Dien partykongresse nog hul doel?

‘n Foto van die DA se federale kongres by die skouterrein in Pretoria-Wes (Foto: ANA/Brenda Masilela)

Die land se twee grootste politieke partye het die afgelope vier maande hul groot partykongresse gehou en gebeure aldaar laat die vraag ontstaan of sulke byeenkomste nog volkome aan hul doel beantwoord.

Indien jy kyk na die programme van die partykongresse van die ANC en die DA is die doel van hierdie samekomste (elke vyf jaar in die ANC se geval, elke drie jaar in die DA se geval) viervoudig:

a) ʼn Leierskap moet verkies word.

b) Beleidspunte moet gedebatteer en bepaal word, met insette van die afgevaardigdes op takvlak.

c) Die party se grondwet moet aangepas word ná debat.

d) Die ampsdraers van die party wat sedert die vorige kongres afgesterf het, moet gehuldig word.

e) Die leiers moet hul onderdaniges toespreek.

f) Sosiale byeenkomste moet bygewoon word.

g) Daar moet geëet word.

h) Daar moet musikale vermaak verskaf word.

Bostaande geld vir sowel die ANC-program by Nasrec verlede November as die onlangs afgelope DA-program by sy federale kongres in Pretoria. Ek het probeer om dit in die verwagte en aanvaarde volgorde van belangrikheid uit ʼn kiesers- en burgerlike oogpunt te rangskik, maar dis ʼn ope vraag wat beantwoord moet word of dit wel so uitspeel.

Kortweg wil dit voorkom asof die twee probleme in die praktyk met dieselfde neiging en dus dieselfde potensiële probleem sit: Terwyl die klem sterk val op die verkiesing van leierskap, toesprake deur die leiers met die gewone afgevaardigdes as passiewe en soms oorblufte toehoorders, terwyl die sosiale geleenthede (die ete, die drinke, die kuier, die verblyf) ook getrou nagekom word.

Dit dien terloops ʼn groter doel as bloot om die mae te vul. Dit skep ʼn welwillendheid tussen partylede wat broodnodig is wanneer op mekaar staatgemaak moet word, byvoorbeeld in taai tussenverkiesings. Dit is goed as partylede mekaar persoonlik ken.

ʼn Hoogtepunt, tereg, by die kongres of konferensie van enige Suid-Afrikaanse politieke party is altyd die huldeblyke aan die afgestorwenes. Dis baie aandoenlik en baie nodig.

Nou waar lê die probleem dan?

Die probleem is dat die twee aspekte wat ek hierbo as tweede en derde belangrikste lys, afgerammel en selfs deels weggelaat word. En die twee groter tekortkominge waarop dit dui, is dat die stem van die gewone man of vrou nie meer gehoor word nie, en dat mens jouself straks moet afvra wat die rol en inset van die gewone partylid dus is – antwoorde met gevolge.

anc-2017-nuwe-top-ses-twitter

Die nuwe top ses van die ANC wat tydens die nasionale verkiesingskonferensie in Johannesburg verkies is. Foto: Twitter.

Die probleem is die grootste in die ANC. Die party se vyfjaarlikse konferensies het dermate tot leierskapgewildheidskompetisies en omkopery vervlak dat ʼn afsonderlike beleidskonferensie deesdae ses maande voor die groot konferensie gehou word. Nie dat dit help nie. Verlede jaar se beleidskonferensie was eintlik maar net ʼn kleedrepetisie vir die leierskapverkiesing, met die opponerende groepe wat hul spiere gebult het in aanloop tot die gebeure by Nasrec in Desember.

Van beleidsdebat was daar wesenlik geen sprake nie. Op die sogenaamde beleidskonferensie is net een kwessie afgehandel – daar is besluit dat ANC-lede nie teen “wit monopoliekapitaal” mag uitvaar nie, maar slegs teen “monopoliekapitaal”. Die besluit is in elk geval nie eerbiedig nie.

En in Desember by die groot ANC-konferensie is bloedweinig tyd vir beleidsgesprekke gevind. Van al die belangrike kwessies is eintlik net twee, naamlik grond en gratis naskoolse onderwys, afgehandel, en dit het byna tot geweld gelei.

Die DA se kongres hierdie maand in Pretoria het nie veel beter gevaar nie. Die partyleierskap moes agterna toegee dat afgevaardigdes soms nie geweet het waarvoor hulle stem sover dit grondwetlike veranderinge aangaan nie. Die uitgediende stelsel van ʼn groen kaartjie ophou as jy saamstem met ʼn voorstel, en ʼn rooie in die lug hou as jy verskil, het grootliks tot die chaos bygedra. Dit was ʼn stelsel wat dalk goed gewerk het toe DA-kongresse kleiner was, maar met omtrent 2 000 afgevaardigdes werk dit net nie meer nie.

‘n Foto van die DA se federale kongres by die skouterrein in Pretoria-Wes (Foto: ANA/Brenda Masilela)

Maar die hartseerste van die DA-kongres was dat minder as die helfte van die beleidsresolusies, waarvan sommige met groot moeite deur grondvlaklede opgestel is omdat dit vir hulle belangrik is, glad nie eens voor die kongres gedien het nie omdat te veel tyd deur vermaakitems en toesprake van leiersfigure opgeneem is. Een besprekingspunt wat weggeval het, was die DA-lede van Howick en Mooirivier se voorstelle oor hidrobreking (fracking).

Daar sal nie vir die gewone partylede ruimte wees om hierdie en ander aspekte waarvoor daar nie genoeg tyd was nie, af te handel nie. Dit word nou verwys na die DA se federale raad, waar die lede van die raad die besluit namens die grondvlaklede sal neem, in hul afwesigheid.

Hierdie tipe tendens is nie eie aan Suid-Afrika nie. Wêreldwyd neem partykongresse van groot politieke partye die aanskyn van ʼn televisievertoning aan, met presies vooraf uitgeskrewe toesprake sonder spontaneïteit en min tot geen rol vir oom Koos en tant Sannie (of oom Thabo en tant Sisi) as gewone afgevaardigdes nie, behalwe om die stoele vol te sit en by geleentheid toejuiging te verskaf.

Dit is trouens maar alte duidelik dat die party se diknekke die grondvlakresolusies met weinig meer as die grootste verveling verduur.

Dit is seker in die haak so as die politici dit so verkies, maar mens wonder of hulle dan nie die skrif aan die muur kan lees nie. Wêreldwyd raak mense al meer sinies en voel al meer uitgeslote weens die oorskakeling van politieke partye se rol van volksverteenwoordigers na hekwagters vir diegene wat in beheer is.

Die rol van die gewone partylid raak al meer om opdragte te ontvang en te help met tussenverkiesings.

Nou hoekom sal enige denkende mens hiermee tevrede wees?

Magshebbers in politieke partye mag weldra uitvind dat die tanende kiesersvertroue in hulle en hul partye as werktuie om probleme op te los, verdere momentum kry. En as dit gebeur, moet hulle in gedagte hou wat hulle reaksie was toe hulle die afstand tussen hulself en hul kiesers, asook hul partylede op grondvlak geplaas het.

Want sonder sy grondvlakondersteuners is ʼn politieke party mos niks nie, of hoe?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Minderheid ·

Die saal lyk nou nie eintlik vir my volgepak nie . die DA Is in vir ‘n verrassing in 2019. Hulle het te gou grootkop gekry, hulle gaan hard slae kry, amper iet soos die Spur. Die arme wittetjies voor dink seker hulle gaan nie hulle plase hoef af te gee as hulle DA stem nie .. WAT SE GRONDWET??? Die grondwet werk slegs vir die majority in die land, vir niemand uit die minority nie.

Eish ·

Werklik n uitstekende artikel en n openbaring vir ons wat buite die politiek staan.

Lola ·

Mnr Joubert! Baie dankie vir die skrywe van die raakvattende artikel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.