Maanlanding: 50-jarige herdenking

Neil Armstrong se Apollo 11-ruimtepak by die Smithsonian’s National Air and Space Museum in Washington. Foto: (AP Photo/Andrew Harnik)

’n Jong seun saal sy fiets op en ry na die Universiteit van Stellenbosch toe. Iewers op die kampus is ’n vertrek waar die maanlanding op TV uitgesaai word. Suid-Afrika het nog nie TV nie, maar een is spesiaal gereël sodat belangstellendes kan kom kyk. Byna ’n dekade tevore was die seun as sewejarige saam met sy ouers in die VSA en het die opwinding van John Glen se ruimtereis om die aarde beleef. Hy het ook pres. John F Kennedy se belofte oor TV gesien en gehoor dat die VSA voor die einde van die dekade ’n man op die maan sou plaas. Daar was nie ’n manier dat die seun die uitsending daarvan sou mis nie. Nou, as 64-jarige, skryf die seun van destyds, Herman Toerien, weekliks die ruimtenuus vir RSG se gewilde program, Sterre en planete.

Hy gee nou sy oorskou oor die 50-jarige herdenking van die maanlanding aan Maroela Media se lesers.

Hoekom die mensdom se belangstelling in die maan?

Die volmaan gedurende ’n maansverduistering in Frankfurt, Duitsland. (Foto: Michael Probst, AP)

Die maan is gemiddeld 384 400 km van die aarde af, maar dit was nie altyd so nie. Die maan beweeg sowat 4 cm per jaar weg van die aarde af, wat beteken dat dit met sy ontstaan heelwat nader aan die aarde was. Modelle, wat met baie onsekerhede werk, dui daarop dat die maan met sy ontstaan sowat 25 000 tot 35 000 km van die aarde af kon wees. Dit het sowat 15 keer so groot soos die maan vandag van die aarde af vertoon. Dit was rooi van kleur, want met sy ontstaan was die maan vuurwarm.

Omdat die maan en aarde soveel nader aan mekaar was as vandag, was die aarde se swaartekrag-effek op die maan baie sterker as die getywerking vandag. Die gevolg was dat die maan se een kant reeds ná slegs 100 miljoen jaar permanent na die aarde begin wys het. Hoewel ons dit nie kan sien of voel nie, lig die maan se swaartekrag die droë aardoppervlak onder hom twee keer per dag met ongeveer 60 cm. Dieselfde gebeur uiteraard nie met die maanoppervlak nie omdat dieselfde kant altyd na die aarde wys.

Dit was die mens baie lank nie beskore om te weet hoe die agterkant van die maan lyk nie. Trouens, die mens het eers vanjaar die eerste werklike insigte oor die tekstuur van die agterkant van die maan gekry toe ’n Chinese maankarretjie die maan se agterkant gaan ondersoek het.

Onlangse navorsing toon ook aan dat toestande op die maan eens vir twee periodes geskik moes wees om lewe te kon onderhou. Simulasies is gewoonlik gebruik om tot dié gevolgtrekkings te kom.

Die moontlikheid dat lewensvatbare omstandighede op die maan in die verre verlede kon bestaan het, beteken nie dat daar inderdaad lewe op die maan sou bestaan het nie. Indien daar wel lewe op die maan sou wees, is dit moontlik dat daardie lewe van die aarde afkomstig kon wees. Dit sou kon gebeur as ’n groterige voorwerp die aarde sou tref, en van die rotse en bodemmateriaal sou wegslinger sodat dit op die maan kon land. Onlangse toetse op die Internasionale Ruimtestasie het aangetoon dat sekere eensellige organismes buite die ruimtestasie die erge ruimtetoestande kon oorleef, en sommiges selfs gefloreer het.

Vir miljoene jare kon die mensdom niks anders doen as om net na die maan te kyk, en sy lig in die nag te gebruik nie. In baie gemeenskappe is die maan as god aanbid.

Planne om die maan te besoek

Die foto van 30 Maart 1969 wat deur Nasa beskikbaar gemaak is wys van links na regs Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin E. “Buzz” Aldrin. Foto: (NASA via AP)

Planne om die maan te besoek het eers werklik gestalte begin kry toe die Duitsers gedurende die Tweede Wêreldoorlog vuurpylaangedrewe voertuie gebou het om die vyand mee te bombardeer.

Die verhaal ontkiem in die Tweede Wêreldoorlog toe Adolf Hitler se Duitsland met onbemande vuurpylaangedrewe tuie, eers die V1 en toe die V2, aanvalle op veral Brittanje van stapel gestuur het. Londen het onder meer kwaai deurgeloop. Die man wat aan die stuur van sake met die ontwikkeling van vuurpyle gestaan het, was Wernher von Braun. Die V2 was ’n ballistiese vuurpyl.

Ná die oorlog het die VSA Von Braun na die VSA gelok met die idee dat hy ’n groot bydrae tot die VSA se ruimteprogram kon lewer. Hy was veral bekend vir die ontwikkeling van die Saturn 5-vuurpyl wat uiteindelik ook gebruik is om die eerste bemande maanlanding moontlik te maak.

Von Braun het baie vroeg die moontlikheid van bemande reise na die maan voorsien. Reeds in 1955 het hy sy planne in ’n beeldopname bekend gestel. Dit handel hoofsaaklik oor die gebruikmaking van ’n ruimtestasie buite die aarde se atmosfeer wat ook sou dien as lanseer-tussenstasie vir tuie na die maan, maar waar die tuie ook brandstof sou kon inneem.

Von Braun het iets aangepak wat baie wetenskaplikes destyds geglo het nooit moontlik sou wees nie. So ’n artikel is ook in die gewilde Afrikaanse Kinderensiklopediereeks gedra waarin met groot oortuiging verduidelik is hoekom ’n bemande sending na die maan altyd onmoontlik sou wees. Die skrywer het egter uit die oog verloor dat dit nie ’n projek sou hoef te wees waar ’n vuurpyl regstreeks van die aarde na die maan gestuur sou word, en dieselfde vuurpyl weer van die maan terug aarde toe gelanseer sou word nie. So ’n hipotetiese reis is byvoorbeeld in die kinderreeks Tintin (Kuifie) voorgestel.

Von Braun sou die eerste bemande maanlanding met agt jaar oorleef. Hy is in 1977 op 65-jarige leeftyd oorlede.

Op 25 Mei 1961 kondig pres. John F Kennedy aan dat die VSA ’n bemande maanlanding voor 1970 beoog. Die Koue Oorlog met die Sowjetunie was in volle gang, en die Russe het ’n vroeë voorsprong in die ruimteresies ingeneem. Die VSA was vasbeslote om die voortou oor te neem, en ʼn bemande ruimtereis na die maan sou die voorsprong bo alle twyfel bevestig.

Dit sou ’n enorme prestasie wees, maar vandag meen baie ruimtewetenskaplikes dat dit erg voortydig was – dat die tegnologie nog nie werklik daarvoor gereed was nie, en dat dit eintlik ’n wonderwerk was dat dit suksesvol afgeloop het.

Die feit dat 50 jaar verloop het en ’n volgende maanlanding nog net in die beplanningstadium is, word ook as bewys gesien dat die vorige sendings te ’n groot risiko ingehou het. ’n Gans nuwe generasie tegnologie verseker dat die volgende maanlanding eintlik van nuuts af ontwerp en aangepak moet word.

Die VSA sou ná Kennedy se aankondiging die volgende agt jaar die hand diep in die sak steek om die haastige program na ’n maanlanding moontlik te maak. Nasa se begroting het in hierdie tyd ongeveer 4 persent van die VSA se federale begroting uitgemaak. In 2018 het Nasa se begroting van $7 miljard net sowat ’n half persent van die VSA se federale begroting van $4 biljoen (ofte wel Amerikaanse triljoen) uitgemaak. Die piek was tussen 1964 en 1966, al het die eerste bemande maanlanding eers in 1969 plaasgevind. Die totale koste om iemand op die maan te laat land, was tussen $20 en $25 miljard, maar met inagneming van inflasie, sowat $136 miljard dollar teen 2007 se monetêre waarde. Die program sou dus in vandag se rand-geldwaarde tot die maanlanding sowat R2 625 miljard gekos het.

Die reuse-Saturn-vuurpyle waarvan die krag nou eers min of meer deur die Falcon Heavy geëwenaar word, en die Apollo-ruimtekapsule sou die ruggraat van die program uitmaak voor Apollo 11 uiteindelik die finale sprong gemaak het.

Op 18 Mei 50 jaar gelede het Apollo 10 die laaste nielandingsvlug na die maan onderneem twee maande voor die beroemde maanlanding van Apollo 11. Hoewel dit ’n inoefening van vele aspekte van die werklike maanlanding behels het, moes verskeie aspekte nog getoets word om ’n veilige landing te verseker. Heelwat werk moes ook nog gedoen word om die oneweredige aard van die maan se gravitasie te bepaal omdat dit ’n groot invloed op akkuraatheid sou uitoefen. Dié vlug word dikwels as die grootste uitdaging en prestasie van die Apollo-vlugte beskryf.

Die drie bemanningslede het verskeie rekords opgestel. Gedurende die vlug het hulle dit nog die verste tot vandag toe van Moeder Aarde af begewe. Hulle het ook die vinnigste van enige mens tot nog toe gereis, en die spoed van net stadiger as 40 000 km per uur was ook ’n rekord vir menslike vlug.

Die vlug het verskeie noue ontkomings gehad, maar die amperste wat dit in ’n ramp ontaard het, was toe die landingstuig, Snoopy, naby die maanoppervlak buite beheer geraak en amper verongeluk het.

Dit is amper ondenkbaar dat ’n ruimtevlug van dié aard met die rekenaartegnologie aan boord so ’n rit sou kon aanpak. ’n Hedendaagse iPhone is ongeveer 130 000 keer kragtiger as Apollo 10 se rekenaar, en die rekenaar wat vir die SKA gebou word, ongeveer ʼn biljoen keer (of ’n Amerikaanse triljoen keer) kragtiger. Toe die maanprogram aangepak is, is inderhaas saamgespan om rekenaartegnologie te bevorder. Dit word beraam dat die bedryf hiermee met 20 jaar vooruitgespring het.

Apollo 11 is op 16 Julie 1869 gelanseer.

Die groot oomblik het op 20 Julie 1969 gekom toe die landingstuig, die Eagle, op die maan geland het. Alles het egter nie glad verloop nie. Kort voor die beplande geoutomatiseerde landing het die rekenaar wat dit moes beheer onklaar geraak, en die landing moes met handkontroles uitgevoer word. Met die landing was daar nog net 20 sekondes brandstof in die landingsonderstel, wat as lanseerplatform op die maan sou agterbly, oor.

Die bevelvoerder, Neil Armstrong, het die maan betree met die woorde wat daarna epies geword het:

Klankgreep: Armstrong se woorde:

In dieselfde jaar spreek Von Braun sy trots uit dat die prestasie behaal is. Hy bring onder meer hulde aan die fiksieskrywer, Jules Verne.

Altesaam 12 mense sou op die maan land, waarna die program in 1972 weens begrotingsbesnoeiings gestaak is. Net Apollo 13 kon nie ʼn maanlanding uitvoer nie toe ’n suurstofpyp gebars het, en die tuig met die hulp van die maanlandingstuigie se motore na die aarde moes terugkeer.

Altesaam 382 kg maanrots, klippies en stof is van die maan na die aarde gebring. Altesaam 2 200 monsters is met die ses sendings gebring, en is by ses terreine versamel. Die versameling van maanmateriaal is baie vergemaklik nadat Nasa ’n ruimtekarretjie saam met Apollo 15, 16 en 17 gestuur het. Dit was die laaste drie sendings.

Nasa was egter nie die eerste wat maankarretjies op die maan gebruik het nie. Die Russe het reeds in 1970 ’n onbemande karretjie, Lunokhod 1, op die maan laat land, ’n jaar voor die eerste Amerikaanse maankarretjie. Lunokhod 2 het in 1973 op die maan aangeland.

Nuwe planne

Neil Armstrong se Apollo 11-ruimtepak by die Smithsonian’s National Air and Space Museum in Washington. Foto: (AP Photo/Andrew Harnik)

Nasa se versnelde plan om weer iemand op die maan te laat land, behels dat dit binne vyf jaar sal moet geskied. Dié aankondiging is ’n maand gelede deur adj.pres. Mike Pence gedoen.

Meer besonderhede is kort daarna bekend gemaak, naamlik dat die program op lewensvatbaarheid moet fokus, met twee doelwitte, naamlik om ’n maanbasis op te rig, en om die maan as ’n vertrekstasie (gateway) na die diep ruimte te gebruik.

Die nuwe program vir besoeke aan die maan sal as Artemis bekend staan. In die Griekse mitologie was Artemis die suster van Apollo, na wie die aanvanklike maansendings vernoem is.

Die nuwe maanlandingsprogram se begroting vir vanjaar alleen is $800 miljard. Dit sluit ’n ruimtestasie in wat om die maan moet wentel, en ondertussen as die Gateway bekend sal staan.

Intussen word ander voorbereidings kliphard gedoen, soos die ontwerp van ’n maanbasis. Dit sluit in dat die bouwerk deur driedimensionele drukwerk gedoen word. Indien moontlik sal soveel moontlik van die grondstowwe op die maan self gebruik word.

Vir die reise na die maan is in wese gans ander tegnologie ontwikkel, en sal die reise na verwagting veel veiliger wees.

Met die eerste bemande maanlanding se 50ste herdenking word ’n nuwe mylpaal bereik om weer teen 2025 mense op die maan te laat land. Dan begin sakeman Jeff Bezos se Blue Horisons-maatskappy die waterstof-brandstof van sy maanlandingstuig toets.

Die tuig, ook bekend as Blue Moon, het heelwat ooreenkomste met die destydse landingstuie van die Apollo-era, maar die aandrywing verskil geheel en al. Die besluit om waterstof te gebruik is geneem nadat daar eers betreklik onlangs vasgestel is dat daar waterys op die maan voorkom. Die idee is om waterstof en suurstof op die maan te skei en as brandstof te gebruik om van die maan af na Gateway te reis, en van daar af te kan terugkeer na die aarde.

Die konsep van Gateway vir reise na onder meer Mars herinner sterk aan Von Braun se aanvanklike voorstelling van ’n ruimtestasie wat om die aarde sou wentel, en as vertrekpunt van tuie na die maan sou dien.

Hoewel die tuig ontwerp is om ’n bemanning te kan dra, word ook voorsiening gemaak dat sommige vlugte net vrag sal dra. Dit moet dan in staat wees om self te kan stuur. In plaas van ’n GPS-stelsel word ’n navigasiestelsel gebruik waardeur die tuig homself kan stuur deur die maanlandskap en sterre vir navigasie te kan gebruik.

Een van die opvallende verskille is dat die nuwe beoogde landingstuig se voetstukke veel kleiner sal wees as dié van die Apollo-landingstuie. Die oorspronklike voetstukke was groot omdat vooraf gemeen is die maan sal dalk ’n dik stoflaag dra, wat geblyk het nie die geval te wees nie, hoewel die landingstuie wel ’n hele klompie stof opgeskop het.

Neil Armstrong en Edwin Aldrin op die maan. Foto: NASA

Ter herdenking van Apollo 11 se maanlanding 50 jaar gelede is ’n nuwe boek gepubliseer wat unieke foto’s van die Apollo-program en die maanlanding self wys. Die boek, Picturing Apollo 11: Rare Views and Undiscovered Moments, is pas deur die University Press van Florida uitgegee. In die boek word veel meer foto’s bekend gestel as wat tot dusver in die media verskyn het.

Nasa sal nie onbepaald kan voete sleep om weer mense op die maan te laat land nie, as hulle nie deur die Chinese voorgespring wil word nie. China beoog om oor ongeveer tien jaar ’n wetenskaplike navorsingstasie naby die suidpool van die maan te bou.

Die eerste tuig wat privaat ontwikkel is, het vanjaar op die maan probeer land, maar daarteen gebots. Met die landing van die 600 kg swaar Beresheet, wat deur Israeli’s gebou en besit is, sou Israel slegs die vierde land ná die VSA, Rusland en China geword het wat ’n tuig op die maan kon laat land. Beresheet is die Hebreeuse woord wat “in die begin” beteken en verwys na die skepping. Dit sou onder meer probeer vasstel of die maan ooit oor ’n magneetveld beskik het.

Watermolekules hop bedags op die maan se oppervlak rond, blyk uit nuwe navorsing wat deur Nasa bekend gemaak is. Sodra dit teen omtrent die middaguur warm genoeg geword het, begin die watermolekules in die baie dun atmosfeer op die maan rondspring, en kom eers teen de aand se kant weer tot ruste wanneer dit met grond wat reeds afgekoel het in aanraking kom.

Hierdie navorsing is nog nie voltooi nie, maar die bevindings tot dusver is baie belangrik omdat water in waterstof en suurstof opgebreek kan word, en as vuurpylbrandstof gebruik kan word.

Die nuus kom te midde van Nasa se begroting wat so aangepas word dat bemande reise na die maan werklikheid kan word, en daarna ’n sending na Mars waartydens monsters van die rooi planeet terug aarde toe gebring kan word. Die lansering van so ’n Marssending kan reeds in 2026 plaasvind. Die administrateur van Nasa, Jim Brimstine, het die nuwe begrotingsvoorstelle geloof: “Vir die eerste keer in ’n dekade het ons nou genoeg geld beskikbaar om weer ’n bemande tuig tot by die maan en terug te kan kry.”

China wikkel op die maan

Met die 50ste herdenking van die eerste man wat op die maan gestap het, is die wêreld se aandag nou grootliks op die VSA se herdenking daarvan en toekomstige maanplanne gefokus. Die oog moet egter op China se maanplanne gevestig wees wat besonder aktief verloop. China is maar die derde land wat tuie suksesvol op die maan kon laat land, wat maankarretjies insluit. Die Yutu 2-karretjie het reeds 180 m op die maan afgelê, en hou reeds heelwat langer as wat verwag is. Intussen het China vasgestel dat die grondbedekking op die agterkant van die maan – waarop China nou fokus, kouer is as die grond aan die aardkant van die maan. Dit word vermoed dat dit met die samestelling van die maan verband hou. China se maanprogram het oor die afgelope 15 jaar skouspelagtig vinnig ontwikkel, en daar word beoog om dit oor die volgende tien jaar vol te hou sodat China uiteindelik ’n permanent bewoonde ruimtestasie op die maan kan bou.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: In diepte, Ruimte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

89 Kommentare

jongste oudste gewildste
leser

en daar is soveel wat se hoe die maanlanding ‘n “hoax” is, vele mense se , met bewyse, dat die landing nooit op die maan gedoen is nie
nou wie moet ons nou glo, selfs die fotos wat beskikbaar is, bewys die landing was nie op die maan nie

Boy van die Suburbs

As hulle dan nou nie op die Maan geland het nie, waar het hulle dan geland?

Michael P

Ek was n jong seun toe die maanlanding plaas gevind het ek onthou dit soos gister ek wel dat dit wel so was .As dit wel n hoax was sal dit lankal op die lappe gekom het om so iets te hoax sal net nie moontlik wees nie.

Agterdogtig

Daar is net te veel teenstrydighede om te aanvaar dat Amerika in 1969 op die maan geland het.Dit was n politieke stryd om die Russe te wen en sodoende die superioriteit van die Amerikaners te bewys.

Dorothy

Leser jy het ‘n punt. Dis net soos die fliek Dirkie van Jamie Uys in 1969. Almal het gedink die vlieg het geval in die woestyn. Later is vertel dit was ‘n ou myn hoop.