Het die rand werklik sedert ‘Nenegate’ versterk?

Argieffoto

Argieffoto

Sedert Desember 2015, toe die minister van finansies, Nhlanhla Nene, onder verdagte omstandighede ontslaan is, is groter onbestendigheid van die rand ʼn algemene verskynsel.

Mense in Suid-Afrika het sedert Desember ʼn aantal aansienlike wisselkoersskokke beleef. Die aanvanklike gebeure ná Nene se afdanking is in ʼn SNI-verslag in Maart 2016 bespreek.

Die grafiek hieronder verskaf ʼn oorsig van die bewegings van die rand teenoor die dollar sedert 2011. Die gedeelte in blou toon die onlangse wisselkoersbewegings sedert Nene ontslaan is.

nene-rand-grafiek1

ʼn Terugblik op die Nene-fiasko en daarna

In die nadraai van die Nene-fiasko het die rand in die middel van Januarie 2016 ʼn historiese laagtepunt van R16,89 teen die Amerikaanse dollar getref. Deur die loop van Februarie, tot April, is die verswakking van die rand teen die dollar uitgewis en teen die einde van April het die rand weer kortstondig teen R14,22 per dollar verhandel.

Hoewel daar sedert 2 Mei tot vandag (19 Mei 2016: 08:45) weer ʼn ronde van depresiasie aan die gang is, staan die rand teen R1,.82 per dollar tans nog steeds sterker as in die middel van Januarie. Hierdie herstel sedert Januarie is egter slegs ʼn klein gedeelte van die volledige prentjie.
Die jongste onbestendigheid van die rand volg ná hernude valutamarkskommelings oor onder andere die skynbaar opgemaakte bewerings oor die dreigende inhegtenisneming van Pravin Gordhan, minister van finansies, weens sy beweerde betrokkenheid by ʼn sogenaamde spioenasie-eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

nene-rand-grafiek2

Die rand, ʼn kruitvat

Uit die jongste bewegings van die rand-dollar-wisselkoers is dit duidelik dat die rand, soos ʼn kruitvat, steeds hoogs kwesbaar vir politieke skommelinge is. Dit is asof die valutamarkte net wag vir die regte vonk om ʼn nuwe ronde van randdepresiasie te laat ontvlam.

Mense, wat ʼn idee wil skep dat die rand in geheel “herstel” of “versterk” het, bied soms die afgelope Januarie tot Mei-appresiasie van die rand teenoor die dollar verkeerd aan.

Die relatiewe bewegings van die rand en die dollar op die valutamarkte beteken die rand (ZAR) vertoon soms sterker en soms swakker teenoor die dollar (USD), maar ʼn enkele wisselkoerspaar (soos die USDZAR) se bewegings vertel nie die volle verhaal oor die rand (of die dollar) nie.

Aangesien die dollar só ʼn groot rol in internasionale handel speel, verwys mense in Suid-Afrika gerieflikheidshalwe graag na die rand-dollar-wisselkoerpaar wanneer die rand in oënskou geneem word. Terwyl die USDZAR-wisselkoers nuttig is vir ʼn vinnige algemene oorsig van die rand, mis hierdie kortpad soms die ware gebeure rondom die rand.

Om die volle prentjie oor die rand se huidige bewegings te verstaan, moet die beweging van die dollar en die rand teenoor ander geldeenhede in geheel in oënskou geneem word.

Die rand staan vandag wel sterker teenoor die dollar as gedurende die ergste nadraai van die Nene-fiasko in Januarie. Maar wat beteken die “versterking” werklik? Terwyl baie mense graag weens versterking van die rand in die USDZAR-wisselkoers sal wil glo die rand het sedert Januarie in geheel versterk of verbeter, is dit ongelukkig nie die geval nie.

Die rand en die dollar tuimel sedert Nene se ontslag

Die realiteit is beide die rand en die dollar het sedert minister Nene se afdanking tot die 16de Mei, 2016, teenoor verskeie ander geldeenhede, asook goud en silwer, verswak. Die rand het net meer as die dollar verswak.

Die volgende grafiek toon dié relatiewe appresiasie en depresiasie van die rand en die dollar teenoor verskeie ander geldeenhede, asook goud en silwer oor dieselfde tydperk.

nene-rand-grafiek3

Die rand het feitlik deurgaans ongeveer ses of sewe persentasiepunte swakker gevaar as die dollar oor dieselfde tydperk.

Die relatiewe wisselkoersbewegings van die rand en die dollar sedert Desember het beteken die rand het vir ʼn tyd ná middel-Januarie stadiger as die dollar teenoor ander geldeenhede verswak – daarom het die rand in daardie stadium relatief tot die dollar ʼn versterking getoon.

Sedert begin Mei het die rand weer vinniger as die dollar teenoor ander geldeenhede verswak, wat dus ʼn verswakking van die rand teenoor die dollar beteken het.

Indien die algehele verswakking van die rand en die dollar teenoor ander geldeenhede in ag geneem word, sien ons die rand het sedert Desember 2015 tot 16 Mei 2016 teen geen noemenswaardige geldeenheid versterk nie.

Beide die rand en die dollar – die rand nog meer as die dollar – het sedert Desember 2015 teenoor verskeie belangrike geldeenhede verswak. Daarom kan die rand se appresiasie teenoor die dollar van middel-Januarie tot begin-Mei geensins as ʼn “versterking” of ʼn “verbetering” van die rand in die geheel beskryf word nie.

Gevolglik blyk dit dat ʼn omkeer van die huidige ronde van rand-depresiasie, wat sedert begin van 2011 voortwoed, nog nie plaasgevind het nie. Op die oomblik lyk die kans goed dat die rand steeds uiters kwesbaar sal bly en dat ʼn swakker rand sal voortduur solank as wat die regering se beleid teen vryheid bly indruis en die sakesektor aan bande lê

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Lyk my Gerhard van Onselen is die enigste persoon in die land wat werklik weet wat met die wêreld en finansies aangaan. Baie dankie vir n goeie uiteensetting

Johann ·

Solank ons net nie sê Zumpi het enigsins n rol te speel in Auid Afrika se…wel ALS het nie? So onaantasbaar as wat hy funksioneer; nog meer (of minder?) het sy doen en late ‘n invloed op ons geliefde land se welstand. Shame…ons maak lelik mer hom!

Johann ·

Stel voor n nuwe ANC en Zuma TEMALIED: Megan Trainer (spelling) se: Your lips are moving; you LIE LIE LIE…

Lance ·

Hou net asb jou mond toe want die oomlik as jy begin praat val die Rand. Die man verstaan nie ekonomie nie hy verstaan net van steel en lee verskonings maak en van agter homself en sy vriende kyk al gaan die land en sy mense om hom ten gronde …joke is net mense hou aan vir die ongeskoolde man met n std 3 stem …hoe dom en tragies is dit nie !

Johann ·

Vraag; presies wat is Zuma se gekwalifiseerde ( bewese) kwalifikasie? En ek bedoel AKADEMIES? Want anders as diensulke…is hy n meester van toepassing van wat hy van en in en by die ANC geleer het in ay Xile dae! Hys n teksboek manipileerder van feite. Hys gevaarlik goes met finansiele terorisme en destabilisering van ekonomie. N alternatiewe toepassing van sy MASJINIWA taktiek. Hys gevaaaaaarlik verby!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.