moet rekenskap gee. Hierdie wreedaards se brawade is van korte duur.

Dit-is-So ·

Ek stem saam met jou Han. Die WVK was darem regitg eensydig as mense na hierdie goed kyk. Ek vra my mede Maroela’s om hierdie berigte lekker wyd te versprei.

Gertjie ·

Dit sal alles soos mis voor die son verdwyn soos Winnie se dade in die ANC.

Dries van der Merwe ·

Ek het ‘n vriend Lohiso Matoti (verlede jaar 14 November dood), wat Quatro oorleef het. Hy het gese dit was hel. Sy gesondheid het as gevolg daarvan ‘n permanente knou gekry. Hy was aangekla as ‘n spioen vir die appartheids regering. Vreeslik gemartel. Die littekens van die martelings was tot sy dood sigbaar. Vermiste toonaels, af vingers en tone. Hy het my “hooror” stories vertel. Mense wat nou in hoe posisies in die regering is wat nog nooit onder ondersoek gekom het nie! Nodeloos om te se dat toe hy terug in die RSA kom was hy nie meer ANC nie…………………..

Piet ·

Hul hoef slegs die president te vra want hy was bekend as die “butcher” wat onderhoriges op die wreedaardigste wyse vermoor het. Hy het gehou van baie bloed en ……
Dit is waarom die plaasmoorde so wreedaardig is……op instruksie ?? Kan nie bewys Maar….

Mark ·

Daar is beweringe dat mense halflyf in die grond geplant was en dat #1 dan met ‘n pistool geloop en hulle een vir een in die kop gelooi het. Is daar bevestiging hiervan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.