Kommer oor ‘onwettig omgeboude’ ambulanse

Chris Hunsinger, die DA se skaduminister van vervoer.

Minstens 1 333 ambulanse wat daagliks pasiënte op Suid-Afrika se paaie vervoer is, na bewering, Toyota Quantum-paneelwaens wat onwettig omgebou is en volgens wet nie meer as drie persone mag vervoer nie. Boonop moet al drie slegs in die voorste kajuit sit.

Dit is die bevinding van ʼn ondersoek deur Chris Hunsinger, die DA se skaduminister van vervoer.

Die onwettig omgeboude paneelwa-ambulanse word veral deur provinsiale gesondheidsdepartemente gebruik en is skynbaar onwetend deur amptelike tenderprosesse as wettig geregistreerde ambulanse aangekoop, het Hunsinger aan Maroela Media gesê.

Hy beweer dat soveel as 80% van die Toyota Quantum-ambulanse in diens van provinsiale en privaat hospitale struktureel onveilig is omdat hulle onwettige paneelwa-ombouings is.

ʼn Verslag oor die onwettige ombouing van Toyota Quantum-voertuie is reeds in 2010 en weer in 2017 deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) aan die departement van vervoer voorgelê.

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het in Maart vanjaar ook ’n verslag uitgereik waarin sy bevind het dat die departement van vervoer nagelaat het om paneelwaens wat onwettig na minibustaxi’s omgeskakel is, van Suid-Afrika se paaie te verwyder.

Mkhwebane se verslag het ʼn groot opskudding in die taxibedryf veroorsaak maar sy het baie min oor die ambulansbedryf in die verslag gesê hoewel sy na bewering daarvan bewus gemaak was dat onwettig omgeboude paneelwa-ambulanse ook volop is.

Dr Zemani Saul, die premier van die Noord-Kaap oorhandig die nuwe ambulanse aan paramediese beamptes in Kimberley in Junie vanjaar.

Skaars drie maande later het die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, aangekondig dat die provinsie 63 nuwe ambulanse aangekoop het.

Maroela Media het vasgestel dat 33 reeds afgelewer is.

“Die hiervan meeste is onwettig omgeboude Toyota Quantum-paneelwaens,” beweer Hennie de Beer, wat in 2012 die klag oor die paneelwataxi’s wat onwettig omgebou is, by die Openbare Beskermer aanhangig gemaak het.

De Beer was voorheen Absa se nasionale bestuurder vir taxifinansiering. Hy het jare gelede bedank toe hy besef het paneelwaens word onwettig omgebou en as taxi’s gefinansier.

Hy het hom sedert 2010 voltyds daaraan gewy om geregtigheid vir die duisende taxi-eienaars te kry wat onwetend en ten duurste diesulke voertuie gekoop het. Die paneelwa-ambulanse is nou ook deel van De Beer se veldtog.

De Beer sê die paneelwa-ambulanse het minstens een sitplek en tot twee beddens in die agterste kajuit wat slegs vir ligte aflewerings ontwerp is. Verder is daar verskeie bykomende monterings en hegpunte vir toerusting wat binne die voertuig aan die onversterkte vloer en sypanele vas is. Ekstra vensters is ook ingesny wat die bakwerk verder verswak.

Hennie de Beer.

Volgens De Beer beïnvloed die veranderings en die ekstra gewig van die sitplekke, draagbare, toerusting en kaste die voertuie se padhouvermoë negatief. Boonop het nie Toyota Suid-Afrika óf Toyota Japan die ombouings goedgekeur nie, sê hy.

“’n Quantum-paneelwa is aansienlik goedkoper as ʼn Quantum-passasiersvoertuig wat wel omgebou mag word en die wins is dus aansienlik groter, want die niksvermoedende kliënt dink hy koop die duurder een wat wel wettig omgebou mag word.

“Dit kan beteken dat die provinsies wat paneelwa-ambulanse aangekoop het, moontlik met etlike miljoene rande bedrieg is,” sê De Beer.

Die kortwielbasis-passasiersvoertuig is, volgens beide Hunsinger en De Beer, die enigste Toyota Quantum wat wel wettig omgebou mag word. Ombouings kan slegs gewettig word deur ʼn proses waarby die vervaardiger ook betrokke is. Dit staan as homologasie bekend en sluit streng toetsing van die voertuig in.

Hunsinger sê as hierdie prosesse nie gevolg is nie en die departement van vervoer nie optree nie, sal onwettige en onpadwaardige ambulanse aanhou om hul weg na die land se gesondheidsdienste te vind.

In die geval van ʼn botsing word die insittendes dikwels soos projektiele uit hierdie voertuie geslinger of doen hulle ernstige hoofbeserings op omdat die paneelwa se dak nie versterk is nie. Die toerusting breek ook van hul hegtingspunte los en word projektiele wat die insittendes ernstig kan beseer.

Boonop mag ambulanse in ʼn noodgeval die spoedgrens oortree en ambulans-bestuurders ontvang gevorderde opleiding daarvoor. Maar dit het weinig nut as die bestuurder ʼn struktureel onveilige paneelwa-ambulans teen ʼn hoë spoed op die pad moet hou, sê Hunsinger.

Die deur van die ambulans wat ‘n omgeboude Quantum-paneel was het tydens die ongeluk oopgebars en Ishmael Leeuw is uitgeslinger.

De Beer het bewyse van sowat 180 – meestal noodlottige – ongelukke waarby Quantum paneelwaens wat as taxi’s en ambulanse omgebou is, betrokke was.

Maroela Media het vasgestel dat een van die paneelwa-ambulanse wat in Junie deur die Noord-Kaap provinsie aangekoop is, in Augustus buite Barkly-Wes gerol het nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Die ambulans het slegs 30 000 km op sy afstandmeter gehad en is glo die vorige week gediens.

ʼn Paramediese beampte, die 49-jarige Ishmael Leeuw van Pampierstad, is dood en twee verpleegsters, Ronnie Keeme en Caroline Matloko, sowel as die bestuurder, Richard Sekunkwe, is beseer. Leeuw en een van die verpleegsters het agter in die ambulans gesit en is glo uit die ambulans geslinger toe die skuifdeur tydens die ongeluk oopgebars het.

Hunsinger sê dis uiters kommerwekkend dat hierdie onwettige ambulanse, soos in die geval van die taxi’s, bedryfslisensies bekom van die departement van vervoer en die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS).

“Die meeste van hierdie paneelwa-ambulanse is as driesitplek kommersiële voertuie geregistreer en nie as ambulanse of noodreaksievoertuie nie, waarskynlik omdat ‘n ambulans jaarliks aan verpligte veiligheidstoetsing moet voldoen.”

Lelani Naudé van Angelo Kater wat in Gauteng ambulanse ombou, bevestig dat hulle ʼn gedeelte van die Noord-Kaap se ambulanse voorsien het. Sy het erken dat dit Toyota-paneelwaens is, maar volgehou dat die maatskappy skriftelike toestemming van beide Toyota en die NRVS het om dit na ambulanse om te bou.

Die lisensie sê die voertuig is ‘n ambulans maar die P in die VIN-nommer bewys dis eintlik ‘n paneelwa.

Volgens Naudé word die paneelwaens se registrasie op die eNATIS-stelsel (nadat hulle omgebou is) verander na dié van ʼn ambulans.

Rainer Hartmann van Hartmann Emergency Care in Hillcrest, KwaZulu-Natal het aan Maroela gesê sy onderneming het ses jaar gelede ʼn lisensie van die NRVS ontvang om paneelwaens na ambulanse om te bou.

Hulle is streng gekeur, maar hy weet daar is ander ondernemings wat nie aan die vasgestelde standaarde voldoen nie en wel die privaat sektor van ambulanse voorsien.

Nie Hartmann of Naudé was bereid om hul lisensies, wat glo deur die NRVS uitgereik is, of die bewys van toestemming wat van Toyota af kom, aan Maroela te stuur nie.

In 2010 het die destydse president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika, dr. Johan van Zyl, voor ʼn staande komitee in die parlement getuig. Op ʼn vraag of hy kon bevestig dat Toyota Japan al ooit toestemming gegee het dat hul paneelwaens omskep mag word in ‘n voertuig wat passasiers vervoer, was sy antwoord kort en kragtig: “Hulle het dit nog nooit gedoen nie.”

Van Zyl het later bygevoeg dat Toyota Suid-Afrika by Japan sal moet aansoek doen om so ʼn permit te kry maar dat dit nooit uitgereik sal word nie.

“Hierdie voertuig is nie ontwerp om passasiers te vervoer nie, dit is ontwerp om as ‘n vragdraende voertuig gebruik te word,” het hy gesê.

In Desember 2018 het die huidige uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika, Andrew Kirby, op die televisieprogram, Checkpoint, gesê dat dit die regering is wat die ombouing van die paneelwaens gewettig het.

“Ons sal dit nooit onderskryf nie, Toyota Japan sal ons nooit toelaat om die omskakeling van ‘n voertuig van daardie aard te onderskryf nie.”

Die NRVS se hoofinspekteur, Neil Sewamber, het in 2017 in ʼn brief aan die Noord-Kaapse departement van vervoer erken dat hy nie toestemming van Toyota Japan gevra het vir die ombouing nie omdat die betrokke ambulans reeds omgebou was.

“Goedkeuring vir die ombouing was ook ʼn saak van dringendheid vir die departement van gesondheid,” het Sewamber verder erken.

Tog het hy in dieselfde brief die ombouing probeer regverdig deur te sê die paneelwa is ʼn variant van die kortwielbasis-passasiersvoertuig en dat dit daarom wel wettig omgebou kan word.

De Beer sê die een model is beslis nie ʼn variant van die ander nie.

“Dis twee verskillende modelle: die een is ʼn passasiersvoertuig en die ander is ʼn paneelwa – hul konstruksie verskil.”

Die plakker in die agterste kajuit van die paneelwa maak dit duidelik dat dit nie vir passasiers bedoel is nie.

Verder is die Padverkeerswet duidelik: volgens regulasie 250 mag passasiers nie teen betaling in die goederekompartement van ʼn voertuig vervoer word nie.

De Beer sê die regulasie word eenvoudig nie deur die departement van vervoer toegepas nie wanneer dit by paneelwa-ambulanse kom nie.

In antwoord op skriftelike vrae van Maroela Media het Mzo Witbooi, Toyota SA se openbare skakelbestuurder, die begripsverwarring oor die interpretasie van die regulasie opgelos. Hy sê Toyota Japan het nog nooit toestemming gegee dat paneelwaens omgebou mag word om passasiers te vervoer nie.

“Die probleem is dat ʼn paneelwa se vloer in die agterste kajuit nie die struktuur en sterkte het om aan die vereistes vir sitplekke en veiligheidsgordels vir passasiers te voldoen nie. Daarom is sulke ombouings onveilig en onwettig.”

Maar volgens Witbooi is dit glo nie op paneelwa-ambulanse van toepassing nie en daarom is dit die algemene praktyk dat Toyota-paneelwaens aan kliënte verkoop word, welwetende dat dit na ambulanse omgebou word.

“Dis omdat daar nie fabrieke is wat ambulanse bou nie,” sê hy.

Die NRVS het nie op navrae reageer nie, maar op hul webwerf word die proses vir goedkeuring duidelik omskryf.

“Om ‘n voertuig te homologiseer, moet ‘n monster voorsien word vir evaluering. Verder moet die aansoek deur ‘n groot aantal gedokumenteerde getuienis ondersteun word wat deur die oorspronklike vervaardiger voorsien is. Dit moet inspeksie- en toetsverslae insluit wat deur die owerhede en erkende laboratoriums opgestel is.”

De Beer sê die departement van vervoer is by magte is om die onwettig omgeboude Quantum paneelwa-ambulanse te herroep.

“Die vraag is, hoekom doen hulle dit nie?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AARTO ·

Wat sê die minister en president hiervan? AARTO gaan dit nie aanspreek nie. Duidelik onbevoeg. Selfs Mine Health & Safety Act gaan sulke voertuie nie toelaat nie. Natuurlik reguleer die Staat die gewone landsburger tot in die fynste detail om slegs geld daaruit te maak (dit gaan nie oor veiligheid nie, maar uitgawes en inkomste). Die Staat self kom geen enkele regulasie self na nie. Boewery.

Chris ·

…….en die alternatief is ???
In Afrika is agter op ‘n bakkie of ???

Leon ·

Die vloer van ‘n paneelwa is gemaak om goedere op te sit. Dit is nie versterk om sitplekke aan vas te maak nie. Nog minder om die toerusting vir ‘n ambulans aan vas te maak nie. As jy duer ‘n slaggat gaan kan die goed losskeur. Jy kan goed daarop site. Nie daaraan vasmaak nie.
Suid Afrika het nie maatskappye wat ambulanse maak nie omdat die eienaars opgepak het en ge-emigreer het. Dit word wel in die buiteland gedoen. Soos in die VSA waar polisie voertuie spesiaal deur vervaardigers gemaak word, doen motor vervaardigers spesiale voertuie vir ambulanse en brandweer voertuie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.