Hoe lyk die toekoms van Afrikaans in 2016?

tuks-afrikaans-geweld

Graffiti op ‘n muur by die Universiteit van Pretoria. Foto: Twitter via @_Dakie

Die aanslag op Afrikaans het die afgelope paar weke opnuut sy kop uitgesteek. “AfrikaansMustFall” is gedreunsang en teen mure van geboue gespuitverf. Daarmee saam het klippe, bakstene en rubberkoeëls deur die lug getrek. “Doen weg met Afrikaans of ons maak dié plek onregeerbaar!” is gedreig. Die manne in rooi het taalstryders en liefhebbers van Afrikaans warm onder die kraag gehad.

Dat die toekoms van Afrikaans veral by universiteite bedreig word, is duidelik. Die meerderheid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se senaat het reeds vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal gestem. By die Universiteit van Pretoria (UP) hang die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal in die weegskaal. Die bestuur van die Stellenbosch Universiteit dreig ook kort-kort dat hulle Afrikaans as onderrigtaal gaan afskaf.

ʼn Mens kan nie help nie om te wonder hoe die jongste politieke aanslag teen Afrikaans die toekoms van Afrikaans, veral as wetenskaptaal, bedreig. Die vraag is dus: In hoe ’n mate word die toekoms van Afrikaans as wetenskaptaal bedreig deur die (potensiële) afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by tradisioneel Afrikaanse universiteite?

Prof. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, is van mening dat ons in die onderwysdomein ʼn drasties veranderde landskap vir Afrikaans as medium van onderrig te wagte kan wees. “Afrikaans is ʼn baie sterk taal, ook as onderrigmedium en as ʼn wetenskapstaal. Dit blyk egter dat ons taal se sprekers besonder flink oorskakel na Engels as medium van onderrig. Die redes hiervoor is algemeen bekend, soos byvoorbeeld dat Engels ʼn wêreldtaal, die taal van die werkplek en ook die taal van moderniteit is,” sê Beukes.

Daar bestaan nietemin min twyfel by Beukes dat Afrikaans ’n toekoms in Suid-Afrika het – mits Afrikaanssprekendes aanhou om vir hul taal te veg. “Na my mening moet ons as Afrikaanse taalgemeenskap besin oor hoe ons die sienings van ons taalgemeenskap kan probeer beïnvloed. Ons moet houdings kan verander oor die ongelooflike prestasies van Afrikaans as wetenskaptaal. Ons moet voorts met taalbewussynsprogramme mense oortuig van die waardevolle plek en waarde van Afrikaans in die skool en op universiteit,” sê sy.

Beukes meen die Afrikaanse taalgemeenskap kan ʼn groot bydrae lewer om die voortbestaan van Afrikaans as wetenskaptaal te verseker. “Ons moet op beduidende skaal fondse inwin om private skole en universiteite, soos Akademia en Sol-Tech, lewensvatbaar te maak. Ons moet voorts die taalgemeenskap oor alle grense heen oortuig om hierdie moedertaalinstellings te benut,” sê sy.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van taal en kultuur by AfriForum, meen Afrikaans het as taal tot op ’n indrukwekkende hoë vlak ontwikkel . “Met meer as 6 miljoen moedertaalsprekers is Afrikaans een van die 150 grootste tale in die wêreld. Afrikaans is ongetwyfeld ʼn hoëfunksietaal wat vir alle doeleindes gebruik kan word,” sê Bailey.

Volgens Bailey is Afrikaans in alle rigtings – van wetenskapsbeoefening tot letterkunde – van internasionale gehalte. “Afrikaans word deesdae ook tersiêr onderrig in die VSA, Rusland, België, Nederland, Pole en in ander lande. Dit is ʼn nasionale bate en sleutel tot die kultuur en geskiedenis van die sprekers daarvan,” sê Bailey.

Wat die toekoms van Afrikaans betref, twyfel Bailey geensins dat Afrikaans, ongeag die jongste aanslae teen die taal, hier is om te bly nie. “Tans is daar geweld op kampusse en enkele mense glo dit gaan oor Afrikaans. Nee, Afrikaans is maar een verskoning daarvoor… Die stryd is teen ʼn Westerse akademiese etos, nie teen ʼn bepaalde taal nie,” meen Bailey.

Bailey waarsku egter dat indien die aanslag teen Afrikaans nie bestuur word nie en Afrikaans nie beskerm word nie, internasionale standaarde en akademiese uitnemendheid helaas ook nie meer ʼn plek in die land het nie. “Daarom moet ons die status van Afrikaans ten alle koste behou,” waarsku Bailey.

Bailey meen Afrikaanssprekendes kan soos volg tot die behoud en bevordering van Afrikaans bydra:

• Deur hul reg tot Afrikaanse moedertaalonderrig op alle vlakke ferm, maar waardig te eis;
• Deur hul werkstukke, publikasies en ander akademiese werk in Afrikaans te doen;
• Deur hulle nie te steur aan mites oor Engels wat die sleutel tot internasionale sukses is nie. Afrikaans het nie dr. Japie van Zyl van ʼn suksesvolle loopbaan by Nasa weerhou nie, dit het nie Chris Barnard daarvan weerhou om ʼn hart oor te plant nie, en dit het ook nie vir Deon Meyer van internasionale roem as skrywer weerhou nie;
• Deur Afrikaanse produkte en sakeondernemings te steun sodat die Afrikaanse wêreld ook kan werk bied aan mense wat in Afrikaans studeer; en
• Deur hulself en mense om hulle bewus te maak van wat “taalregte” beteken en waarom dit belangrik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Irene

Alles wat wit mense doen must fall waar is rassisme nou weet ons is slimmer moouer en die beste

Aster

Ek kry my arme kinders so jammer. Soos dit vir my lyk sal hulle nie die voorreg hê om in hulle eie taal vorentoe te kan gaan nie. Dis so hartroerend om te sien hoe hierdie van ons kinders ontneem word. Dis regtig nie meer lekker om in SA te bly nie. Wat bly werklik oor hier vir ons kinders?? Die Afrikaners word uitgewis. Ons taal, ons geskiedenis ons mense, ons boere. Ek wonder regig of dit ‘n goeie idee is om privaat skole en universiteite te bou…die spul goed sal net weer ‘n probleem met dit hê en dit… Lees meer »

Gesina

Wanneer kom die #JESUSmustFALL veldtog? Want ons almal weet dis volgende.

Theuns

Inge baie goeie komentaar. Ek stem saam met die menings van die persone in jou skrywe. Afrikaans bly n wonderlike taal. My seun kom nou hier by my aan en vra of hy my” Koel Koffer” kan leen.(Cooler Box) Ek dink dit moet n nuwe woord wees.!

Lance

Gaap …wens dit wil stop