Plaaseienaar soek R30 miljoen maar Tshwane gee R90 miljoen

Die eienaar het sy plaas teen R30 miljoen aangebied, maar die Tshwane-metro het verkies om R90 miljoen daarvoor te betaal; mits ’n middelman met die regte politieke verbintenisse deel van die transaksie kon wees.

Amolemo Mothoagae het die verslag opgestel vir die burgemeesterskomitee en aanbeveel dat die duurder waardasie aanvaar moet word.

Die R6 miljoen- goue handdruk wat Tshwane se stadsbestuurder mee weggestap het toe die DA-beheerde metro ten alle koste van hom ontslae wou raak, was onlangs groot in die nuus.

Maar dit lyk of daar geen haan gaan kraai oor die twee opgeblaasde grondtransaksies waaroor Maroela Media verlede maand berig het nie.

Twee kitsmiljoenêrs het sowat R126 miljoen gemaak deur as middelmanne op te tree toe twee plase aan die munisipaliteit verkoop is en tot dusver is daar geen stappe gedoen teen die verkopers of die senior amptenare wat die transaksies geïnisieer, daaroor onderhandel en die koopkontrakte onderteken het nie.

Die gedeeltes van die plase Strydfontein en Klipfontein is egter nie die enigste onlangse twyfelagtige eiendomstransaksies in die metro se argiewe nie. Die ondersoekende tydskrif, Noseweek, berig in sy huidige uitgawe oor die plaas Roodepoort wat op soortgelyke wyse van eienaars verwissel het. En dieselfde Amolemo Mothoagae, wat ’n sentrale rol in die vorige berig gespeel het, is weer eens in een van die hoofrolle.

Sy was ten tye van die transaksies die hoof van Tshwane se departement behuising en menslike nedersettings, maar is nou die uitvoerende direkteur van Johannesburg se ontwikkelingsbeplanningsafdeling.

Mothoagae het in Desember 2015 ‘n verslag voorberei vir die burgemeesterskomitee, onder voorsitterskap van die ANC se Sputla Ramokgopa, waarin sy goedkeuring gevra het vir die aankoop van ’n gedeelte van die plaas Roodepoort 504. Die plaas is naby Bronkhorstspruit, ongeveer 50 kilometer oos van die middestad van Pretoria geleë, maar val steeds binne Tshwane se munisipale grense.

In die verslag erken Mothoagae dat Roodepoort 504 intern vir R5,9 miljoen en ekstern vir R116 miljoen gewaardeer is en voer aan dat die “grondeienaar” ingestem het om dit vir R90 miljoen aan die metro te verkoop.

“Hy was so gaaf om selfs aan te bied om ook vir die oordragskoste te betaal,” skryf sy.

Metse Mabena het opdrag vir die tweede waardasie gegee en ook Faragamo Trading 204 se faktuur deurgestuur vir betaling.

Albei die grondwaardasies was by die verslag aangeheg. Dit wys dat Lourens Aldum, ‘n eiendomswaardeerder in diens van Tshwane, die plaas vir R5,9 miljoen waardeer het deur dit met drie transaksies in die Bronkhorstspruit-omgewing te vergelyk. Hy het sy waardasie na Metse Mabeba, ‘n direkteur by Tshwane se departement van behuising en menslike nedersettings, gestuur.

Die tweede waardasie van R116 miljoen is minder as drie maande later deur Mongodi Pitso, van Dzilu Development Centre gedoen op aanbeveling van die behuisingsontwikkeling-agentskap se Calvyn Sihwili. Munisipaliteite ontvang jaarliks miljoene rande van die agentskap om subekonomiese behuisingsprojekte te finansier. Die agentskap val onder die nasionale departement van menslike nedersettings.

Pitso het Roodepoort 504 vergelyk met grondtransaksies in ander dele van die Tshwane-metro waar grond aansienlik duurder is as in Bronkhorstspruit. Hy het ook aanbeveel dat ‘n geotegniese verslag verkry moet word om te kyk of grondtoestande op die plaas wel vir ontwikkeling geskik is.

Dit was ’n vreemde versoek aangesien sy hemelhoë waardasie van R116 miljoen gedoen is asof die plaas reeds ontwikkel was. Die prys is ook kunsmatig gelaai deur kostes in te sluit vir onderhoud, agentkommissie en die ontwikkelaar se 30%-wins. Niks daarvan is egter relevant ten opsigte van onontwikkelde grond, soos in die geval van Roodepoort nie.

Nóg Mothoagae nóg die politici op die burgemeesterskomitee het die twee verskillende waardasies bevraagteken, maar daar was wel ander teenkanting teen die voorgenome transaksie.

Beide die elektrisiteit- en die water- en sanitasiedepartemente het in hul kommentaar in die Mothoagae-verslag gesê dat daar nie voldoende waterinfrastruktuur of kapasiteit of netwerk vir die beoogde ontwikkeling beskikbaar was nie. Die finansiële hoof het selfs erken dat die stad nie genoeg geld gehad het om die plaas te koop nie en toe voorgestel dat die koop oor twee finansiële jare gefinansier word.

Maar niks kon die ANC-politici op die burgemeesterskomitee stuit nie; hulle het die transaksie nog dieselfde dag (2 Desember 2015) goedgekeur.

Paul Mojapelo is die voormalige sekretaris van die ANC in die Tshwane-streek. Hy het die plaas aan Tshwane verkoop en binne oomblikke sowat R50 miljoen wins gemaak.

Dus, wie was hierdie uiters gewillige en tegemoetkomende verkoper wat selfs bereid was om R26 miljoen minder vir sy eiendom te aanvaar? Sy naam is Paul Mojapelo. Maar Mojapelo of sy maatskappy, Faragamo Trading 204 CC, het in Desember 2015 nog lank nie die plaas Roodepoort besit nie. Mothoagae het dit valslik in haar verslag so voorgehou.

Mojapelo het waarskynlik wel ‘n paar uitstekende kontakte in die metro gehad wat hom in staat gestel het om die transaksie in sy rigting te stuur en so ’n vinnige R50 miljoen vir homself – en waarskynlik vir sy medepligtiges – te maak. Alles sonder om ‘n sent te spandeer, want die Tshwane-metro het uiteindelik die rug-aan-rug-transaksies ten volle gefinansier.

Mojapelo was tot onlangs die streeksekretaris van die ANC in Tshwane. Die streek se voorsitter, Kgosientso “Sputla” Ramokgopa, was tot 2016 die uitvoerende burgemeester van die stad.

Roodepoort 504 was in ‘n trust van die ingenieursfirma Civil Consult en albei die waardasies wat by die Mothoagae-verslag aangeheg was, het dit so aangedui. Dit beteken dat sy heeltyd geweet het aan wie die eiendom werklik behoort en dat geen lid van die burgemeesterskomitee eers die waardasies gelees het nie.

Leon Wentzel is die besturende direkteur van Civil Consult aan wie die plaas Roodepoort voorheen behoort het.

Leon Wentzel, die besturende direkteur van Civil Consult, het aan Noseweek gesê dat hy sedert 2015 sonder sukses probeer het om Roodepoort 504 aan die Tshwane-metro te verkoop.

“Ek het ‘n bankwaardasie van R27 miljoen gehad en het R30 miljoen vir die plaas gevra, maar die Tshwane-amptenare het nie belang gestel nie.”

Jacob Masango, ‘n ANC-politikus en destyds ’n lid van die Tshwane-burgemeesterskomitee (MMC) vir openbare werke en infrastruktuur, het aangebied om voorspraak vir die verkoop van die plaas te maak, maar daar het ook niks van gekom nie.

Wentzel het verskeie e-posse in sy besit wat bevestig dat hy talle vergaderings met senior munisipale amptenare oor die verkoop van die grond gehad het. Een van die e-posse gaan oor ‘n vergadering wat op 28 Januarie 2016 gehou is.

Nava Pillay is die mees senior Tshwane amptenaar met wie Leon Wentzel onderhandel het toe hy probeer het om Roodepoort aan die metro te verkoop.

Die genooides was, onder andere, Nava Pillay, Manelisi Gabazana en Siphiwe Masango. Gabazana is ‘n advokaat in die streeksbeplanningsdepartement en Masango, ‘n adjunkdirekteur by grondaankope in die metro. Die mees senior amptenaar op die vergadering was Nava Pillay, destyds die uitvoerende direkteur in die kantoor van die adjunkstadsbestuurder.

“Die ouens het dit duidelik gemaak dat die munisipaliteit geensins belangstel in eiendomsontwikkeling in die Bronkhorstspruit-omgewing nie,” sê Wentzel.

Wat hy nie besef het nie was dat die burgemeesterskomitee die aankoop van sy plaas reeds op 2 Desember 2015 goedgekeur het. Maar nie met Wentzel se Civil Consult Incentive Trust as die eienaar en verkoper nie; die plan was toe reeds daar om die plaas by Paul Mojapelo se maatskappy, Faragamo Trading 204 CC te koop. En ook nie vir die R30 miljoen wat Wentzel wou hê nie, maar vir die R90 miljoen wat Mojapelo ná afslag so bereid was om te aanvaar.

Kort ná Wentzel se laaste ontmoeting met die Tshwane-amptenare, het Mojapelo ook ’n aanbod van R40 miljoen aan Wentzel gemaak – R10 miljoen meer as wat hy ooit wou gehad het. Wentzel sê hy het besef dis vreemd en het sy prokureur geraadpleeg. Dié het aan hom gesê R40 miljoen is nie veel meer as die bankwaardasie wat hy gekry het nie en dat hy dit moet aanvaar.

Steeds ongemaklik oor die hoë aanbod is Wentzel toe ook na die DA, die destydse amptelike opposisie in die Tshwane-raad, maar hy sê hy het nie weer van die party gehoor nie.

Die datum op die faktuur wat Mojapelo se prokureur, Gerhard Botha, aan Tshwane se Amolemo Mothoagae gestuur het, vertel ’n beduidende storie. Dit was geskep op 23 Februarie 2016, 12 dae ná Faragamo Roodepoort 504 by Civil Consult gekoop het, maar ’n volle 40 dae voor Faragamo die eiendom weer aan Tshwane verkoop het. Tog het Metse Mabeba, dieselfde amptenaar wat die waardasies in 2015 aangevra het, reeds die volgende dag die bedrag van R59 miljoen goedgekeur vir betaling.

Dit is nie duidelik wanneer die balans van R31 miljoen in Botha se trustrekening inbetaal is nie, maar die eiendom is twee keer op dieselfde dag in die aktekantoor oorgedra en geregistreer; eers in Mojapelo se naam en daarna in Tshwane se naam.

Historiese inligting op die titelakte toon dat Civil Consult Incentive Trust in 2012 die plaas van 142 hektaar vir R6,5 miljoen gekoop het en dit op 11 Februarie 2016 vir R40 miljoen aan Faragamo Trading 204, Mojapelo se maatskappy, verkoop het.

Op die ANC Tshwane foto is net die twee links van toepassing. Dis Paul Mojapelo en Sputla Ramokgopa.

Faragamo Trading het dit op 6 April 2016 vir R90 miljoen aan die Tshwane-metro verkoop, maar albei registrasies is rug-aan-rug op 7 Julie 2016 gedoen. Die twee opeenvolgende titelaktenommers, T52578 / 2016 en T52579 / 2016, is ‘n bewys dat die oordragte direk ná mekaar gedoen is wat beteken dat Tshwane eintlik albei transaksies gefinansier het.

Die feit dat Mojapelo se prokureur, Gerhard Botha, beide oordragte en registrasies hanteer het, is uiters onreëlmatig aangesien Botha se regsfirma na bewering nie by Tshwane geregistreer is nie en ook nie in die Mothoagae-verslag genoem is nie. Botha het intussen emigreer, maar sy kantoor in Pretoria sê daar is tussen die drie partye ooreengekom dat Mojapelo se prokureur die transaksies sou bestuur.

Noseweek het ses vrae aan Mojapelo gestuur, maar hy het die navraag na Botha verwys wat later uit San Francisco gebel het om te sê Mojapelo het hom aangestel om die vrae te hanteer en dat hy, indien dit nodig sou wees, na Suid-Afrika sou vlieg om sy kliënt by te staan.

Botha het nie die dossier voor hom gehad nie en kon nie veel van die transaksie onthou nie, maar hy het verduidelik dat Faragamo Trading se aanbod om Roodepoort by Civil Consult te koop, onderworpe was aan die tweede deel van die transaksie waar die Tshwane-metro weer die plaas by Faragamo Trading moes koop.

Botha kon nie sê hoe sy kliënt dit reggekry het om die plaas aan Tshwane te verkoop vir R60 miljoen meer as Civil Consult se prys nie. Hy het verder gesê dat metro-amptenare by hom aangehou het om ’n faktuur in te stuur wat, volgens hom, nie die normale praktyk in eiendomstransaksies is nie. Hy kon egter nie verduidelik of onthou waarom die faktuur ’n volle veertig dae voor die verkoopdatum uitgereik is nie.

Amolemo Mothoagae het navrae na Tshwane verwys omdat sy nie meer in diens van die stad is nie. Die betrokke amptenare het nie op skriftelike navrae reageer nie.

Mojapelo doen ook konsultasiewerk vir Tshwane

Die Mail & Guardian het in Oktober 2014 berig dat ‘n maatskappy wat deur Paul Mojapelo besit word, oor ‘n periode van twee jaar meer as R75 miljoen vir konsultasiewerk van die Tshwane-metro ontvang het. Mojapelo het die syfer van R75,6 miljoen betwis, maar kon nie die korrekte bedrag aan die koerant verskaf nie.

Paul & Partners Engineering was een van die 32 ingenieurkonsultante wat deur die stad Tshwane aangestel is, maar volgens die M&G se bronne het die maatskappy se politieke konneksies gehelp dat daar “maandeliks sonder versuim” werk aan hulle gegee is.

Die M&G het fakture en betalings gesien wat getoon het dat die laagste bedrag wat Paul & Partners vir werk geëis het, R548 000 was terwyl die hoogste bedrag R10,6 miljoen was.

Hy het gesê dat sy onderneming as konsultante aangestel is en dat die stad hulle gebruik wanneer hulle dienste benodig word. ‘n Senior munisipale amptenaar het op sy beurt beweer dat Mojapelo se firma voorkeurbehandeling ontvang.

Twee bronne in die metro het verder aan die M&G gesê dat die besluit om werk aan Paul & Partners toe te ken, buite die bestek van die aankopekomitees geneem word. Dit beteken dat ander verskaffers die geleentheid ontsê word om met goedkoper aanbiedinge in te kom.

Mojapelo het daarop geantwoord dat hy die regte kanale gebruik, maar dat hy nie weet wat in die komitees gebeur nie. Hy het ook ontken dat hy sy politieke mag in die streek gebruik om ANC-kaders wat in die munisipaliteit ontplooi is, te beïnvloed om sy maatskappy te bevoordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Zumie ·

Die ander naam vir besigheid in Suid Afrika is “korrupsie” of “diefstal van belastingbetalers”.
Tyd het gekom om bietjie VERANTWOORDING van die betrokkenes te vereis.

Willie ·

En so betaal ons vir die Tshwane gemors? Hoop hulle word vervolg?

Pieter ·

Nee broer niemand sal vervolg word nie hulle word beskerm dit is mos apartheid se skuld is om van siek te word en die stad val uit mekaar

Pieter ·

Daar is geen verskil tussen die DA en die ANC nie die wat DA gestem het hoop ek nou sal wakker skrik

Karl ·

Hierdiebtransaksie was nog met die ANC, en het die DA niks hiermee te doen.

CHAPPIES ·

Jaaa…neee GEEN WONDER ek hoes vir n ou duettjie en 1 mens maandeliks R3000 sodat dié MENERE EN MEVROUE heerlik kan mors met belastingbetaler geld!!

Dries ·

Karl nou hoekom bly die DA dan stil hoekom doen hulle nie hulle werk nie ons almal weet hulle werk saam

Pieter ·

Karel die DA is besig om stadig maar seker die handoek in te gooi hulle het geen plan nie hulle en die ANC werk agter af lekker saam

Gert van Wierdapark ·

Dis tyd dat die DA in Tshwane wakkerskrik en sake van BEDROG ens teenoor die betrokkenes open. Afriforum en Solidariteit sal asb ook moet help want sodanige skelm kitsmiljoeners MOET aan die pen ry! Die feit dat die madam wat n groot rol gespeel het nou n lekker vet joppie in die Jhb stadsraad het, maak die pil vir belastingbetalers om te sluk, nog n groter wroeging. GENOEG is genoeg van die soort korrupsie onder ons “belasting neuse”!

Suzette Geringer ·

In Suid-Afrika werk dit so – Hoe groter skelm hoe groter jou beloning.

christa ·

Dis Hoe dit werk hoe skelm Jy is Dan word Jy Sommer die President van ons
Suid Afrika

Dries ·

SOS -selfde ou storie!
Niemand is oenskynlik aanspreeklik ni.
Niemand word oenskynlik vervolg ni.
Niemand sien di ‘regte kant’ van di tronkdeure ni…

Outoppie ·

Ek soek R1.2 miljoen vir my huis. Sal die Tswane dalk belang stel in so 10 miljoen

JohanR ·

Geen wonder die ANC raak sommer soos skookdogters wat lekker in ‘n bondel giggel, as dit kom by grond onteining sonder vergoeding. Baie ANC ‘s gaan skatryk word soos R90m betaal word vir ‘n R30m plaas. In Engels gaan die gesegte…..that’s how we roll.

Gert ·

Dit verklaar hoekom hulle elektrisiteit so duur is, so kry hulle geld vir hierdie tipe transaksies. En die 2 partye is kop in een mus.

Jakes ·

Kan iemand my ‘n rede gee hoekom ek getrou my belasting moet betaal?

Johann ·

Cyril het so lawaai gemaak oor die staatskapers wat vervolg gaan word maar daarvan het ook dadels gekom.

ANC lite ·

We working on the rainbow. One SA for all. Keep paying and smile.

Rubber ·

Solank almal net tevrede is is alles ok. ANC kan Amerika gaan leer hoe om ‘n ekonomie op te blaas tot hy bars.

Monette ·

Waarom rapporteer julle dit nie by die Hawks of Openbare beskermer nie?

Pieter ·

Hulle werk net een week in n maand die klomp broer kyk na mekaar daar sal niks van kom nie tot die DA is stil

hercu ·

“slegte mense hou niks van die Here se kinders nie. Hulle probeer dié mense uit die weg ruim. Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom. Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak, maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word. Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie. Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle” – Ps 37:12‭-‬15‭, ‬17 DB

Daan ·

As alles in ag geneem moed word sal ek se dit is die beste en vinnigste manier van geld maak wat ek nog gehoor het! Wel gedaan! Julle eie mense sit sonder werk, sonder toekoms en jy word oornag 50Mil ryker.

Willehond ·

En die madams loop los rond met beter poste! Ek lag my lam vir hierdie sogenaamde land! Ons praat al klaar van onthou jy nog………!

Mads ·

As jy Sputla Ramokgopa se naam sien moet jy weet daar is heel moontlik korrupsie betrokke. Dis nie die eerste keer met hom nie.

Willehond ·

Ja! Hy maak geld met sput! Chop chop dan is hy n multi- miljoener!

Natan ·

Ook so ‘n geval persoonlik gehad met Eskom en ‘n 3de waardeerder. In hierdie geval wou Eskom die prys afbring dmv samespanning met die waardeerder.

Hof gee waardeerder gelyk. Die waardeerdersvereniging bevind fout met sy optrede. Die SAPD bly stil rakende hierdie bedrogsaak. Sirkus.

Piet parys ·

Wonder wie vul daai korruptes se belasting opgawes in . So 45% belasting op daai bedrag en dan kapitaal wins ook nog behoort hy dalk 20 m te kry . Maar sy belasting opgawe wys dit nie . Sover ek weet moes die bank dit gerapporteer het . Sy rekenmeester seker net so skelm . Dit is sulke dinge wat maak dat daai tipe nie my pad moet kruis nie want dit sal die laaste keer wees

Kaspaas ·

As ek reg onthou was oudminister Pietie du Plessis tronk toe a.g.v. ń soortgelyke transaksie. Maar dit was voor demokrasie.

Magda ·

Stop paying any personal tax money – tillthere is arrest / fire from their post (if in any) and sold of their goods to get that money back.

Toetsie ·

Ek wonder of die “agbares” nie dalk belangstel in n plaas in Namibië nie – die hart van ons skaapwêreld! Dit is o.k, ons sal minder as 30milj aanvaar!!!! Wag, ek het n epos om te stuur…????

karin ·

Ek ontstel my verniet! Gaan hierdie saak ooit ondersoek word en die skuldiges tronk toe gaan? Afriforum: neem asb kennis!

Lynette ·

Wat my verstand te bowe gaan, nie een van die bedrieërs gaan ooit tronk toe nie! Nee, hulle word eerder afbetaal om dan weer by vlg maatskappy te gaan werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.