Is teenstand teen vismeelfabriek stank vir dank?

Die skermskoot van Google wys Afro Fishing se ligging.

Mosselbaai se ekonomie gaan binnekort ʼn groot hupstoot ontvang as die oprigting van ʼn vismeel- en visoliefabriek die groenlig by die owerhede kry.

Afro Fishing, ʼn plaaslike visfabriek wat sardyne inmaak, het buitelandse kapitaal van nagenoeg R350 miljoen bekom om hul bedrywighede in die hawegebied uit te brei. Daar word beplan om duisende tonne pelagiese visspesies, soos ansjovis en rooikappie (red-eye herring) by die aanleg te verwerk.

Dit sal seisoenale werk aan ʼn bykomende 200 persone verskaf.

Nie almal is ewe opgewonde oor die projek nie en sowat 420 inwoners het ʼn aanlyn petisie onderteken om teen die fabriek kapsie te maak. Honderde mense het ook as belangstellende partye registreer; hulle wil weet watter impak die fabriek op dié skilderagtige kusdorp op die Tuinroete gaan hê en of daar permanent ʼn stank oor die dorp gaan hang?

Deon van Zyl, Afro Fishing se besturende direkteur, sê die fabriek doen aansoek om ʼn moderne aanleg op te rig wat die beste bewese praktyke en beskikbare tegnologie sal gebruik om die stank wat vismeelfabrieke veroorsaak, te bestry.

Volgens ʼn luggehalte-impakstudie wat verlede jaar vir die beoogde projek gedoen is, sal ʼn sogenaamde nat skropper keer dat onaangename reuke in die atmosfeer losgelaat word. Volgens die studie sal daar, indien nodig, bykomend van regeneratiewe termiese oksidasietegnologie (RTO) gebruik gemaak word. Dit word reeds in die buiteland toegepas en die Mosselbaai-aanleg sal die eerste in Suid-Afrika wees waar dit gebruik word.

ʼn Span wat met die beplande projek te doen het, was onlangs by ʼn vismeelfabriek in Peniche, Portugal waar RTO gebruik word en is vol lof vir die tegnologie.

Die Punt in Mosselbaai. Foto: Susan Purén

Die oorgrote meerderheid van Mosselbaai se inwoners is egter steeds bekommerd dat die dorp dieselfde paadjie as Houtbaai en Gansbaai gaan loop. In Houtbaai was daar onlangs weer ʼn vlaag klagtes oor die vrot reuk wat van die plaaslike vismeelfabriek af kom en daar word nou selfs navorsing gedoen oor die impak wat slegte reuke op die mens se gesondheid kan hê. In Gansbaai het die reuk so erg geword dat die vismeelfabriek ʼn paar jaar gelede verbied is om tydens vakansietye te werk omdat dit toeristegetalle negatief beïnvloed het.

Die Mosselbaai-gemeenskap vrees ook dat die fabriek die voorloper is vir die oprigting van ʼn visplaas of sogenaamde akwakultuur, soos dié wat nou vir die Weskus beoog word. Visplase kan ernstige omgewingsrisiko’s inhou en is ook moeilik volhoubaar. Die visse wat in die onnatuurlike omstandighede aangehou word, word juis vismeel gevoer en met die fabriek in die hawe is akwakultuur dalk nou ʼn stappie nader.

Elsa Wessels, die redakteur van die aanlyn nuusplatform Mosselbayontheline, sê in Suid-Afrika, soos in ander Afrika-lande, is die probleme erger omdat die betrokke owerhede selde die noodsaaklike maatreëls en wetgewing ten opsigte van water-, lug- en omgewingsbesoedeling toepas en afdwing.

“Gaan daar nimmereindigende hofsake op Mosselbaaiers wag soos wat nou in Saldanhabaai die geval is? En wie gaan kyk dat viskwotas gehandhaaf en die regte visspesies gevang word?” is van die vrae wat Wessels onlangs aan haar lesers gestel het.

Mosselbaai se bootklub lê op die voorgrond. Foto: Susan Purén

Afro Fishing bestaan sedert 2007, maar het verlede jaar van eienaar verander. Verslae by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) wys dat vyf van Afro Fishing se direkteure in 2018 bedank het. Shamera Daniels, ʼn bekende in die seevisserybedryf in die Wes-Kaap, is steeds op die direksie en Johannes Breed is die enigste nuwe direkteur wat aangestel is.

Die 37-jarige Breed, ʼn geoktrooieerde rekenmeester van beroep, dien sedert verlede jaar op die direksies van agt Suid-Afrikaanse maatskappye in die visbedryf. Volgens die aanlyn Fish Information Service (FIS) is Breed ook die besturende direkteur van die Angolese maatskappy African Selection Trust (AST). AST se webwerf sê die maatskappy se visie is om bestaande visfabrieke te restoureer en maksimale produksie te verkry wat werkverskaffing en voedselsekuriteit in Angola sal bring.

AST het sedert 2017 sy vlerke in Suider-Afrika gesprei en besit ʼn 60%-aandeel in die Namibiese maatskappy Seaflower Pelagic Processing (Pty) Ltd. Die Namibiese staatsbeheerde Fishcor besit die ander 40%. Volgens die Namibiese dagblad, The Namibian, verteenwoordig Breed, die ekonoom Adriaan Louw en prokureur Marén de Klerk, AST op Seaflower Pelagic se direksie.

Die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek het in 2017 berig dat die Namibiese visindustrie woedend was omdat ʼn internasionale belangegroep, verwysend na AST, gebaat het by die toekenning van ʼn reuseviskwota aan die staatbeheersde Fishcor. Volgens die Daily Maverick behels die kwota 50 metrieke ton makriel (maasbankers) per jaar vir 15 jaar met ʼn geskatte waarde van R120 miljoen per jaar.

Daar is destyds gesê dat ten minste vyf Namibiese maatskappye as vennote vir Fishcor kon kwalifiseer, maar oor die hoof gesien is. Ten minste een, Bidvest Namibia, moes sy bedrywighede intussen staak en sowat 1 200 mense het hul werk verloor.

Seaflower Pelagic het pas ʼn visfabriek van nagenoeg R540 miljoen in Walvisbaai in gebruik geneem. Die aanleg kan soveel as 600 ton makriel (maasbankers) per dag verwerk.

Die Kaap St. Blaize-vuurtoring. Foto: Susan Purén

As Johannes Breed by AST se bedrywighede in beide Angola en Namibië betrokke is, dan is die logiese vraag of AST ook die belegger agter die R350 miljoen-inspuiting in Mosselbaai se Afro Fishing is? Wat is AST se aandeel in die ander plaaslike vismaatskappye waar Breed ook op die direksie dien? En wat beteken dit alles vir die plaaslike visbedryf?

Deon van Zyl, Afro Fishing se besturende direkteur, ontken dat die maatskappy ʼn filiaal van AST is en was slegs bereid om te sê dat die geld vir die Mosselbaai vismeelfabriek ʼn belegging uit die buiteland is wat privaat bekom is.

Maroela Media se navorsing wys dat Norfund, die Noorweegse Beleggingsfonds vir Ontwikkelende Lande, in 2010 ʼn privaat aandelefonds in Angola begin het en dat verskeie Europese banke en ontwikkelingsfondse intussen by Norfund aangesluit het.

Die fonds word deur Angola Capital Partners (ACP) bestuur en die ACP-webwerf verwys na ses verkose Angolese maatskappye, waaronder African Selection Trust, waarin daar in die laaste paar jaar miljarde belê is vir uitbreiding.

In Angola het dit vooruitgang vir gemeenskappe gebring deur werkgeleenthede te skep en die plaaslike bevolking te bemagtig. Maar in Namibië het meer as ʼn duisend mense, na bewering, hul werk verloor, aldus koerantberigte.

Die beplande vismeel- en olieproduksie is uitsluitlik vir die uitvoermark bedoel waar dit as ʼn bestanddeel van dierevoer gebruik word. Sowat vier kilogram vis is nodig om een kilogram vismeel te vervaardig.

Hartenbos naby Mosselbaai. Foto: Susan Purén

Van Zyl sê Afro Fishing het nie self viskwotas nie, maar koop pelagiese vis aan by ondernemings wat wel kwotaregte het. Dis eintlik ironies hoe die visbedryf werk, want Afro Fishing se bestaande inmaakaanleg het sedert 2016 duisende ton gevriesde sardyne uit Marokko ingevoer om steeds aan die plaaslike markvraag te voldoen nadat kwotas gesny is.

Maar wat van Mosselbaaiers se vrese oor visplase in die see en op land? En al die omgewingsprobleme wat daarmee kan saamkom? Kenners is dit eens dat die kanse skraal is dat Afro Fishing ook ʼn visplaas sal begin omdat vismeel en visolie reeds wêreldwyd in groot aanvraag is en toppryse behaal.

Tog is dit nie te vergesog om te glo dat akwakultuur dalk wel na Mosselbaai op pad is nie. Johannes Breed se pa, Jannie, was vir baie jare die besturende direkteur van Ridge Solutions Aquaculture in Angola waar garnale op groot skaal vir die uitvoermark verbou is. Dan is daar ook al gesê dat Mosselbaai beskou word as dié mees geskikte plek in Suid-Afrika om ʼn visplaas te begin waar geelstert verbou kan word. En net verlede jaar was daar ʼn omstrede inligtingsessie oor akwakultuur wat deur die Mosselbaai-munisipaliteit aangebied is.

Die beplande ontwikkelings mag dalk werk skep en die Mosselbaai-ekonomie ʼn reuse-inspuiting gee, maar teen watter prys?

African Selection Trust (AST) se hoofkantoor in Angola en plaaslike kantoor in Kaapstad het nie Maroela Media se skriftelike vrae beantwoord nie. Johannes Breed het nie op telefoniese boodskappe reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dan ·

Dit is jammer dat geldgieriges geen blik of bloos toon teen die impak vir die natuurskoon en -belang nie..
Mag julle die Bybel weer lees, en besef dat mens geskep en geskape is om na alles in- en op die aarde te versorg. Nie geld na te jaag nie. Ter wille van, nie ten koste van nie..

Flip Fourie ·

Gansbaai se visfabriek is nie verbied om vakansietye te produseer nie – Hulle doen dit uit vrye wil. Ek sien Elsa Wessels ry alweer dieselfde perdjie.

Lizette ·

Ons in Walvisbaai het ook daai reukie wat so nou en dan oor ons hawedorpie hang, maar ons is maar te bly, want dit beteken daars vis en dan gaan dit finansieel goed met die hele dorp.

Swannie ·

Daar is alreeds oorgenoeg vismeelfabrieke.
Ek moet `n lisensie hê om met `n enkele visstok te hengel – kan nie praat van visvang nie, want die visse is alreeds skaars – dit is volgens die regering om te voorkom dat hengelaars die vis uitroei…haha

Vismeelfabrieke roei egter alle soorte vis uit en behoort in hul spore gestuit te word.

Linda van Mosselbaai ·

Ek kan nie dink dat so min mense kapsie gemaak het teen die oprigting vd fabriek nie.

Kobus N ·

Wat die inligtingsessie van die voorgestelde visplaas bertef, was ek die aand teenwoordig. Die spreker, asook Dept Seevisserye het die vraag op werkskepping so omsiel dat dit later duidelik geword het dat net inwoners van Mosselbaai wat die nodige kwalifikasies het werk sal kry, anders sal daar van buite Mosselbaai werkers ingebring word. Geen van Mosselbaai se werkers (vissermaane sonder werk) voldoen aan die vereistes nie. Hulle was aangesê om kwalifikasie kursusse te doen,( sonder geld, want hulle het reeds nie werk nis agv kwotas )
In Mossdustria is reeds ‘n vismeelaanleg wat in hofsake betrokke is oor die stank, en dis erge stank. Waarom twee van dieselfde aanlegde op dieselfde dorp?
Ook is daar tot nou nog geensins met die pesone wat geregistreer het as belanghebendes betreffende die vismeelfabriek gekommunikeer van enige verde voorneme nie.

Matt ·

Tenminste sal daar wetk geskep word en dit help sodat mense kos op die tafel sal kan sit.

Stripes ·

Ek sien die saak as volg: Verkryging van monopolie in die visbedryf en 2. Onvoldoende inligting.

As die nat skropper gewerk het, sou dit so gemeld gewees het en nie net dat dit sal werk nie. Waar in die res van die wêreld werk dit? Dit wat nie atmosfeer toe gaan nie gaan aan die einde van die dag maar net weer in die see beland.

Verder skep dit vals hoop vir werksgeleenthede en gaan dit net die plakker-probleem en misdaad in die gebied vererger

Hanna Hoekom ·

Herinner my nou aan my kinderdae in die Weskus!Ons moes omtrent hardloop om wasgoed van die wasgoeddraad te gaan afhaal en vensters toe te maak sodra Laaiplek se visfabriek begin stink. Die wind het ook maar n rol gespeel. Goeie ou dae! Maar so n fabriek mag maar stink.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.