Kernafval in die Karoo: Duitse geoloog voorsien ekologiese ramp

Die ingang na die plaas waar die kernafval gestort is.

Die ingang na die plaas waar die kernafval gestort is.

Pres. Jacob Zuma en sy minister van energiesake, Tina Joemat-Pettersson, se duistere planne om met die Russe se hulp kernkragsentrales in die land te bou, en onthullings van radio-aktiewe kernafval wat sonder enige kontrole in die Karoo gestort is, het opnuut die kollig op die uraanryke aarde van die Karoo geplaas. ʼn Internasionaal-gerekende Duitse geoloog en aktivis het onlangs op bewyse van nuwe kernafval-stortings in die gebied afgekom wat op ʼn ekologiese ramp afstuur. De Wet Potgieter het gaan ondersoek instel.

Toe die Nasionale Party-regering in die laat sestigerjare wild en wakker na olie begin soek het, is daar op ryk uraan-neerslae in die Karoo afgekom wat toe vir die regering se hoogs geheime kernnavorsingsprojek gemyn is. Die radio-aktiewe grondstowwe is vir Pelindaba se navorsing uitgehaal, ses kernbomme is gebou en ná 1994 onverrigter sake weer uitmekaar gehaal.

Cramer besig met lesings van die vlakke van bestraling in die Karoo.

Cramer besig met lesings van die vlakke van bestraling in die Karoo.

Volgens dr. Stefan Cramer was hy en sy vrou, Erika, wat ʼn meestersgraad in landbou-ingenieurswese het, aanvanklik deur die Lutherse kerk in Duitsland na Suid-Afrika gestuur om die gevare van hidrobreking aan die plaaslike kerke te kom verduidelik. In Suid-Afrika het hulle, op aanbeveling van die Anglikaanse biskop van Umtata, Jeff Davis, die Southern African Faith’s Communities’ Environment Institute (SAFCEI) gestig.

“Uraanmyne is egter ʼn baie groter en onmiddellike gevaar in Suid-Afrika,” verduidelik Cramer.  “Ons woon hier in Graaff-Reinet om naby die mense van die Karoo te wees en aan boere, skole, kerke en munisipaliteite die bedreiging in hul midde uit te spel.”

Hy reken die gemeenskappe in die Karoo is nie, soos wat die geval was met die teenstand teen die mynbouplanne aan die Wildekus, behoorlik georganiseer en ingelig om dit die hoof te kan bied nie.

Daar is twee gebiede in die omgewing van Beaufort-Wes, waar die vorige regering destyds die hoë-graadse uraan ontgin het. Die omgewing is omgedolwe, die radioaktiewe stowwe weggery na Pelindaba toe en agterna is daar net eenvoudig weggestap sonder dat die omgewing weer na sy oorspronklike toestand gerehabiliteer is.

Cramer saam met polisiebeamptes van Beaufort-Wes toe hy klagtes aanhangig gemaak het.

Cramer saam met polisiebeamptes van Beaufort-Wes toe hy klagtes aanhangig gemaak het.

Dit is sedert die sewentigerjare net so agtergelaat totdat ʼn Australiese myngroep onlangs 10 000 prospekteerskagte begin sink het.

Met ʼn onlangse besoek daar het Cramer en ʼn span ondersoekende joernaliste van die Mail & Guardian ter plaatse ontdek dat daar intussen weer kernafval, 40 keer meer radioaktief as die internasionaal- toelaatbare vlakke, gestort is. Digby dié stortingsterrein wei daar skape en is daar ook ʼn plaasdam langs die opgestapelde uraanerts.

Cramer sê radioaktiewe kernstof is in poeiervorm reukloos en word deur die wind vir honderde kilometer oor die Karoo versprei. Die reënwater spoel dit in damme en riviere waar dit ook verder langs die opvangsgebiede versprei word. Talle mense gaan siek word, waarsku hy.

Die skape is die eerste wat die radio-aktiewe stowwe deur die besmette Karoobossies inkry. Volgens hom het navorsing gewys dat die olierigheid in die diere se wol die radioaktiewe uraandeeltjies opneem, eerder as wat dit in die vleis opgeneem word.

Cramer besig met lesings van die vlakke van bestraling in die Karoo.

Cramer besig met lesings van die vlakke van bestraling in die Karoo.

Cramer het dit by die nasionale kernreguleerder aangemeld en Agri-Oos-Kaap het in verklaring hul kommer oor die situasie uitgespreek. Volgens hom was almal aanvanklik vasgevang in die stryd om die planne vir hidrobreking in die Karoo te verhoed terwyl die mynmaatskappy stilletjies inbeweeg en begin prospekteer het.

In Augustus verlede jaar sien hulle toe ʼn klein advertensie in ʼn plaaslike koerant oor vergaderings wat in Beaufort-Wes en Aberdeen gehou gaan word. Kort daarna kom hulle op die stortingsterreine op die plase af wat gamma-bestralingsvlakke van ver bó die toelaatbare vlakke gemeet het.

Op 6 Julie maak die mynkonsortium, Tasman Pacific Minerals Limited en sy Suid-Afrikaanse vennoot, Lukisa JVCo, in ʼn amptelike verklaring bekend dat hulle die aansoek om op die 570 000 hektaar plaasgrond in die Karoo te gaan myn, teruggetrek het. “In wese, dui dié aankondiging daarop dat die huidige aansoek om mynregte na 12% van die oorspronklike aansoek teruggesny word. Vir hierdie 12% (of 73 000 ha) gaan ʼn nuwe impakstudie gedoen word.

Cramer en sy vrou Erika. Sy het haar meestersgraad in landbou-ingenieurswese en is ook nou betrokke by die navorsing in die Karoo.

Cramer en sy vrou Erika. Sy het haar meestersgraad in landbou-ingenieurswese en is ook nou betrokke by die navorsing in die Karoo.

Tasman se siening word deur die plaaslike regering gesteun, wat mynwese as ʼn potensiële sleutel tot ekonomiese dryfkrag vir die gebied sien, en daarom verbind Tasman hom steeds as die verantwoordelike ontwikkelaar van die Karoo-projekte.”

Cramer het hierop gereageer en gesê die mynmaatskappy het betyds kop uitgetrek om te verhoed dat hulle heeltemal uitgeskakel sou word. “As ʼn burgerlike drukgroep kan ons ons nou op ʼn kleiner gebied toespits en hoop om net so suksesvol te wees as in die vorige fase van die stryd om uraanmynbedrywighede te stuit voordat dit in alle erns kan begin,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat dit verblydend is dat die maatskappy besef dat hulle nou eers die “uraangemors” (bestralings-brandpunte), wat met die vorige mynbedrywighede agtergelaat is, moet oplos voordat hulle kan begin myn. “Dit is belangrik dat dit baie vinnig en behoorlik gedoen moet word om die gesondheid van die Karoo en sy mense en hul vee, te verseker.”

Cramer kom uit Goslar, ʼn klein plattelandse myndorpie in Duitsland, waar daar reeds in die 10de eeu silwer gemyn is. Hy en sy vrou besoek Suid-Afrika reeds sedert 1995 met tussenposes en gaan teen die einde van die jaar terug om af te tree wanneer sy kontrak in Suid-Afrika verstryk.

Skape wei in die omgewing van die kernbesmette plaasgebied met ‘n plaasdam in die agtergrond.

Skape wei in die omgewing van die kernbesmette plaasgebied met ‘n plaasdam in die agtergrond.

“Ons werk is dan hier afgehandel,” vertel hy. “Daar is genoeg mense om die stryd ná my voort te sit.” Hy benadruk weer eens dat uraanmyne ʼn onding is en verwys na die manier waarop die Sowjetunie destyds op ʼn slordige wyse in Oos-Duitsland gemyn het om ʼn atoombom te bou. Hy het daardie 50 jaar van kennis oor die verkragting van Oos-Europa met die Suid-Afrikaners kom deel,” sê Cramer. “In Suid-Afrika gaan dit alles oor die ANC-regering se gejaag na uraan vir hul bedenklike kernkragprojek saam met Rusland.”

Die Cramers het aanvanklik Suid-Afrika toe gekom om deel te wees van die aktivisme teen hidrobreking in die Karoo, maar hy het in sy navorsing besef dat Shell nooit kan slaag nie.

Met sy vinger op ʼn geologiese kaart van die Karoo teen sy studeerkamermuur in Graaff-Reinet verduidelik Cramer daar is ʼn vulkaniese kraak in die aarde wat strek vir 450 km vanaf Beaufort-Wes tot by Queenstown. Die kraak is sowat 150 miljoen jare gelede gevorm, is 10 000 meter onder die grond en niemand het dit nog ooit bereik nie.

‘n Stortingsterrein op die plaas in ‘n prospekteergebied.

‘n Stortingsterrein op die plaas in ‘n prospekteergebied.

Hierdie skeur is soos ʼn dam in die ingewande van die aarde. Al die reënwater stroom van die berge in die Karoo en word in hierdie skeur opgevang. Dit is waar al die fonteine en water, al langs die skeur af, hul oorsprong in die Karoo het.

Met hidrobreking sal die water diep ondergronds met die hidrobreking se vloeistowwe vermeng en die drinkwater van die streek besoedel, sê Cramer. Hy is op goeie voet met Shell en onderhandel met hule oor hul planne om hidrobreking in die Karoo te begin, maar glo vas dit gaan nie gebeur nie. “Ek kan nie dieselfde oor die Australiese myngroep sê nie. Ons kommunikeer nie,” sê Cramer. Ek is ʼn wetensaplike. Ek swaai nie plakkate in protesoptoge rond nie. My doel in die lewe is om mense in te lig en op te voed.”

 

Meer oor die skrywer: De Wet Potgieter

De Wet Potgieter is ʼn ondersoekende navorser en die skrywer van verskeie boeke waarvan een die omstrede Black Widow, White Widow – Is Al Qaeda operating in South Africa? wat verlede jaar uitgegee is. Sy jongste boek, Grusaam, is nou beskikbaar.

Deel van: In diepte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lance

Gaan n korrupte anc regering nou na dit luister ….NEE

eindtyd

lees mooi op in die Bybel – as ek dit nie mis het nie staan daar ietsie oor water wat nie gedrink kan word nie!

Chris

Hier is ‘n groot probleem maar wat se ons vorige regering oor die afval en hoekom was daar nie rehabilitasie van die verwerkte en onverwerkte grond soos in ons myn en minerale wetgewings

Jakkalas

Die vrees aanjaende deel is dat daar sekere inwoners en boere in die Karoo gebied is wat dit afmaak as snert. Op Carte Blanche het die een persoon selfs gesê dat daai uraan afval al baie jare daar lê en geen effek op hulle of die diere het nie….. Nou weet ek/ons nie of dit geld is wat daar praat nie…..???? Radio aktiewe materiaal is nadelig vir mens. Ek het dit in Ukranië self gesien.

John

Die planne om eksperimentele korrelbedkernreaktors orals op te rig, is ‘n nagmerrie-in-wording. Hierdie reaktors moet glo elke 3 maande nuwe korrels kry en die oues geberg word. Dis hoekom Europa nie belangstel nie. Kyk hoe gaan ons regerings, oud en nuut, om met sulke gevaarlike grondstof en afvalmateriaal. Ons land word te gevaarlik om in te leef. Selfs wolklere is besoedel… en so baie mense in ons land het kanker.