Lewe van ʼn dwelmmuil: ‘Nou wil ek ander waarsku’

(Argieffoto: Pixabay.com)

Hy sit op die koue staalstoel by OR Tambo‑lughawe en wag, met sy voet wat ongeduldig op die teëlvloer tik-tik. Minder as ʼn uur voor hy op die vliegtuig moet klim.

Hierdie sal sy laaste keer wees, sy laaste reis. Dalk. Elke keer belowe hy homself dié is die laaste een, maar die duisende rande verdwyn gou in die dwelms en partytjies en voor hy hom weer kom kry, sit hy weer by die lughawe en wag.

Dan sien hy hulle. Doeanebeamptes wat reguit op hom afgestap kom. “Is jy Leon du Toit*?” vra sy, maar hy kan sien sy weet reeds wat die antwoord is. “Ja, ek is?”

“Kan ek jou paspoort kry? Stap saam met ons asseblief.”

Vir ʼn oomblik dink hy daaraan om te hardloop, maar waarheen? Daar is veiligheidswagte en polisiebeamptes oor die hele lughawe. Dan stap hy maar gedweë saam na ʼn doeane-vertrek waar sy bagasie reeds op ʼn tafel lê.

Wanneer hulle die tasse oopmaak en die pakke kokaïen op die tafel uitpak, probeer hy nie eers om geskok te lyk nie. Hy het in elk geval nog nooit iets gehad om te verloor nie.

“So wat gebeur nou volgende?” vra hy.

Dít was die oomblik wat sy lewe in ʼn ander rigting gestuur het, ʼn beter rigting, vertel Du Toit. Dalk ʼn bedekte seën as jy dit so wil sien.

Daarna het vier en ʼn half jaar agter tralies gevolg, maar dit was vier en ʼn half jaar van skoon kom van die dwelms, van introspeksie en van rehabilitasie. En nou wil hy sy storie gebruik om ander te waarsku oor die donker lewe van dwelmsmokkelary, ʼn lewe wat geen mens wil leef nie.

(Argieffoto: Pixabay.com)

Spiraal na onder

“Ek het gewerk as ʼn gekwalifiseerde brandweerman toe my pa in 2009 dood is. Ek was daar die aand toe my pa dood is. Die Suid-Afrikaanse wet sê as jy ʼn paramedikus of selfs ʼn brandweerman is en jou familie kom in ʼn ongeluk, mag jy nie op hulle werk nie. My pa het ʼn hartaanval gehad en ek het daar gesit terwyl die ouens probeer het om my pa te red… en ek het niks gedoen nie. Toe is hy dood.

“Ek het myself daarvoor blameer en begin dwelms gebruik,” vertel Du Toit.

In Maart 2012 het sy dwelmgebruik daartoe gelei dat hy sy werk verloor en dit was nie lank voor hy op straat was nie. Einde daardie jaar het hy die bietjie wat hy gehad het, opgepak en van Secunda af Johannesburg toe gegaan.

Steeds haweloos, steeds in die greep van dwelms, maar met die hoop dat hy in die Goudstad sou kon werk kry en ʼn beter lewe skep.

Hy vertel een van sy vriende het destyds vir dwelmbase gewerk. Kort voor lank het dié einste dwelmhandelaars hom genader. “Die ou het vir my gesê hy het vir my werk. Ek het gegaan om die persoon, ʼn Nigeriër, te ontmoet en hy het vir my R10 000 kontant gegee. Hy het gesê kry vir jou ʼn paspoort en kry vir jou ordentlike klere sodat jy aanvaarbaar lyk. ʼn Week nadat ek my paspoort gekry het, toe bel hy en sê, ‘Jy gaan Maleisië toe vir vakansie’. Dit was Februarie 2014.”

Sy werk was redelik eenvoudig, vertel Du Toit. Hy moes bloot “op vakansie gaan” met die dwelms in sy bagasie.

Die dwelms is in A4 grootte papier toegedraai en daarna met foelie, deurslagpapier en sellofaan. Dié metode sou glo keer dat die X-straalmasjien by die lughawe die pakkie optel. ʼn Spesifieke sproei is oor die dwelmpakkie gespuit om te verhoed dat snuffelhonde die reuk van die dwelms optel.

Met die pakke dwelms in sy tas is hy ongehinderd deur sekuriteit by die lughawe en op die vliegtuig Maleisië toe. “As jy daar aankom, moet jy ʼn SIM-kaart gaan koop en dan laat weet jy jou handelaar jy het veilig geland,” vertel Du Toit.

“Dan klim jy in ʼn taxi en gaan na jou hotelkamer toe. Sodra jy daar is, bel jy weer jou handelaar en sê in watter hotel jy is en wat jou kamernommer is. Hy bel dan sy kontak in Maleisië en ʼn halfuur later klop iemand aan jou hotelkamerdeur. Hy stap in, vat die drugs, los vir jou $500 sakgeld en dan is hy weg. Jy sien hom nie weer nie. En dan bly jy daar vir sewe dae sodat dit lyk asof jy vakansie hou en ʼn week later is jy terug in Suid-Afrika.”

Vir so ʼn reis kan jy enige iets tussen R15 000 en R50 000 verdien, sê Du Toit. Dit hang af hoeveel dwelms jy smokkel. Hoe meer jy bewys dat jy betroubaar is, hoe meer dwelms word aan jou toevertrou. Hoe meer dwelms jy smokkel, hoe groter die risiko, maar hoe meer verdien jy.

Nie dat die duisende rande juis lank gehou het nie, erken hy. “Die eerste ding wat ek gedoen het as ek in Suid-Afrika terugkom, was dwelms koop. En ek koop drank en ons hou partytjie en as die geld op is, dan bel jy maar weer jou handler en sê jou geld is op en dan reël hy vir jou. Binne ʼn week vlieg jy weer.”

(Argieffoto: Pixabay.com)

Turkye, Hongkong, Japan, Italië, Thailand – waar hy gestuur is, het hy gegaan. Dit is moeilik om presies te sê hoeveel reise hy gedoen het, maar hy was omtrent so elke twee weke weer op die lughawe op pad na sy volgende bestemming.

Sy geluk het egter redelik gou opgedroog.

Op 17 September 2014 is hy op OR Tambo betrap met 22 kg kokaïen in sy besit net voor hy op ʼn vliegtuig na Ankara in Turkye sou klim. Hy is op die plek in hegtenis geneem.

Polisiestasie. Selle. Hof. Tronk.

Du Toit is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vier jaar opgeskort is. Hy was vier en ʼn half jaar in die Modderbee-gevangenis in Benoni voordat hy op 31 Januarie vanjaar op parool vrygelaat is.

Hoewel skuldigbevinding aan dwelmbesit en -handel dikwels in Suid-Afrika nie met uitermatig swaar vonnisse gepaardgaan nie, word dwelmverwante aanklagte in talle ander lande as baie ernstig geag. In lande soos Thailand, Singapoer, Indonesië, Noord-Korea, Maleisië, Saoedi-Arabië en die Filippyne word dwelmsmokkelaars dikwels lang tronkstrawwe – en in sommige gevalle selfs die doodstraf – opgelê.

Vir sy verloofde, ook ʼn dwelmsmokkelaar, was die gevolge egter veel erger. Sy is in April 2014 by die Suvarnabhumi-lughawe in Bangkok in hegtenis geneem nadat 7 kg kokaïen in haar besit gevind is. Sy is die doodstraf opgelê, maar dit is op appèl na 36 jaar tronkstraf omgeskakel. Amnestie is egter later aan haar toegestaan en na verwagting sal sy einde 2024 uit die tronk vrygelaat en na Suid-Afrika deporteer word.

Argieffoto

Toe die traliehek toeklap

Hy het talle aande op straat geslaap, verskeie dae sonder kos klaargekom, maar niks kon hom voorberei op dit wat agter tralies vir hom gewag het nie. Dit is onmoontlik om die bendebedrywighede in die tronk te systap, vertel Du Toit.

“As jy daar inkom en jy is nie klaar ʼn gangster nie, kan jy maar weet dat jy deur die bendes genader gaan word. As jy weier om deel van ʼn bende te word, word jy ʼn frans. En as jy ʼn frans is, is jy oop om geroof te word, verkrag te word en geviktimiseer te word. Jy het geen beskerming nie. Dit help ook nie jy gaan na ʼn bewaarder toe nie. Hulle is dikwels self deel van die bendes. En as die ander eers uitvind jy het na ʼn bewaarder toe gegaan… Dan het jy éérs probleme.”

Du Toit het ook vinnig geleer dat hy enige behoefte aan privaatheid kan laat vaar. In die tronk doen jy niks alleen nie. Selle wat eintlik net 20 gevangenes kan huisves, moet tussen 40 en 50 gevangenes akkommodeer. “Daar is nie plek om te beweeg daar binne nie en dit is vuil. In die oggende word jy uit jou sel gelaat, maar 14:00 word jy weer toegesluit en dan is jy daar in daardie klein spasie ingedruk tot die volgende oggend 08:00.”

Toilette en storte het geen deure of gordyne nie en jou badkamerroetine word maar ten aanskoue van jou medegevangenes gedoen. Die misdaad gebeur nie in donker gange of om hoekies waar niemand dit sien nie, maar oop en bloot in die selle waar jy geen ander keuse het as om maar net jou oë weg te draai van wat besig is om te gebeur nie.

“Die kos bestaan meestal uit pap. Pap in die oggende. Pap en afgewaterde groente in die middag – as jy gelukkig is, dalk ʼn klein stukkie vleis. Vir aandete kry jy agt snye bruinbrood. As jy botter of enige iets anders daarby wil hê, moet jy daarvoor betaal.”

Soms bring besoekers vir jou sigarette, iets om te eet of iets om te lees, maar jy maak dit dikwels nie eers terug tot in jou sel voor dié “luukshede” deur bendelede afgevat word nie. “Dit is maar hoe dit werk. As jy nie vriende is met die grootkoppe in die tronk nie, is jy ʼn ewige teiken.”

Argieffoto

ʼn Nuwe lewe

Ondanks die feit dat dwelms vrylik in die gevangenis beskikbaar is, het Du Toit besluit om dié euwel vir goed agter te laat. “Ek is nou vier jaar en agt maande skoon,” sê hy. Hy het ook twee diplomas agter tralies verwerf en werk tans by ʼn hospitaal aan die KwaZulu-Natalse kus.

“Ek het in die tronk ingegaan met net meer as R5 000 en daarmee het ek drugs gekoop. Maar naderhand was my geld klaar en ek het geen ondersteuningstelsel gehad of iemand by wie ek kon geld kry nie. So ek was eintlik gedwing om die dwelms te los.”

Hy beskryf die onttrekking as “loutere hel”.

“Op die eerste dag raak jy jittery. Jy kan nie stilsit nie, jy is so rusteloos. Al wat jy weet is dat jou liggaam hierdie drugs soek en jy sal enige iets doen om dit in die hande te kry. Maar dag twee begin die ergste. Jou lyf pyn van die onttrekking, dit voel of mense jou heeltyd oral op jou lyf met messe steek. Jy kan nie slaap nie, want die pyn is te erg. Jy is moeg en honger, maar jy kan nie eet nie, want jou liggaam smag net na hierdie drugs. En jy het geen pille, geen medikasie om jou daardeur te help nie. Jy moet maar net deur hierdie hel gaan. Maar dit was die moeite werd.”

Toe hy deur die onttrekkingstadium is, kon hy uiteindelik aan homself erken dat hy nie meer die lewe van ʼn dwelmverslaafde wou hê nie. “Ek het net besef, dit is tyd om groot te word. Ek het verantwoordelikhede wat ek moet nakom en ek kan dit nie doen as ek op drugs is nie,” sê hy.

Hy vertel hy het nege jaar laas kontak met sy dogter gehad en tans wil sy niks met hom te doen hê nie. Maar hy hoop steeds om sy verhouding met haar te herbou wanneer die tyd reg is.

Vir nou wil hy sy storie aan ander vertel en hy hoop dat jongmense uit sy foute kan leer. “Ek dink mense moet weet hoe hierdie ouens te werk gaan; dat mense moet wéét hoe maklik dit is om hierby betrokke te raak,” sê hy.

Du Toit sê hy verstaan beter as enigiemand die desperaatheid wat mense dryf na ʼn lewe van dwelmhandel en -smokkel. Hy ken die mismoedigheid wat veroorsaak dat jy die beloftes van rykdom en luuksheid glo, dat jy jou lewe op die spel plaas vir mense wat niks vir jou voel nie.

“Ek verstaan dit, want ek was daar. Jy regverdig wat jy doen en jy probeer jouself oortuig dit is nie eintlik so erg nie. Ek het myself vertel ek maak Suid-Afrika skoon, want ek het nooit dwelms ingebring nie. Ek het dit net landuit gevat. Jy sal enige iets vir jouself sê om dit te regverdig.”

Sy verlede is iets waarvan hy nie kan weghardloop nie, iets wat hy nooit heeltemal van ontslae sal wees nie. Ja, erken Du Toit, hy kry steeds dae wanneer hy die oorweldigende begeerte kry om dwelms te gebruik. En dan vat dit alles in hom om nié onder die drang te swig nie. Dit ís moeilik.

En soms wonder hy, wat as sy vorige dwelmbaas besluit om hom stil te maak? Hy weet baie van wat gebeur, waar dit gebeur en hoe dit gebeur. Daar is maar altyd ʼn knaende vrees dat dié mense sal uitvind waar hy bly of sal probeer om hom te soek.

Maar hy weet, hy was een van die gelukkiges – iemand wat ʼn tweede kans gekry het. Hy wil dié kans gebruik om ander te help.

“Ek wil veral jongmense waarsku om nie by dwelmsmokkelary betrokke te raak nie, want ek weet eerstehands dit is nie die moeite werd nie. Ek was self daar, ek was op die laagste van laagtepunte. En noudat ek uit die tronk uit is, wil ek na skole en kerke toe gaan en vir mense gaan vertel, dít is waar ek was. Sorg dat jy nie daar beland nie.”

*Skuilnaam

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Martie ·

Baie geluk vir al jou skoon jare en baie sterkte vir die klomp skoon jare wat nog kom

Pieter Bezuidenhout ·

Baie dankie vir hierdie getuienis, dit is van kardinale belang dat oud en jonk dit moet lees en verstaan.

Magda ·

Baie bly jou lewe is nou op die regte pad, maar ek wil graag n vraag vra – Jy kry vir 22kg Kokaien 12 jaar en sit net 5-6 jaar – Ons strawwe is te lig en min – jou verloofde het eers Doodstraf en toe 36 jaar en toe Amnestie gekry vir net 7kg. Maar dra jou op in my gebede en wens jo alle sterkte toe op n mooi skoon pad. Baie Sterkte

JJ ·

Hul moes hom in Tailand of China of Saudi gevang het. SA loop oor van kriminele.

Christine ·

Sjoe dit is voorwaar ‘n pragtige eerlike erkenning en ja die versoekings gaan daar wees, maar bid elke dag dat die Here jou daardie krag sal gee om dit te weerstaan. En ek wens jou alle voorspoed toe met al jou getuienisse en waarskuwings, oral waar jy sal gaan en dat dit baie ander sal oortuig. En baie geluk !!!

JohanL ·

Glo die man lees self terugvoer op die forum – baie geluk dat jy kon loskom uit die euwel en sterkte op die pad vorentoe.

Lees gerus die boek Dead Cows for Piranhas en dan besef mens ook hoeveel onskuldige mense as lokaas gebruik word onder vals voorwendsels.

Hierdie man kan gerus praatjies by skole doen (teen betaling). Kinders luister mos nie na ouers nie – dalk luister hulle na iemand wat in die praktyk deur hel is.

Vir my steeds skokkend is dat dwelms in die tronk vrylik beskikbaar is !!!!

Mariné Lourens ·

Dagsê JohanL

Dankie vir jou kommentaar. Stuur gerus ʼn e-pos aan [email protected] indien jy graag met Leon du Toit* in verbinding wil tree.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

se net ·

Jy wil by kerke enskole getuig en waarsku, maar hoe kry mens jou aan die hande?
Ek het net een vraag, wat het jy geswot en watse werk doen jy nou?
En ja, die tronklewe is verskriklik en is nie eens nou meer wat dit was nie. Dai geen privaatheid, ek ken van dit want ek het laaaaank terug daar gewerk.

Mariné Lourens ·

Dagsê se net

Dankie vir jou kommentaar. Stuur gerus ʼn e-pos aan [email protected] indien jy graag met Leon du Toit* in verbinding wil tree.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Essa ·

Leon, so bly jy het besluit om jou kans op ‘n nuwe lewe aan te gryp – jy het hiermee bewys watter innerlike krag en karakter jy het. Moet asseblief nooit ophou om hieroor te praat, te skryf, te vertel nie – jy gaan mense red van hierdie hel. Ek wonder so baie oor die jong meisie in Maleisië (naam my nou ontgaan) wat doodstraf gekry het; hopelik begenadig was maar steeds die hel van tronkstraf in die vreemde verduur. En nog ander ook. Sterkte met jou nuwe lewe en die goeie werk van bewusmaking.

Gustav ·

Sonder regstellende aksie en BEE sal veel minder van ons wit mense in dwelmhandel betrokke raak. Daars baie ander stories wat begin met: ek het gesoek en gesoek en gesoek vir werk, maar keer op keer moes ek hoor my velkleur is ‘verkeerd’ om werk te kry”. Ek weet waarvan ek praat. Eks self deur dit. ALLES wat dié ou van die tronk ens. sê, is waar.

Maria ·

Baie dankie vir jou getuie en ……ja asb moenie ophou getuig wens jy ook veral skole kan getuig. Daar baie jong kinders wat gebruik en glo nie aan hoop nie

Maria ·

Trots op jou en glo veral jou pa ook :) en glo jou dogter sal verstaan

Susna ·

Hou net aan om jou wedervaringe daar buite weer en weer te vertel, om ons mense te waarsku hoe maklik in daardie strik getrap kan word. Glo dat jy vorentoe groot hoogtes sal bereik.

Tanya ·

En nogsteeds stroom die Nigiriers ons land binne en as dit nie dwelms is nie is dit human trafficking. Ek het niks teen iemand anders wat n beter lewe wil maak nie,maar verstaan nie hoekom ons Nigiriers en Pakistani’s in ons land toelaat nie, ek vrees vir ons kinders se toekoms!!!!

MW ·

Is dit nie hoogtyd dat die tronke ook bietjie skoon gemaak word nie, veral korrupte bewaarders uitgelig word ? Almal op die soustrein, van onder tot bo ? Ek haal my hoed af vir mense wat uit die dwelm gemors kom en ‘n beter mens van hulself maak. Byt net vas Leon. Ongelukkig moet daar altyd van iemand ‘n voorbeeld gemaak word van hoe sleg dit in so ‘n posisie kan gaan om vir ander die prentjie duidelik te maak. Jy was ongelukkig een van daardie voorbeelde/slagoffers. Hou moed

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.