‘Ons land se smake en geure word geplunder’

Argieffoto

Argieffoto

Die smaak in koeldrank en die reuk in parfuum is internasionaal miljarde werd in ’n bedryf waar daar voortdurend gesoek word na nuwe geure en nuwe smake. Die mens soek immer na iets nuuts om te drink en die skoner geslag wil altyd ʼn nuwe en aanlokliker parfuum gaan koop om haar net daardie bietjie meer bekoorlik te kan maak.

Daar word altyd baie vinnig vinger gewys na Suid-Afrikaners as die skuldiges wat ons land se natuurbronne stroop, maar internasionale farmaseutiese firmas en ander korporatiewe konglomerate is net so hard besig om die inheemse skatte, in die vorm van plante, op ’n baie subtiele manier te stroop en uit die land te smokkel vir daardie enorme behoefte op die internasionale markte. De Wet Potgieter het met een van ons land se voorste plantkundiges hieroor gaan gesels. In die lig van die sensitiwiteit van die aangeleentheid, die invloed van internasionale farmaseutiese reuse en sy betrokkenheid by staatsinstellings, het die kenner verkies om anoniem te bly.

“Die internasionale handel lyk ietwat anders as die plaaslike stroping van ons inheemse plante vir sangomas se moetie,” verduidelik die kenner. “Die witboordjiemense van die VSA, Europa en die Verre Ooste is net baie meer gesofistikeerd met betrekking tot die maniere waarop hulle ons natuurlike skatte roof,” verduidelik hy aan Maroela Media.

Die vernaamste rede waarom Suid-Afrika so gesog is vir die internasionale medisinale, kosmetiese en voedselmarkte is die feit dat daar meer plantspesies in Suid-Afrika is as in die hele Noordelike Halfrond. Die oorsese plantbronne is reeds totaal uitgeput en Suid-Afrika is soos ʼn vars blom wat gepluk kan word.

“Wat nou gebeur is die wêreld soek nuwe deurbrake en omdat daar nou al so baie oor Suid-Afrika se medisinale plante gepubliseer is, is dit in die openbare domein vir almal om te weet.”

Tydens die Rio Plus20- beraad vir volhoubare ontwikkeling in Junie 2012 in Rio de Janeiro in Brasilië is ʼn verdrag gesluit dat die plante wat in ʼn land groei, aan dié land behoort. Enige buitelandse instansie moet dus eers by die betrokke land toestemming kry voordat enige inheemse plantegroei uit die land geneem mag word.

Dit het tot gevolg gehad dat farmaseutiese maatskappye begin soek het na nuwe doepa om te ontwikkel vir medisyne en verwante produkte. Op ʼn baie subtiele wyse stel die farmaseutiese reuse geld beskikbaar vir universiteite in Suid-Afrika om navorsing op bepaalde plante te doen. Die maatskappye soek dan saam met die navorsingsmateriaal ook die navorsingsresultate en neem besit van die patentreg aangesien hulle die geld vir die navorsing voorsien het.

“Dit is hoe ons kennis uit die land gaan,” sê die kenner. “Dit is kommerwekkend dat die studies en bevindings oral gepubliseer word vir meesters- en doktorsgrade en sodoende raak inligting oor ons plantbronne wyd bekend.”

Deskundiges wat nuwe medisyne vir maatskappye ontwikkel lees sulke tesisse en weet dieselfde plante is in ander Afrikalande ook beskikbaar waar dit baie maklik met omkoopgeld in die hande gekry kan word. Buitelandse navorsers betaal byvoorbeeld so veel as $10 000 vir ʼn paar botteltjies ekstrak van bepaalde inheemse plante wat baie maklik uit die land gesmokkel kan word. Dis baie makliker as om die plante self uit te smokkel. Met daardie ekstrak kan nuwe medisyne op die mark gebring word wat miljarde dollars in die farmaseutiese maatskappy se sakke verseker.

Dit is egter nie net die plante vir medisyne wat vir die oorsese mark gestroop word nie. Die mense wat parfuum vervaardig, koeldrankmaatskappye en die mark vir skoonheidsprodukte is ook gedurig besig om nuwe reuke, smake en kosmetiese produkte te soek en die geheim lê in Suider-Afrika se inheemse planterykdom.

Baie van Suid-Afrika se plante het die geheim vir nuwe reekse van kosmetiese middels en, volgens die kenner het die navorsers maar net die aromatiese, vlugtige olies van sekere van ons plante nodig om nuwe produkte in hul oorsese laboratoriums te gaan ontwikkel.

Dan is daar ook plante met verskillende smake. “Smake vir nuwe koeldranke is baie werd,” verduidelik hy. “Daar word ontsettend baie navorsing gedoen vir nuwe smake want die vervaardigers soek altyd na iets nuuts sodat verbruikers nie moeg raak vir produkte wat op die mark is nie.”

Suid-Afrika se blom- en blomplantbedryf word ook voortdurend deur die buiteland uitgebuit. Die Europese jaarlikse begroting in die blombedryf is selfs groter as Suid-Afrika se jaarlikse goudhandel. Dit is veral ook die Kaapse flora wat uniek en gesog oorsee is.

“Ons kry niks hieruit nie. Dit word eenvoudig met steggies en saadjies uit die land geneem en oorsee ontwikkel tot ʼn reuse-mark waarby ons geensins finansieel baat nie.”

Die kenner waarsku dat die land se natuurlike hulpbronne totaal tot niet sal gaan indien die regering nie baie vinnig ingryp nie. Soos die steenkool en ystererts wat eenvoudig net die land uitstroom vir kontant, word daar niks van ons eie bronne hier plaaslik vervaardig vir die internasionale uitvoermark nie.

“Alles word eenvoudig net gestroop vir die buitelandse mark. Die rompslomp en belangeloosheid van die regering is besig om dit alles te vernietig en af te breek. Die tradisionele genesers het permitte, maar haal plantjies na willekeur uit sonder dat die bedryf behoorlik gereguleer word.”

Hy voeg by dat die mediese potensiaal vir Suid-Afrika astronomies is … mits dit reg hanteer word. Die wêreld is honger vir nuwe goed. Die mediese praktyk is in die hande van die groot farmaseutiese maatskappye. Suid-Afrika kan heelwat verdien indien die land die mediese, kosmetiese en voedselbedryf in die land begin ontwikkel.

“Die internasionale mark misbruik die Suid-Afrikaanse inhaligheid wat die stropery van ons planterykdom met gevoude arms toelaat. Pleks van self ontgin tot voordeel van al sy burgers.”

Volgens hom is die wenresep vir Suid-Afrika die volgende:

Daar is ʼn geweldige aanvraag en nou moet die kundiges in Suid-Afrika die ander leer hoe om die inheemse plante te kweek. Hulle weet watter is die moeite werd. Hulle kan die landelike gemeenskappe help om met regeringshulp dit aan te plant. Die verwerkte produkte kan dan tot voordeel van die hele Suid-Afrika op groot skaal uitgevoer word.

Daar is reeds sulke projekte wat met vrug aan die gang is soos die verbouing van duiwelsklou en tsammas by Witdraai. Peperbas word ook reeds met vrug kommersieel gekweek. In die Kaap is dit kankerbossie, rooibos asook pelargoniums wat geoes word vir die aromatiese stowwe en vlugtige olies van die plante.

By Giyani in Limpopo word beukesbossie verbou vir muskietwerende olie en in kerswas ingewerk.

“Ek glo daar is hoop mits die regering besef watter waarde daar vir ons land se ekonomie hierin is,” het die kenner aan Maroela Media gesê.

Daar word opleidingsboeke geskryf om die landelike bevolking op ʼn maklike manier in te lig hoe die inheemse plante van Suid-Afrika beskerm en ontgin kan word tot almal se voordeel.

As laaste woord oor sy passie vir die behoud van die inheemse plantegroei het hy genoem dat daar reeds projekte aan die gang is om natuurlike medisinale middels vir die moetiemark onder higiëniese toestande te verpak en te koop aan te bied.

Meer oor die skrywer: De Wet Potgieter

De Wet Potgieter is ʼn ondersoekende navorser en die skrywer van verskeie boeke waarvan een die omstrede Black Widow, White Widow – Is Al Qaeda operating in South Africa? wat verlede jaar uitgegee is. Sy jongste boek, Grusaam, is nou beskikbaar.

Deel van: In diepte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Paul ·

Die uitgangspunt dat “ons” iets moet kry net omdat ‘n plant naby “ons” groei is bisar. Die opbrengs kom die een toe wat die moeite ingesit het om iets in ‘n bemarkbare produk te omskep.
Dis die bisarre stelsel van intellektuele eiendom wat probleme veroorsaak, nie “plundering” van iets wat slegs weens ‘n samesweringsooreenkoms aan “ons” behoort nie.

Die “kenner” wat sê hoedat daar slegs hoop is indien die regering besef waar die waarde lê, het die kat stewig aan die stert beet. Dis juis wanneer ‘n regering uitvind van iets waardevol, dat dit deur die regering geplunder word.

Genis ·

Ons het ou Flip se as daar tussen die fynbos gestrooi maar die uitlanders het hom al die pad China of Moskou toe gekarwei met hulle geplundery. Wie weet dalk sit hy al in daai saad stoor in Noorweë.

Johannes Meintjes ·

Omrede volhoubare landelike administrasie en natuurbewaring meestal in Afrika ge-ignoreer word, is daar geen effektiewe stelsel van rentmeesterskap deur tradisionele leiers en die mense van landelike gebiede nie. Sangomas en kruiedokters probeer wel hul natuurlike plantbronne bewaar, – maar die smokkel en onwettige uitvoermarkte vloei lankal reeds winsgewend en onvolhoubaar, tot nadeel van die landsburgers wie weereens bates en bronne verloor.

Knersus D ·

Ek is op soek na die Kalahari Dorsland Likeur se geurmiddels – onbekombaar!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.