Video: Die vuurpyl en Denel se geheime

Die Universiteit van KwaZulu-Natal se Phoenix-vuurpyl op die lanseerplatform by die Denel Overbergse Toetssentrum buite Arniston.

Die klein vuurpyl staan gereed op die lanseerplatform neus na bo ­– 15 km vanwaar ons na die lansering sal kyk, by die Denel Overbergse Toetssentrum buite Arniston.

Dit is ʼn warm, winderige dag. Dié wind moet net nie 10 m/sek verbysteek nie, dan sal die lansering uitgestel moet word.

Vyf minute voor die tyd word alle stelsels nagegaan. Is dit: “Go or no go?”

Elke persoon wat by die sendingbeheer na ʼn spesifieke afdeling omsien, moet positief antwoord, anders is daar geen lansering nie. Almal stem saam: “Go”. Ons staan in die galery en kyk af na die sendingbeheerkamer, waar dit redelik donker is, sodat almal op die skerms voor en bo hulle kan sien.

Dit is 14:30. Maandag 18 Februarie. Die spanning loop duidelik hoog. Niemand praat veel nie. Almal se oë is op die monitors voor hulle gerig.

Dit voel of die tyd nou vinniger verloop wanneer dit afgetel word. Of jy dalk iets gaan misloop as jy vir een oomblik wegkyk. Ons mag nie foto’s van die lansering self, spesifiek vanaf die galery neem nie, was die streng opdrag van die Denel Overbergse Toetssentrum (OTR). Ons mag voor die lansering wel foto’s neem. Ons mag net kyk en luister.

Dit is ʼn “sekuriteitskwessie” is ons vertel. Maar hoekom presies weet ʼn mens nie. Daar is wel kameras van fotograwe by die platform gelaat, wat gestel is om sowat 10 sekondes voor lansering te begin opneem. Hulle hoop maar hulle toerusting is veilig.

By die hekke moes ʼn mens inteken en ook jou rekenaar en kamera – wat jy net soms mag gebruik – se reeksnommers verskaf. Maar hulle kyk nie weer daarna wanneer jy uitry nie. Ons mag net van die lanseerplatform self foto’s neem en van die betrokke projek maar van niks anders nie.

Dit is ons baie duidelik vertel, en ʼn lang lys reëls is vooraf aan ons gestuur. Ek besluit om liewers nie van die diere of fynbos af te neem nie. ʼn Mens weet nooit nie.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal se Phoenix-vuurpyl op die lanseerplatform by die Denel Overbergse Toetssentrum buite Arniston.

Die vuurpyl is ontwikkel en gebou deur die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se Aerospace Systems Research Group, met geld voorsien deur die departement van wetenskap en tegnologie.

Dit is hulle derde vuurpyl, en die tweede een wat lanseer sal word van hier af. Dié een staan bekend as die Phoenix-1B. Dit is ʼn navorsingsvuurpyl, maar dié een het nie ʼn loonvrag op nie, die groep toets die vuurpyl se stelsels en sy vermoë.

Die Phoenix is 5 m lank, en sal 15 km hoog vlieg (die maksimum is 20 km). Sy maksimum spoed is twee keer die spoed van klank, verduidelik Jean Pitot, dosent in meganiese ingenieurswese aan die UKZN. “Dit is nie ʼn beheerde vlug nie, maar ons moet talle scenario’s uitwerk waar dit sal neerkom. Ons weet dit is sowat 18 km van hier af, in die see. Dit tref die see teen die spoed van klank, so dit verpoeier met impak – daar sal niks oor wees nie, en geen toksiese stowwe is aan boord nie. Ons doen ook talle omgewingstudies voor die tyd,” verduidelik hy.

Die lanseerfasiliteit is 46 000 hektaar groot en bestaan ook uit 70 km se kuslyn waartoe mense nie toegang het nie, verduidelik Abrie van der Walt, die uitvoerende hoofbestuurder van Denel se Overbergse Toetssentrum. Dit bestaan uit ʼn groot area in die see en die lugruim is ʼn geenvliegsone.

Die vuurpyl is ʼn hibried, verduidelik Pitot. Die aandrywing is deur stikstofoksied (laggas) en dan paraffienwas vervaardig deur Sasol. Die meng van die twee, wat in verskillende tenks is en dan deur ʼn tipe sproeipyp gevoer word, is beide koste-effektief en veiliger as om twee vloeistowwe met mekaar te meng.

Die Phoenix-1B, wat 88 kg weeg, se top stukrag is 700 kg. ʼn Variant van die vuurpyl word aanstaande jaar gelanseer.

Dr. Mike Brooks, ook van die navorsingsgroep, het verduidelik so ʼn tipe navorsingsvuurpyl kan tot 1 500 km die ruimte ingestuur word, maar hy gaan nie in ʼn wentelbaan nie. Hy lewer sy wetenskaploonvrag af, of dié begin reeds data versamel sodra hy lanseer word. Die vuurpyl val terug aarde toe en die loonvrag keer terug met ʼn valskerm. Maar alles keer weer terug, daar is geen omwentelings nie.

Pitot vertel eksperimente oor astrofisika, biotegnologie, meteorologie en vele meer kan met sulke vuurpyle – wat tussen 3 m en 20 m lank kan wees – opgeneem word.

ʼn Ent van waar die vuurpyl reeds gereed staan vir lansering teen 10:30, is ʼn blokhuis waar die navorsers alles sal sit en dophou. Daar is ʼn hoëspoedkamera wat met afstandsbeheer opnames sal maak. Die fotograwe plaas ook hulle videokameras daar.

Die sendingbeheer by die Denel Overbergse Toetssentrum buite Arniston, kort voor die lansering van die Universiteit van KwaZulu-Natal se Phoenix-vuurpyl.

Ons keer terug na ʼn ouditorium waar Van der Walt ʼn voorlegging doen. Onder aan elke bladsy staan: “Restricted”. Jy mag nie foto’s daarvan neem nie.

Denel se leuse is: “Performance. Integrity. Innovation. Caring. Accountability.”

Die volgende oomblik wys hy video’s van missiele wat hulle daar getoets het. Sonder om ʼn woord te sê oor wat dit is. Jy sien net bolle vuur, stukke beton wat spat en stof. Die gesig van oorlog. Verwoesting.

“Ons is baie trots op wat ons hier doen,” sê hy. Wapens word gekalibreer in ʼn omgewing soos in die regte lewe. Tussendeur is daar foto’s van diere van die De Hoop-natuurreservaat – wat in die middel van twee eiendomme van Denel sit. Onderweg na die lanseerplatform het die wetenskaplikes twee keer gestop om skilpaaie uit die pad te tel.

Die kontras tussen die toets van dodelike wapens, die reservaat en die toon van die video’s is amper surrealisties. Daar is “dienslewering”, en kliënte wat “baie tevrede” is. Boef! Dan tref nog ʼn missiel, maar die klank is afgeskakel.

“Die meeste sisteme wat ons toets kan maklik na Kaapstad vlieg,” sê Van der Walt. Daar is figuurlike lyne wat met radar in die see getrek is, wat hulle darem monitor, en daar is knoppies wat gedruk word en dan val die wapen in ʼn veiligheidsone. Of so iets.

Die volgende oomblik sien jy vinnig die woord “Taurus” en ʼn missiel tref ʼn betonhuisie dat die stukke spat. Dan tref dit skeepsvraghouers. Ewe onstellend. “Afstandbeheerde teikens word al hoe belangriker vir ons kliënte.”

Die volgende teiken is ʼn ou BMW wat op een van die terrein se grondpaaie getref word. Daar is ʼn gat en stukke BMW oor. Wie sou wou weet wat gebeur met ʼn BMW iewers op ʼn grondpad. Suid-Afrika? Private kontrakteurs, Duitsland, Singapoer, een van die ander kliënte?

Die sendingbeheer by die Denel Overbergse Toetssentrum buite Arniston, kort voor die lansering van die Universiteit van KwaZulu-Natal se Phoenix-vuurpyl.

Die kliënte is tevrede, vertel hy, met die vertroulikheid van die data, die sekuriteit, geheimhouding. Maar ʼn mens bly wonder wie is die slagoffers van dié wapens wat hier op eie bodem getoets word. Waar word ʼn ou BMW elders in stukke geskiet omdat ʼn toets hier gewerk het?

Die lansering is om 13:30, maar omdat daar ʼn fout met een van die hoëspoedkameras is, word dit met ʼn uur uitgestel. Kort voor die tyd, sê dr. Phil Mjwara, direkteur-generaal van die departement van wetenskap en tegnologie, hy hoop eintlik die lansering is nie ʼn sukses nie, want baie word geleer wanneer iets fout gaan.

Sedert daar met die program by die UKZN begin is, in 2010, is R15 miljoen daarin belê, maar dit sluit geld in wat nog toegewys sal word in die toekoms vir nog navorsing. Hy het aan Maroela Media gesê die plan is om vuurpyle met klein loonvragte of nanosatelliete aan boord die ruimte in te stuur, omdat dié manier veel goedkoper is. Die hoop is om dit binne vyf jaar te doen.

Dit is 14:36.

Net voor minus 30 sekondes. Die aftelling gaan nou begin.

Toe skielik gaan staan die horlosie op minus 30 sekondes. Die lansering word vir eers teruggehou.

Die drade wat die twee brandstoftenks met mekaar verbind het – op 4 minute – het nie outomaties van mekaar gediskonnekteer nie. Dit gaan nou met die hand gedoen word.

‘n Wetenskaplike kniel by die vuurpyl nadat hy teruggeval het grond toe, verslae. (Die foto is van ‘n monitor af geneem)

Iemand stap nader en trek dit weg.

Die aftelling begin weer op 14:41. Op vier sekondes voor lansering begin die ontbranding. Jy sien die vlamme.

En weg is hy. Dan kort daarna: “Ons het niks, ons het niks”. Die radar spoor nie die vuurpyl op nie. Die opname stop.

ʼn Minuut later sien jy die stert van die vuurpyl op die lanseerplatform lê. Dit was onsuksesvol. Dit is stil; mense praat nie.

Weens veiligheid moet die span in hulle blokhuis bly vir ʼn halfuur. Toe hulle uiteindelik uitstap, sien jy hulle staan, hurk en sit by die stukke. Verslae.

Wat die oorsaak was, weet hulle nie, maar ʼn forensiese ondersoek sal gedoen word. “Net een ding kan verkeerd gaan, en dan loop alles verkeerd. Die sisteme waarmee ons werk is onvergeeflik,” sê Brooks.

Video met vergunning van en krediet aan Bertram Malgas/Eyewitness News:

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

D B ·

Was dit nie vir vandag se begroting nie, kon hierdie dalk die grootste grap nog van die jaar gewees het.

Pallas ·

Daai was meer soos 15 meter hoog. Dalk moes hulle hom nie by Denel se toetsgronde getoets het nie, niks werk gewoonlik by ons staatsbeheerde instansies nie.

Trotse Deneller ·

Elsabe – Jou negatiewe toon in die berig is heeltemal ongegrond. Net omdat jy nie die tegnologie en prosesse verstaan nie beteken nie dit is lagwekkend of dom of wat ookal nie. Die mense wat daar werk is van die skerpste breine in die wêreld, nie net in Suid Afrika nie. Daar is redes vir elke ding wat gedoen word. As hulle nie jou kameras na die tyd deurgegaan het nie is dit dalk omdat hulle jou heelpad dopgehou het en gesien het jy het by die reëls gehou…

B-man ·

Net Denel se toetsgronde is gebruik, dis sekerlik UKZN se studente wat nog baie moet leer.

Elsabe Brits ·

Anonieme Deneller: “Dom en lagwekkend” – die woorde het ek nie gebruik nie. Ek het wel na die dodelike wapens verwys . . . Dis my mening. Tegnologie nie verstaan nie? Ek dink nie so nie. Lol.

Hendrik ·

Sal op my agterstoep ń amateur vuurpyl bou wat beter presteer en dit sonder om duisende rande te mors! Die heel spul is een groot skande. Denel is 50 jaar agter met waar Krygkor voor 1994 was. SIES!

Hendrik van George ·

Ek het haar skrywe geniet. Oordrewe ” mag-nie-sê” twak soos hier beskryf, was nog altyd lagwekkend. Dan val die vuurpyl met sy “gat” eerste net so meter of twee van die lanseerder af… Lekker lag ek nou.

John ·

Kyk, ek sal ook sulke bog aanjaag om op Bredasdorp of Waenhuiskrans te gaan uithang, nogal teen betaling. En later daar aftree. Mens wonder net of die inwoners gewaarsku word dat sulke speletjies gaan plaasvind, want dit kan mens nogal kos. Staan daar darem ‘n ambulans gereed? Die geen foto’s-scenario is duidelik met die ou op sy knieè. Leef die fotograaf nog?

Len Hauptfleisch ·

Kim Jung en Elon Musk kan by julle kom leer. ” Hoe om n vuurpyl te land. ” Dis skreeu snaaks. As kind het ons ook vuurpyle gebou met selfgemaakte buskruit. Die afwagting was groot as die lont aan die brand gesteek is. Dan vlieg die ding in alle rigtings en steek die veld aan die brand. Dit was 50 jaar gelede.

Stripes ·

Dit was ‘n UKZN vuurpyl gewees. Wonder watse invloed het die stakings en klipgooiery op die mislukte poging gehad?

Plofkop ·

Hulle kan kom vir lesse . Ons het as kinders i ou army staaldak seker 5 rugby pale hoog geskiet met i cherry bom!!…….Man daai ding het gevlieg!!!!!

humor ·

Ag nee wat as dit die sg. kundiges en wetenskaplikes se beste poging is dan moet hul liewer nie weer hul beste probeer nie. Dit kos geld.

Deon ·

Ek het lanklaas so lekker gelag in hierdie donker tye. Maak Denel toe en skenk die grond vir dakloses.

Arnót ·

Wat raas jul so! Dit het gewerk, daai paar meter wat hy gevlieg is n prestasie vir Afrika! In Afrika taal is dit uitstekend! Viva!

Skrikwakker ·

Ja, ou Johny Rocket het baie suksesvolle vuurpyle al gelaunch. Moet ook by se dis die dae toe Tukkies nog afrikaans kon praat. lol

B ·

Baie dankie Elsabé, ek het jou artikel en skryfstyl baie geniet. Oor al my (letterlik) jare se oplees en navorsing oor hierdie toetsterrein het jy die meeste insig nog verskaf. (Hulle het nie iets van die RSA-1 laat val?)

(Dalk moet sommige mense nie so sensitief wees!)

Goeie werk wat die KZN spannetjie gedoen het, en voorspoed vir die volgende een. Ignoreer maar die gewone spul klakouse wat niks self ooit bereik.

Paul ·

Regtig. Die hele storie gelees vir n flop. Noord korea doen beter as die land

Zorro ·

Mooi man. Dalk moet Denel ook van die Ingeneurs wat landuit is vra om terug te kom. Hulle moet net elkeen n Italianer saam bring.

KrokodilBotha ·

O vader , minister Tito gaan seker nou parafienwaks se prys ook opstoot na die flop.

IK ·

Ek verstom my oor die (te kort aan) begrip wat sommige mense openbaar, en dat hulle nie besef UKZN het net Denel se puik fasiliteite gebruik.
Boer ons opvoedkundige stelsel ook al so agteruit, of antwoord mense net ‘om te antwoord’ of antwoord hulle ‘om te verstaan’?

humor ·

B jy is ook maar oor min opgewonde en met min tevrede. Baie nederig en beskeie.

B ·

Ervaring maak mens maar nederig Humor. Ek was al te veel keer om die blok, en sit met ‘n spul T-hemde in die kas.

frikkie ·

by die ligmagmuseum in Swartkops le die Livni wat deur sa en Israel daar getoets is, en vandag in gebruik is. Net in SA gescrap. Hartseer om te dink ons sou ons eie gps gehad het. Iemand het nie van daai atmosferiese toetsie gehou met die twee flashes nie. Bly on te sien daar gaan darem nog iets aan hopelik kry hulle die goed bietjie hoeer gelig.

ZAR ·

Ek is trots op vooruitgang. Dis werklik so dat een sandkorrel alles kan laat flop. Ek voel jammer vir die mense wat daai sandkorrel moet gaan opspoor, dis frustrerende werk. Hou kop omhoog, ek sien die harde werk wat agter dit was.

ZAR ·

Moet asb nie die negatiwiteit persoonlik vat nie. Die blankes is negatief oordat ons nie ‘n toekoms in RSA sien nie, mens is geneig om te verstoot wanneer jyself verstoot word. Enige iets wat dan met die land te doen het, die land wat nie enige ooghare vir jou het nie, word as negatief beskou.
Mense weet nie dat hul negatiewe kommentare juis ‘n dolk in die hart vir hul eie volk is nie.

Mens ·

@ZAR – jy het met een sin nuwe insig vir my oopgemaak (itv die ‘verstoot’ opm).

Ek ervaar dit so en verstaan dit nou beter, dankie.

Gert ·

Is dit net ek of is die ontploffing aan die einde bietjie klein vir ‘n vuurpyl wat 15km op moes gaan?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.