‘Doodloopspore’: As jou kind wegraak …

Argieffoto

Dink jou in: Jou kind huil en jy is nie daar nie. Jou kind roep na jou en jy is nie daar nie.

“Ja, ’n vermiste kind is sekerlik die ergste wat met ’n ouer kan gebeur,” verduidelik Juliana Coetzer,  psigoterapeut en skrywer. “Wanneer ’n kind doodgaan, kan daar in ’n mate afskeid geneem word en ’n ouer leer om daarmee saam te leef. Jy weet waar daardie kind is.”

Wanneer jou kind weg is, is dit egter ’n ander storie, verduidelik Coetzer. Sy vertel dat só ’n situasie ’n ouer se grootste vrese aanwakker. “Die vrae maak jou klaar. Is jou kind veilig? Gee iemand vir hom kos? Is sy in gevaar? Is hy bang?” Sy verduidelik dat ’n ouer die verdwyning nooit sal kan aanvaar nie en, wanneer dit onopgelos bly, “’n ouer geknou sal wees vir die res van sy of haar lewe”.

“Ek persoonlik sal my kop verloor,” erken sy.

Die tergende verhaal van klein Mighael Myburgh

Een só ʼn verhaal is dié van klein Mighael Myburgh, wat in 1997 spoorloos verdwyn het terwyl hy by sy pa se huis in KwaZulu-Natal was. Vandag, meer as 20 jaar later, is Mighael steeds skoonveld. Sy ouers, Theo Myburgh en Sarie Hutton, het enige ouer se nagmerrie eerstehands beleef.

Só verloop die storie: Theo was destyds ’n lid van die veiligheidspolisie. Hy het Sarie, ’n maatskaplike werkster in die tronk, ontmoet toe hy vier jaar gevangenisstraf moes uitdien vir die moord op sy eerste vrou, Marthie. Dié huwelik was reeds op die rotse en Marthie het reeds ’n nuwe vriend gehad toe sy, op ’n aand in 1987, ingestem het om Theo vir oulaas by sy woonstel in Johannesburg te groet voor hy die volgende dag na KwaZulu-Natal sou verhuis. ’n Hewige woordewisseling het daardie aand tussen Theo en Marthie ontstaan waarna Theo in ’n oomblik van waansin sy dienspistool op Marthie gerig en haar doodgeskiet het.

Theo is na die Sentraal Gevangenis in Pretoria geneem waar hy tot tien jaar vir die moord op Marthie gevonnis is. Dit is tóé dat hy Sarie, wat as maatskaplike werkster in die tronk gewerk het, ontmoet het. Sarie was geskei en het saam met haar seuntjie uit ’n vorige huwelik by haar ouers in Sasolburg gewoon.

Vier en ’n half jaar later, aan die einde van 1993, is Theo op parool vrygelaat en kort daarna is hy en Sarie getroud. Die paartjie het na Pennington-strand in KwaZulu-Natal verhuis, soos Theo jare tevore beplan het om te doen. ’n Jaar later kom die opwindende nuus: Sarie verwag hul eerste kind. Klein Mighael Myburgh is op 17 Oktober 1994 gebore.

Weens Theo se swakte vir mooi vroue was dié huwelik ongelukkig van korte duur. Die egpaar is in 1997 geskei. Sarie is sak en pak terug Sasolburg toe terwyl Theo in Pennington-strand agtergebly het.

Die egskeidingsbevel het bepaal dat Theo vir Mighael vir twee weke tydens vakansies by hom kon neem. Op 2 Mei 1997 het Theo vir Mighael gaan haal om tydens die vakansie by hom te kuier. Min het Sarie geweet dat dit die laaste sien van haar kind sou wees toe Theo hul blondekopseuntjie in die motor laai.

Tien dae later het Theo gebel om te vra of klein Mighael maar nog ’n ruk langer as die afgesproke twee weke kon kuier. Sarie het ingestem, maar toe Mighael ’n verdere tien dae later steeds nie tuis was nie, het sy onraad gemerk. Sy het op 10 Junie KwaZulu-Natal toe gery om Mighael by sy pa te gaan haal.

Met haar aankoms by Theo se huis was hy verbaas. Volgens hom was hy onder die indruk dat iemand reeds die seuntjie kom haal het. Theo het vertel dat hy vir Mighael deur die venster in die tuin sien speel het toe iemand die seuntjie gryp, oor die heining tel en in ’n wit motor boender waarna die motor weggery het. Theo was onder die indruk dat Sarie iemand voorgesê het om Mighael te kom haal aangesien hy te lank na haar sin gekuier het.

Theo het volgehou dat hy die waarheid praat. Hy het Deon Hutton, Sarie se gewese man, daarvan beskuldig dat hy die seuntjie ontvoer het, aangesien die bestuurder glo op ’n druppel na Deon gelyk het. Sarie en die polisie was egter nie oortuig nie en Theo is op 29 Augustus daardie jaar in hegtenis geneem vir die verdwyning van klein Mighael. Hy is op borgtog vrygelaat waarna sy verhoor op 24 Februarie 1998 sou begin, maar toe raak Theo, nes klein Mighael, ook weg.

Spoorloos.

Theo se verdwyning het Sarie hoop gegee dat hy wel agter Mighael se verdwyning sit en dat haar kind ongedeerd is. ’n Destydse inspekteur van die polisie, Johan van As, was vasbeslote om die raaisel op te los. Van As het talle leidrade opgevolg en die media het versoeke geplaas dat Theo met die polisie kontak maak.

Theo se verdwyning so kort ná Mighael sʼn kon sekerlik nie blote toeval wees nie?

Toe, in Julie 1998, word ’n ongeïdentifiseerde man in die Livingston-hospitaal in Port Elizabeth in die Oos-Kaap opgeneem. Dié man was in ’n koma weens malaria. Dokumentasie kon hom later identifiseer as Dominic Garcin wat in verbinding was met die Verenigde Nasies. Nadat die polisie die organisasie se kantoor in Dar es Salaam, Tanzanië, genader het, het dit duidelik geword dat hulle nie die regte man het nie. Die regte Garcin was blakend gesond en met vakansie.

Later sou dit blyk dat die man in die koma met ’n motorfiets van Tanzanië tot by George in Suid-Afrika gereis het. Die man het egter op sy tog malaria opgedoen. ’n Egpaar het glo die man in Knysna raakgeloop. Hy het hulle gevra of hulle sy onklaar motorfiets kon stoor, terwyl hy onderdele in die Kaap sou gaan haal. Met sy terugkeer was hy dodelik siek, en die egpaar het hom hospitaal toe geneem.

’n Kennis van Sarie het heeltemal toevallig op die man in die hospitaal afgekom, die man herken en twee en twee bymekaar gesit. Die man in die koma was niemand anders nie as die vermiste Theo Myburgh. Theo sterf egter op 28 Julie 1998 sonder dat hy ooit weer wakker word om enige van die polisie se vrae te beantwoord.

Johan van As, die vasberade speurder, sterf ’n jaar ná Theo se verdwyning in ’n motorongeluk en alle spore loop dood.

Die reeks ‘Doodloopspore’ word tans verfilm. (Foto: Facebook)

As Mighael nog lewe, sal hy vanjaar 24 jaar oud word.

Syfers oor vermiste kinders

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermistepersoneburo verdwyn ’n kind elke vyf uur in Suid-Afrika – dis tussen vier en vyf kinders per dag. Altesaam 77% van vermiste kinders kom weer tuis, maar 23% word nooit weer gesien nie. Dit beteken dat daar gemiddeld een kind per dag wegraak en nooit weer gevind word nie.

Klein Mighael Myburgh is 10 Junie 1997 se vermiste kind wat nooit gevind is nie.

Meer oor Doodloopspore

Die onheilspellende verdwyning van Mighael Myburgh word deur Wouter Botes in die reeks Doodloopspore oorvertel. Dié radioreeks is vroeër vanjaar op Pretoria FM uitgesaai en nou in CD-formaat beskikbaar. Die reeks word ook tans verfilm. Die eerste episode van Doodloopspore sal in Februarie 2019 op YouTube beskikbaar wees. Besoek gerus Doodloopspore se Facebookblad vir meer inligting oor die reeks asook die verfilming daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Karien ·

Sjoe wat n storie! Dis baie vreemd. Ek dink egter d pa was verantwoordelik vir d kind se verdwyning….en meer……..

Asjas ·

Dankie dat dit op Youtube gaan beskikbaar wees. Gaan dit beslis kyk.

tryna ·

laart my dink aan die naminiese dogtertjies (missing) Angela en Sharona Poulton (fb) toe 3 en 4 wat in soortgelyke omstandighede reeds 1977 vermis geraak het en nou nog nie van gehoor is nie. pa’s is … In elk geval die tragedie word dieper. blykbaar word elke mens wie die mamma probeer help deur slegte geluk getref. God seen ons almal.

Blommie ·

Wat ek nie verstaan nie. Is hoekom sien of lees jy niks oor kinders wat weg raak of niks nie.
Hoekom word daar nie behoorlik berig oor hulle nie.
Hoe moet mens help soek as jy nie eers n foto sien van die kind of een van daai fotos wat wys hoe hulle nou sou lyk.
As n arme KIND wegraak moet dit op melk bottels kom, in elke koerant… Op tv ORALS… Die kanse net grootter maak om n kind p te spoor, maar in ons LAND is daar mos nie sulke goed nie

ES ·

Blommie, daar word so baie kinders elke dag vermis dat daar nie genoeg handelsmerke is om fotos op produkte te plaas nie. Sosiale media word nou maar die platform vir hierdie doeleindes.

Rosie ·

In 1993 het 2 SA studente, Anita Swaak en haar vriend Delarey Mc William Smith vermis geraak in Griekeland. Hulle is laas gesien op die eiland Naxos. Ondat hulle maar soos by studente op die goedkoopste manier vakansie gehou het, word geglo dat hulle in aanraking gekom het met iemand of persone wat hulle kwaad aangerig het

Ekke ·

Ek het saam met Marthie grootgeword en haar baie goed geken. ‘n Meer sagmoedige, rein, onskuldige meisie sou jy nie sommer kry nie. Dat Theo haar in ‘n oomblik van waansin sou doodskiet, kan ek nou nog nie glo nie. Sy wou ‘n nuwe lewe begin. Hul kind is ook in die proses vernietig.

LouE ·

Ek glo nie die statistiek nie. As dit so baie was, sou ons daarvan geweet het. Daar is baie mense wat genoeg omgee om te help soek – ek ook. Ek dink hulle tel groter kinders wat wegloop ook by die statistiek. As ek van kinders praat dan verstaan ek onder 16.

A ·

Die pa se gedrag laat hom baie skuldig lyk. Verantwoordelik vir sy eerste vrou se moord, doen niks nadat hy (kastig) sien iemand gryp sy kind en verdwyn nie en verdwyn self daarna. Dis heeltemal te verdag!

Piet ·

Maar wat niemand noem is die belangrikste punt: n Moordenaar wat net 4.5 jaar gesit het is nooit gestraf nie! Dit moet mens nie verbaas dat hy net aangegaan het waar hy opgehou het. Regters moet persoonlik begin skadevergoeding betaal in sulke gevalle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.