Onteiening: Is jou plaaswerkers uitgelewer?

grond plaas boer trekker

Argieffoto (Pixabay)

Die voorgestelde Onteieningswetsontwerp wat voor die einde van die jaar wet kan wees, is minder rooskleurig vir plaaswerkers en plaasbewoners as wat dit op die oog af lyk.

Dit is die mening van dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rassebetrekkinge.

Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, het gesê dié organisasie steun Jeffery se standpunt en het drie van die land se voorste advokate opdrag gegee om vir AfriSake regsmenings oor dié wetsontwerp se grondwetlikheid en moontlike aanvegbaarheid te skryf.

Die Onteieningswetsontwerp is reeds deur die Nasionale Vergadering goedgekeur en die Nasionale Raad van Provinsies is tans besig met ʼn openbare deelnameproses in elke provinsie ten einde ʼn mandaat te formuleer wanneer finaal daaroor besluit moet word.

Jeffery sê daar is ʼn moontlikheid dat die wetsontwerp ook na die Huis van Tradisionele Leiers (Contralesa) vir konsultasie verwys sal word. Volgens Pieterse sal die regerende party egter sy bes probeer om die wetsontwerp voor die aanvang van die munisipale verkiesings op 3 Augustus 2016 wet te maak.

Volgens Annelize Crosby, regs- en beleidsadviseur by AgriSA, maak die bestaande wet net voorsiening vir die onteiening van bestaande regte met betrekking tot vaste eiendom.

Bo en behalwe eiendomsreg sluit dit, byvoorbeeld, ook serwitute, langtermyn­huurooreenkomste en vruggebruik in. Dié soort regte is in die aktekantoor geregistreer en as die eiendom van hande verwissel, word die nuwe eienaar ook daardeur gebind. Die nuwe eienaar moet byvoorbeeld die serwituut wat ʼn buurman die reg gee om ʼn pad oor sy plaas te gebruik, eerbiedig.

Die onteieningswetsontwerp maak vir die eerste keer voorsiening vir die onteiening van ongeregistreerde regte. Dit is tipies die regte van plaaswerkers en hul families om op die plaas te woon en hul vee daar te laat wei.

Crosby het gesê as die wetsontwerp goedgekeur word, sal houers van sulke regte vir die eerste keer ook geregtig wees op vergoeding as die eiendom onteien word, maar dit is nie heeltemal duidelik hoe die vergoeding sal werk nie.

Daar is ʼn verpligting op die grondeienaar om, wanneer hy ʼn onteieningskennisgewing ontvang, die onteieningsliggaam van die bestaan van sulke regte in kennis te stel, in so verre hy daarvan kennis dra. Die afleiding wat gemaak kan word, is dat die onteieningsliggaam dan direk met die houers van ongeregistreerde regte (die werkers) oor vergoeding sal onderhandel.

Crosby het gesê die verpligting om nou ook hierdie belangegroep te vergoed, behoort nie die bedrag wat die plaaseienaar as vergoeding ontvang, te raak nie. Die eienaar is geregtig op billike en regverdige vergoeding wat gegrond is op die waardasie van sy eiendom en dié reg word in die Grondwet verskans. “Dit kan egter wel die regering se begroting vir grondonteiening raak.”

Crosby is nie bekommerd dat die onteiening langer gaan sloer weens die bykomende proses met betrekking tot ongeregistreerde regte nie – die spertye word duidelik in die wetsontwerp uitgespel.

Jeffery het gesê ongeregistreerde regte – die regte van plaasbewoners – word outomaties beëindig op die datum van onteiening wat op die onteieningskennisgewing aangedui word. “Die reg op okkupasie kom tot ʼn einde wanneer die nuwe eienaar besit neem.” Dit is egter moontlik, en in die praktyk gebeur dit dikwels, dat die onteieningsowerheid die regte mag verleng en die plaasbewoners toelaat om langer op die grond aan te bly.

Jeffery meen egter plaasbewoners se reg op vergoeding beteken nie veel nie. Vergoeding word bereken op grond van die markwaarde van die reg met inagneming van verskeie faktore, waaronder die doel van die onteiening, die geskiedenis van die verkryging van die eiendom, of die staat voorheen subsidies in dié verband verleen het, en die gebruik van die grond.

“Hulle kan op die ou end baie min uitkry omdat die ongeregistreerde regte nie werklik in die mark waarde het nie en dit nie werklik verhandelbaar is nie,” aldus Jeffery.

Jeffery meen verder dit sou billiker wees om plaasbewoners vir werklike, direkte verliese, soos verhuisingskoste en vergoeding vir werksverliese, te vergoed. “Hulle moet ander blyplek kry en kan hul vee verloor. Die Wetsontwerp is in stryd met bepalings van die Grondwet wat beskerming teen uitsetting uit ʼn mens se woning bied.”

Die verband tussen die Wetsontwerp en die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, of die sogenaamde ESTA-wet, is ook nie duidelik nie, het Jeffery gesê. ESTA beskerm wettige okkupeerders van landbougrond teen uitsetting. “Boere kan plaaswerkers nie uitsit sonder om aan verskeie vereistes te voldoen nie. Die nuwe wetsontwerp maak nie voorsiening vir soortgelyke prosesse wanneer ʼn plaas onteien word nie.”

Jeffery het gesê in die openbare diskoers is daar tans baie min fokus op die weerloosheid van plaasbewoners, sou dié wetsontwerp goedgekeur word. Sy het pas een van die openbare verhore van die Nasionale Raad van Provinsies bygewoon en dit het hoegenaamd nie daar ter sprake gekom nie. Sy het gesê as die wetsontwerp vir konsultasie na Contralesa verwys word, kan dit langer as verwag duur voor dit finaal goedgekeur en van krag gemaak word. “Hoe dit ook al sy, daar is tans nog ʼn beperkte geleentheid om veranderinge aan te bring.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het gesê dié organisasie is baie bekommerd oor, wat hy noem, die “diskriminerende aard” van die Onteieningswetsontwerp en ESTA.

Hy sê ʼn werknemer wat 30 jaar in ʼn weermaghuis woon, vestig nie regte in die eiendom nie en vra waarom plaaswerkers oor ʼn ander kam geskeer word. “Boonop is nie net die werkers self nie, maar die breër families ook hier ter sprake. Om op só ʼn wyse regte op plaasgrond aan plaaswerkers te gee, is soos om ‘deel van ʼn fabriek’ af te staan.”

Van Zyl het verder gesê dit is nie duidelik tot watter mate die regering plaasbewoners se regte gaan eer en hulle met onteiening gaan vergoed as die wetsontwerp aanvaar word nie. “Die bepalings in die Onteieningswetsontwerp is nie volhoubaar nie. Dit vestig regte vir mense wat vir hulle niks beteken nie. Die werkers word vir die wolwe gegooi. Die regering is nie eerlik met die mense nie.”

Hy meen dit is ook die geval wanneer die regering versuim om die grond se titelakte aan begunstigdes van onteiening te oorhandig. Die begunstigdes kan as gevolg daarvan nie finansiering vir hul boerderybedrywighede kry nie. “Die mense sit in ʼn dodeakker en kan nie daar uitkom nie.”

“Ons kan nie die wetsontwerp aanvat nie omdat dit nog nie wetlike status het nie, maar berei ons voor om verskeie aspekte hierbo in die hof te beveg wanneer die wetsontwerp finaal deur die president goedgekeur en afgeteken word,” het Pieterse afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jani ·

Wil ons nou by zimbabwe draai. Waar is die leiers wat ons moet lei. Seker bang om beskuldig te word van rassisme. Geld hierdie reels net vir wit boere. Hiersie land is n disgrace.

m ·

Natuurlik gaan hierdie reels net vir wit boere geld Jani. Dis ma net nog grond wat gaan le waarop absoluut niks op aangaan nie, maar omdat dit nou aan witte behoord moet dit gevat word…………… Hierdie gaan ma net rassisme en diskriminasie op die ergste graad raak.

word wakker ·

Wat hierdie arme onnosele mense nie so lekker agterkom nie, is dat hulle eie mense so verarm want waarheen gaan al hierdie plaaswerkers gaan as die plase onteien word…. hulle doen hulle eie mense onreg aan. Hulle is so besig om komplotte teen die witman se beplan en hulle eie mense in die proses al hoe meer te laat verarm……… ai tog…………………….

VerVanRyn ·

Broeder, die DA is pro die grondonteiening! Skrik wakker en besef die DA is presies dieselfde as die ANC net met ander kleure. As daar enige politieke party is wat so iets sal doen is dit die VF+, want hulle is die enigstes wat gekant is teen die ANC se rasgedrewendheid.

Stev ·

Om aan te sluit by “word wakker”, in engels is daar ‘n bekende gesegde “cut off your nose to spite your face”.

Daar is nog baie water wat in die see moet loop voor hulle dit gaan reg kry, as hierdie “wet” aanvaar word, glo ek dit gaan die omkeer punt in hierdie land wees.

Daan ·

Die DA is te bang om te beweeg met sake soos die. Onthou hul moet swart stemme begin werf. Kom enige DA kanidaat in komende verkiesing iets sê asb.

Jef ·

Boere het plaaswerkers nodig en die plaaswerkers het die boere nodig, hulle het mekaar nodig om die boerderye draaiende te hou.
As hierdie stomme wetsontwerp sy deurgang vind gaan hongersnood die bo toon vier, waar in hemelsnaam gaan mense in SA hulle voedsel vandaan haal, dan maar invoer….nee dis onbetaalbaar.
En wat van die vrugbare landbougrond, wat gebeur daarmee, gaan seker huise daarop bou, dit is die begin van die einde.

Willem ·

Trek alles net so in die stoor as hulle da aan kom, en steek dit aan die brand.

Dee ·

Bennie Van Zyl sê ‘n werknemer wat dertig jaar in ‘n weermaghuis woon vestig nie regte daarin nie. En dan gaan hy voort deur te vra waarom plaaswerkers onder ‘n ander kam geskeer word.
Dit is groot woorde wat op een of ander manier beantwoord moet word. Dit is woorde wat vir my uitstaan in hierdie berig.

Cherokee ·

Soort van ironies dat boere nou hul plaaswerkers moet beskerm teen hul eie regering. Die regering waarvoor hulle stem.

John ·

Die regering sal nie voor die verkiesing die plaaswerkers se stemme wil verloor nie, indien dit wel baie sou tel in ‘n plaaslike verkiesing, maar hulle kan dalk later ‘op meriete’ beoordeel word afhangende of die uitverkore nuwe eienaar die werkers op die plaas wil laat aanbly om te help om die gang van sake te laat voortleef, tensy daar nuwe planne vir die plaas in die vooruitsig gestel word soos mynbou, dorpstigting, ‘n sonkragaanleg, ens. Die gebiede gaan met ‘n vergrootglas bespied word en planne daarvolgens beraam word. Die boere gaan nie net eiendom verloor nie, hulle sal moet opdok vir hul werkers ook.

Joss ·

Ons boere se hoop moet verseker nie op die DA wees nie. Hongersnood en werkloosheid gaan die hoogte in. Al wat vir ons blankes nog oorbly is ons Geloof. Sonder ons Vertroue in die Hoër Hand is ons verlore.

gerhard ·

DA sal eers kyk na hul sakeboeties. Waar die meeste winste is daar sal hulle wees. Hulle moet die swartes aan hulle kant kry om te kan regeer. Ons mense sal nie eintlik tel nie. As hulle wittes se part vat verloor hulle meer stemme as wat hulle sal bykry. Dit is hoe dit is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.