SAUK-sensuur niks anders as ‘sonskynjoernalistiek’

SAUK-toetsbeeld

SAUK-toetsbeeld

Sedert die Suid-Afrikaanse Uitsaaikommissie (SAUK) se omstrede uitvoerende hoof, Hlaudi Motsoeneng, aangekondig het die SAUK gaan voortaan nie meer enige gewelddadige protesoptogte uitsaai nie, het verskeie drukgroepe, politieke partye en landsburgers hul misnoeë hieroor laat blyk.

Motsoeneng meen die SAUK sal voortaan nie meer gewelddadige protesoptogte uitsaai nie, aangesien dit ander gemeenskappe glo sal aanmoedig om ook aan gewelddadige optogte deel te neem. “Die SAUK sal nie langer hierdie individue daarmee bystaan om hul agenda deur middel van media-aandag te bevorder nie,” het Motsoeneng toe aan die media gesê.

Kort na dié aankondiging het Motsoeneng ook besluit die nasionale uitsaaier sal voortaan ook nie koerante se hoofopskrifte uitsaai nie, terwyl ook besluit is om die gewilde Sondagoggend SAfm-radionuusprogram The Editors te skrap. Die nuutste geluide wat Motsoeneng maak, behels dat RSG se Kommentaar-program ook eersdaags sal waai.

Sensuur versus ‘sonskynjoernalistiek’

Dit lyk asof Motsoeneng nie so maklik met sy planne gaan wegkom nie, aangesien Media Monitoring Africa, die SOS Support Public Broadcasting Coalition en die Freedom of Expression Institute ʼn klagte by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) oor die beoogde SAUK-sensuur ingedien het. Intussen het die Right2Know (R2K)-veldtog vandeesweek betogings in Durban, Kaapstad en Johannesburg teen Motsoeneng se planne gehou.

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

R2K se woordvoerder in KwaZulu-Natal, Thabane Miya, het aan News24 gesê Motsoeneng se verbod op die lees van koerante se hoofopskrifte is niks anders as “ʼn stap na diktatorskap” nie. Die SuidAfrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het in ʼn verklaring ook sy misnoeë oor die SAUK se onlangse sensorskap laat blyk.

“Geen regdenkende mens sal die vernietiging van openbare geriewe in die naam van protes ondersteun nie en alle mediahuise in die land het sodanige vandalisme veroordeel, maar as die media volledig oor sulke dade berig, weet Suid-Afrikaners wat aan die gang is. Wat die SAUK besluit het om te doen, is om nuus te ‘reinig’ en hy verontreg die Suid-Afrikaanse publiek daardeur,” lui die verklaring wat op 27 Mei deur die organisasie uitgereik is.

Dr. Eugene Brink, oudjoernalis en politieke ontleder by die vakbond Solidariteit, meen ʼn verbod op die uitsaai van gewelddadige protesoptogte is ʼn skending van die SAUK se mandaat as openbare uitsaaier.

“Dit is ook strydig met die rol wat die media in ʼn oop, vry samelewing behoort te vervul en kom neer op sonskynjoernalistiek wat slegs op goeie nuus fokus, eerder as om probleme uit te wys sodat dit reggestel kan word,” waarsku Brink.

Brink waarsku voorts die verbod op die uitsaai van gewelddadige protesaksie is moontlik slegs die begin van omvangryke sensorskap deur die openbare uitsaaier. “Volgende gaan geweldsmisdaad en sommer alle negatiewe nuus ook nie gedek word nie. Sodoende word alle aanklagte teen ons samelewing en die ANC onder die mat ingevee en ons as burgers ly daaronder,” sê Brink.

Die rol van sosiale media

Reint Dykema, nuusontleder by die vakbond Solidariteit, meen egter dit is vandag onmoontlik vir een media-organisasie soos die SAUK om te keer dat die werklikheid ‘uitlek’.

“Sosiale media vervul ʼn reuse rol daarin om die leemtes, wat die nuus in koerante en op radio en televisie laat, te vul. Televisie bereik byvoorbeeld ʼn groot gehoor eenmalig met ʼn boodskap, terwyl sosiale media dit moontlik maak om deurlopend op een boodskap wat belangrik is, te fokus,” sê Dykema.

Dykema wys daarop sosiale media, soos Twitter en Facebook, het reeds vandeesweek gegons oor die Tshwane-optogte wat deur die verkiesing van die stad se burgemeester aangevuur is, terwyl foto’s van die skade wat tydens die optogte aangerig is, soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het.

Gemeenskapskrag oortref staatskrag

Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM, meen dit is nie ʼn verrassing dat die openbare uitsaaier homself onder toenemende druk van die regering sensor nie. Hy meen voorts die druk op die openbare uitsaaier gaan toeneem namate interne spanning en korrupsie in die regering vermeerder.

“Die openbare uitsaaier sal dus toenemend as propagandamiddel aangewend word om die falende staat te beskerm en maghebbers op hulle plekke te hou. Juis daarom is gemeenskapsmedia so belangrik. Die leuse ‘gemeenskapskrag oortref staatsmag’ geld veral. ʼn Selfstandige taal- en kultuurgemeenskap, met selfstandige media-instellings soos radio- en internetmedia, is net beter toegerus vir die aanslag op mediavryheid wat voor die deur is,” sê Spies.

Lees meer oor Solidariteit se Bou-fonds

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarah ·

Ek besef nou net dat ek glad nie afhanklik van die SABC is vir nuus of enige ander uitsending nie – ek kyk Showmax en lees Maroela en oorseese koerante.

Ore ·

Ek lees maroela elke moontlike minuut van die dag. Hy kan maar sy “toesmeer nuus” vir homself hou! Die is maar net nog ‘n manier om skelm streke toe te smeer. Ons as Suid- Afrikaners wil sien wat aangaan in die deurmekaar land. Verbeel jou, meer “local programme” – net nog meer gemors wat geen kykers trek nie, en saam met dit miljoene rande wat weggegooi word!

Peet ·

Ag ja, die ANC lakeie prober als in hul vermoë om hul baas te beskerm, want so beskerm hulle ook hul eie basse en natuurlik die geleentheid om nog meer te skep. Dat hy kan dink die SABC is die enigste nuus bron, foeitog, ek het nuus vir hom!!!!

Goof ·

En die mense wat sauk sonskynstories glo is niks anders as morone nie.

pieter ·

mense die anc het geweet die land gaan brand met die verkiesing op hand,daarom het hulle voorsiening gemaak en die gemors probeer toesmeer.MAAR STUPID SOOS HULLE IS HET HULLE DIE MEDIA ONDERSKAT

John ·

…. wat sal oorgaan in maanskynjoernalistiek, wanneer die stasies feitlik net sinlose musiek sal speel met resepte elke uur en dit sonder noemenswaardige nuus en/of omroepers, en later tot donkermaanjoernalistiek, soos tydens die Russiese kommunistiese bloeitydperk, toe die volk dag en nag gebombardeer is met breindood-propaganda.

Lance ·

Die bestuurdet jok dan oor alles en maak uitsprake wat so verkeerd is ….so ek vewag enige iets van die SAUK met sulke mense aan stuur van sake .. .SAUK is n groot joke !

Caja ·

Ag snert man!!!! Hierdie mense het niks nodig om hulle aan te hits nie. Dis nou eenmaal hoe hulle is. Lyk my die SAUK beoefen nou die “volstruis-tegniek”. Druk sy kop in die grond en kan dan niks sien nie….dus is daar niks. Almal van hulle is kop in een “groot vol emmer vol” mis/mus! Ons wil sien wat aangaan, dis ons land en ons reg! Dankie Maroela!

My opinie ·

Sy en die ANC se plan is om die media geheel en al te muilband. Niks anders as kaping van ‘n staats instansie nie.

Rooikop ·

Ek het ‘n sterk vermoede dat daar binnekort perke op ons internet ook gesit gaan word… Dit gaan of onbekostigbaar duur raak, of ons gaan al hoe meer “gecap” word tot op ‘n punt waar jy omtrent niks kan doen nie..

Jaco Grobler ·

Vanuit ‘n ander oogpunt; van ons werkers bly in Mamelodi, hulle was onbewus van wat waar aangaan, juis omdat die SAUK nie daaroor berig nie. Die SAUK se besluit om nie sulke tipe nuus uit te saai nie, bevoordeel dus die krimineel en benadeel die goeie burger. As ek busse verloor het sou ek die SAUK dagvaar tot Motsoeneng sy laaste blink pak klere moet verkoop, as jy bewus is van ‘n probleem vermy jy dit of beplan jy om dit, hierdie nuwe beleid is ‘n opsetlike poging om sulke inligtingbte weerhou, is dit nie stafregtelik nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.