Talle maak miljoene uit Tshwane-grondaankope

pretoria-jakaranda-stad-sa-tourism-flickr-com

Pretoria. Argieffoto: SA Toerisme/Flickr.com

Die maande voor die plaaslike verkiesing in 2016 was ’n besige tyd vir die Stad Tshwane. Die metro het groot stukke grond bekom wat ‘n paar mense met miljoene rande in die sak gelaat het. Een gelukkige man het met meer as R94 miljoen weggestap sonder dat hy ’n sent van sy eie geld gewaag het.

Die eiendomstransaksies was almal rug-aan-rug gedoen, wat beteken dat daar oorspronklike eienaars sowel as tussentydse eienaars of middelmanne was. Hulle het die grond vir slegs ‘n paar minute op papier besit voordat dit dikwels teen dubbel die prys aan ‘n derde party verkoop is. Die derde party was die Tshwane-metro wat van die begin af belastingbetalers se geld gebruik het om die rug-aan-rug-transaksies te finansier.

Een so ʼn transaksie het bestaan ​​uit die koop en verkoop van twintig gedeeltes van die plase Strydfontein 306 en 307 wat noordwes van die hoofstad, naby die Rosslyn-nywerheidsgebied geleë is. Uit die titelaktes blyk dit dat Tshwane op 16 Maart 2016 die twintig landbouhoewes, wat gesamentlik sowat 226 hektaar beslaan, vir ongeveer R211 miljoen gekoop het. Die eiendomme is op verskillende datums later daardie jaar oorgedra en geregistreer in die metro se naam.

Volgens die titelaktes is dit duidelik dat elk van die twintig hoewes twee maal op een dag verkoop is. Daar is opeenvolgende nommers vir Proco Management (Edms.) Bpk. (die eienaar en verkoper) en die Tshwane Metro (die koper en nuwe eienaar). Dit wys dat elke hoewe direk nadat dit in Proco se naam geregistreer is, na Tshwane oorgedra is.

Gedeelte 6 van Strydfontein 307 is byvoorbeeld op 15 Augustus 2016 in Proco se naam geregistreer met aktenommer T63281/16 en in Tshwane se naam met aktenommer T63282/2016. Nog ʼn voorbeeld is gedeelte 37 van Strydfontein 306 wat op 21 Julie 2016 met aktenommer T56393/2016 in Proco se naam en met aktenommer T56394/2016 in Tshwane se naam geregistreer is. En so het dit aangegaan; al twintig eiendomme het dieselfde registrasiepatroon by die Pretoria aktekantoor gevolg.

ʼn Prokureur van die stad, Hannelie van Tonder van Fuchs Theron Ingelyf, het aan die ondersoekende tydskrif Noseweek, wat die beweerde verkwisting van staatsgeld oopgevlek het, gesê sy was die aktebesorger vir die twintig rug-aan- rug-transaksies. Ná ontvangs van die geld vanaf Tshwane se prokureurs, Kunene Ramapala, het Van Tonder elk van die oorspronklike eienaars asook die tussentydse eienaar, Proco, uitbetaal. Sy het ook Nungu Trading 691 (Edms.) Bpk., wat Proco se stille vennoot was, uitbetaal.

Van Tonder het verder gesê die oorspronklike eienaars het deurgaans geweet dat hulle deel was van rug-aan-rug-transaksies, wat oënskynlik gereeld plaasvind en wettig is.

Die knellende vraag is egter waarom Tshwane gewillig was om R94 miljoen meer vir Proco te betaal as wat Proco die oorspronklike eienaars betaal het? Waarom nie die grond direk by hulle koop nie?

Dit wil voorkom asof dit alles deel was van ‘n plan wat vorm aangeneem het toe Nungu Trading (Edms.) Bpk. ’n paar jaar gelede begin belangstel het om Strydfontein as ‘n toekomstige megastad te ontwikkel.

In ‘n konferensie-oproep met Nungu Trading se enigste direkteur, Izak de Villiers en prokureur Van Tonder, het sy aan Noseweek verduidelik dat die eienaars van die Strydfontein-hoewes sogenaamde beskikbaarheidsooreenkomste met Nungu gesluit het. Dit het die maatskappy tyd gegun om die nodige magtigings te bekom vir dorpstigting op ’n deel van Strydfontein. Die ooreenkoms het outomaties die koopkontrak geword toe Nungu die nodige toestemmings verkry het.

Tshepo Dibe

Maar Nungu was nêrens te sien toe die eiendomme toe wel verkoop is en die oordrag by die aktekantoor gedoen word nie. Die koper was skielik ‘n nuwe speler, Proco Management. De Villiers sê Proco se eienaar, Tshepo Dibe, het hom genader om die grond aan Tshwane te verkoop en aangebied om as tussenganger op te tree omdat hy goeie kontakte by die metro gehad het.

Dibe sê die Strydfontein-transaksies was deel van ʼn samewerkingsooreenkoms tussen Proco en Nungu en dat hy met Tshwane onderhandel het omdat sy maatskappy swart bemagtiging het, vir BTW geregistreer is en nie onafgehandelde belastingkwessies het nie.

“Proco het die finale transaksies gedoen, maar ons was deurgaans ʼn span,” was hoe hy die verbintenis verduidelik het.

Dibe is ‘n voormalige voorsitter van die Gauteng-tak van die Black Management Forum en ‘n lid van die Black Business Council. Afgesien van Proco, wat in 2013 geregistreer is, dien hy op die direksies van nog elf maatskappye.

Dit lyk ook asof Dibe ‘n verbintenis met die nasionale tesourie gehad het, want in 2014 het hy ‘n e-posadres van die tesourie gebruik. Jabulane Mulambo, die tesourie se skakelbeampte, kon nie bevestig of Dibe voorheen daar gewerk het nie en sy naam was ook nie in hul databasis nie.

Nie Dibe of sy maatskappy was ooit deel van die onderhandelings met die oorspronklike eienaars nie. Een van hulle, Louise Honiball, is in Australië opgespoor, waar sy nou woon.

Sy het vertel dat sy aan die einde van Mei 2015 ‘n ooreenkoms met ’n verteenwoordiger van die ontwikkelaar, Nungu Trading geteken het. Die koop van haar hoewe was onderworpe daaraan dat Nungu goedkeuring by die departement van menslike nedersettings vir hul beplande behuisingsprojek moes kry. Die kontrak het nie aangedui of dit die nasionale, provinsiale of munisipale departement was nie.

Ses weke later het Honiball ‘n e-pos van Pieter Smith van Nungu Trading ontvang waarin hy haar en die ander eienaars laat weet het dat ’n aansoek vir die voorgestelde Mamapo-ontwikkeling by die staat se behuisingsontwikkeling agentskap ingedien is.

In Oktober 2015 het Smith laat weet daar kan slegs met die ontwikkeling begin word nadat eksterne munisipale en ander dienste verkry is. Die eienaars het nog vyf maande gewag en op 23 Maart 2016 het hulle by Smith gehoor dat die Tshwane-metroraad die ontwikkeling goedgekeur en die nodige fondse beskikbaar gemaak het. Die ooreenkoms was egter “sensitief” en Smith het die eienaars gevra om geduldig te wees tot die waarborge ontvang is.

Dit lyk nie of die saak vir lank sensitief was nie, want die twintig titelaktes wys dat Tshwane die hoewes reeds ʼn week voor Smith se e-pos op 16 Maart 2016 gekoop het.

Volgens Honiball se titelakte het Proco haar eiendom vir R4,165 miljoen gekoop en dit toe weer onmiddellik aan Tshwane vir R6,479 miljoen verkoop. Honiball hou vol dat sy die eerste keer ​​van Proco se bestaan gehoor het toe sy in Australië gekontak is. Sy het ook nie geweet dat die prys van haar grond binne minute met meer as R2 miljoen gestyg het toe dit ʼn tweede keer verkoop is nie.

Proco het die oorspronklike eienaars sowat R117 miljoen betaal en hul grond vir ongeveer R211 miljoen aan Tshwane verkoop.

“Ons kon ‘n wins van tien rand gemaak het, of sewe rand of ʼn duisend rand, maar op die ou end gaan dit oor vraag en aanbod en wanneer dít duidelik is, word die prys bepaal,” sê Dibe.

De Villiers sê die prysverskil was omdat daar dorpstigting was en omdat Nungu sowat R3 miljoen aan stadsbeplanning bestee het. Die oorspronklike eienaars is egter nie oor die prysverskil ingelig nie.

Maar hoe groot is die dorp wat gestig is? En hoeveel waarde is toegevoeg dat Tshwane bereid was om so duur vir die grond te betaal?

De Villiers het erken dat slegs vyf van die twintig hoewes deel uitgemaak het van die aansoek om dorpstigting en dat dit maar 48 van die 226 hektaar beslaan. Tshwane se departement vir beplanning en ontwikkeling het dié aansoek reeds in 2010 goedgekeur, maar teen 2016 was die voorgestelde dorp steeds nie in die Staatskoerant geproklameer nie.

Augustine Makgata

Dis ook bevestig in ’n verslag wat Augustine Makgata, Tshwane se hoof van beplanning en ontwikkeling, in Januarie 2016 aan die stad se burgemeesterskomitee voorgelê het. Tog het Makgata steeds buitensporige hoë pryse vir elk van die hoewes aanbeveel. Hy het ook voorgegee dat Proco en Nungu die eienaars van die Strydfontein-grond is en het niks van die werklike eienaars gemeld nie.

Makgata se verslag het ook verwys na “omvattende waardasies” wat gefinaliseer is en wat by sy verslag aangeheg is, maar ondanks talle versoeke, kon hy nie hierdie “omvattende waardasies” aan Noseweek verskaf nie.

Die waarheid is dat Tshwane se eie interne waardeerders blatant omseil is, hoewel dit hul werk is om eiendom wat die metro wil aankoop, te waardeer. As ’n buitemaatskappy wel die grond waardeer het, was dit vir dubbel die werklike waarde daarvan.

Die burgemeesterskomitee het die aankoop op 20 Januarie 2016 goedgekeur.

Die verkryging van nog ʼn plaas, die restant van gedeelte 164 van Klipfontein 268, is dieselfde dag ook op aanbeveling van die Makgata verslag aanvaar. Al verskil was dat ’n ander speler met miljoene sou wegstap.

Makgata se verslag het Golden Tau Developments (Edms.) Bpk. korrek aangedui as die eienaar van Klipfontein, maar by registrasie in Julie 2016 was daar skielik ’n ander eienaar, Linked Thoughts Consulting BK. Op die titelakte lyk dit asof dit nog ‘n vinnige rug-aan-rug transaksie was, want die titelaktenommers, T43143/2016 en T43144/2016, volg ook direk na mekaar.

Tshwane het die plaas teen R85,5 miljoen by Linked Thoughts Consulting gekoop en Linked Thoughts het die oorspronklike eienaar, Golden Tau Developments, net meer as R53 miljoen betaal wat beteken die wins wat binne minute gemaak is, was meer as R32 miljoen.

Die bron van die geld was natuurlik en weer eens die belastingbetaler.

Sover vasgestel kon word, is daar vandag steeds nie dorpstigting op die grond gedoen nie en ’n derde van die 118 hektaar wat aangekoop is, bestaan uit vleiland wat nie ontwikkel kan word nie.

Mokete Rakgogo

Golden Tau Developments was destyds in likwidasie en die verkoop van die maatskappy se bates is deur ’n likwidateur, Zaheer Cassim, behartig. Linked Thoughts se enigste direkteur, Mokete Rakgogo, sê hy het ‘n deposito van R2 miljoen aan Cassim betaal toe hy Klipfontein gekoop het en is drie maande gegee om ‘n vennoot of belegger te vind. Maar dit het gou duidelik geword dat Tshwane oor die volgende drie jaar nie grootmaatdienste soos water, riool en ander infrastruktuur sou kon lewer nie.

“Uiteindelik het ek verloor omdat Tshwane nie dienste kon verskaf nie,” sê Rakgogo. “Hulle het verkies om die grond te koop en het ‘n winskoop gekry, want dit gaan in die toekoms miljarde rand werd wees.”

En dit lei weer na die vermiste waardasies. Terwyl Rakgogo sê die prys wat Tshwane betaal het, was nie te hoog vir wat hulle gekry het nie, sê kenners Klipfontein is maar ongeveer R20 miljoen werd.

Rakgogo het sedert 2016 voortgegaan om landbougrond in Tshwane te koop, ondanks die wete dat die metro nie grootmaatdienste vir ontwikkeling kan lewer nie. In sy privaat hoedanigheid en deur sy maatskappy, Linked Thoughts Consulting, besit hy 12 eiendomme ter waarde van meer as R22 miljoen en nie een van hulle het ’n verband op nie.

Amolemo Mothoagae

Amolemo Mothoagae was, volgens Rakgogo, die persoon met wie hy by Tshwane onderhandel het. Sy het ook op 31 Mei 2016 die faktuur vir betaling gesertifiseer. Mothoagae is nou die uitvoerende direkteur van ontwikkeling en beplanning by die Johannesburg-metro en het alle navrae na Tshwane terugverwys.

Zaheer Cassim het nie op verskeie oproepe en vrae wat per e-pos aan hom gestuur is, gereageer nie.

‘n Paar maande voor Tshwane Klipfontein en die gedeeltes van Strydfontein gekoop het, het die destydse hoofverkrygingsbeampte van die nasionale tesourie, Kenneth Brown, ‘n brief aan Jason Ngobeni, die destydse stadsbestuurder van Tshwane, gestuur.

Brown het gesê dat sy kantoor bewerings ontvang het dat die munisipaliteit van voornemens is om dele van die plaas Sterkwater 106 teen ‘n hoë prys aan te koop.

In die brief word verwys na die groot verskil tussen die interne en eksterne waardasies.

“Die interne waardasie dui aan dat die grond R25 miljoen werd is, terwyl die eksterne waardasie sê dis R135 miljoen werd. Die munisipaliteit het ingestem om R100 miljoen vir hierdie eiendom te betaal,” het hy geskryf.

‘n Skermskoot van die brief wat deur die Nasionale Tesourie gestuur is.

Die destydse minister van finansies, Nhlanhla Nene, is in die brief gekopieer en Tshwane is versoek om sowel die waardasies as die munisipale tariewe en belasting wat betaal is, in te dien, asook notules van die vergaderings wat gehou is om die verkryging te bespreek.

Tshwane het die dokumente ingedien en die interne waardasie het getoon dat die grond inderdaad vir R25 miljoen gewaardeer is. Die voorgestelde aankoop is toe gekanselleer.

Verskeie ander transaksies, waaronder Strydfontein en Klipfontein, het egter deurgeglip.

Tshwane se burgemeester, Stevens Mokgalapa, het laat weet dat hy kennis geneem het van die storie, maar Maroela Media kon geen bewyse vind dat enige aksie tot dusver geneem is teenoor die middelmanne of die amptenare wat by die transaksies betrokke was nie.

Die oorspronklike berig verskyn in die Augustus-uitgawe van Noseweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Belinda Erasmus ·

Moenie vir my kom sê dat die staatskoffers leeg is, wanneer daar so kwistig te werk gegaan word met die belasting betalers se geld!

Pieter ·

Dit is hoekom die tariewe bly op gaan so dat daar net bly geld gemors kan word hulle kan en sal nooit n land kan best nie al wil hulle

Pieter ·

Dit is tyd vir belastingboikot mense praat gaan ons niks help nie kla nog minder ons moet vat daar waar dit seer maak

Jimmy ·

Pieter, massa stakings is beter. Bring die ekonomie tot stilstand.

Anel ·

Raai wie was in beheer van Tshwane in daardie tyd? ANC
Daar sal weereens niks van kom nie!!!

Magda ·

Dis hoekom die ANC die DA so graag uit die stoel gelig wil kry – BELASTING BOIKOT – HOE EN WAAR KAN DIT GEREEL WORD.

Pieter ·

Ek stem magda praat help nie mense ons mors ons tyd hulle lag vir ons belastingboikot gaan dalk die ore oop maak

skurweberg ·

Dit klink vir my na ‘n verhaal sonder einde en gevolge.

Pieter ·

Ons blankes gaan nooit leer nie is reg betaal julle maar julle belasting by my gaan hulle nie meer n sentbkry nie dan gaan sit ek maar in die tronk dan kan hulle maar vir my sorg genoeg is nou genoeg

Pieter ·

Ons blankes gaan nooit leer nie is reg betaal julle maar julle belasting by my gaan hulle nie meer n sentbkry nie dan gaan sit ek maar in die tronk dan kan hulle maar vir my sorg genoeg is nou genoeg

Pieter ·

Los maar jou hoop die anc maak net wat hulle wil hulle sal niks oor kom nie ons almal weet dit mos nou al teen die tyd

Blommie ·

HE HE HE, VIVA SA.
Neewat weet nie van julle nie. Maar met nuwe verkiesing STEM ek ANC, dan kan ek ook my hand in die koffer kry. HA HA HA
Lekker man lekker

Regtig ·

Ons is goed met kla en niks doen, maar met Mei 2019 se verkiesing was daar ongeveer 285,000 bederfde stemme en miljoene wat weggebly het en sommige dommes het nog vir die ANC nasionaal gestem want Cyril gaan alles reg maak (he he). So, die ANC korrupsie masjien bly in beheer van alles, selfs die regstelsel. Volgens ‘n vorige opname is dit bewys dat mense in SA stem vir ‘n party en dan gebruik hulle protesaksies om verandering te bring oor dienslewering ens. So, mense verkies die chaos en dan die lekker kla om die braaivleis vure of op sosiale media.

Kerneels ·

Die meerderheid van die kiesers het klaar moed verloor. Indien jy elke dag moet veg vir oorlewing is politiek die laaste ding waaraan jy dink.

Gert van Wierdapark ·

Ek is VERHEUG dat die DA se burgemeester darem kennis geneem het van die saak. Hy ly seker nog aan China-jet-lag! Ek verwag egter nie spoed-eisende optrede nie, want politici het mos die tyd aan hul kant!

Gert van Wierdapark ·

ASSEBLIEF Maroela Media, jul MOET die storie opvolg en ons op hoogte hou. Sulke PLUNDERING MAG NIE net daar gelaat word nie!!!!

Magaretha van Heerden ·

Ek kan nie glo daar is nog mense wat in die korrupte land wil bly nie. As jy kan kom uit en maak n nuwe toekoms elders.

Frans C ·

Wat hier plaasgevind het is algemene praktyk veral waar daar kleinhoewes ingedrang is.
Agente koop bv ‘n landboehoewe op vir R2 miljoen en verkoop dit dat aan ‘n petrolmaatskappy vir miljoene meer.

Die maatskappy gebruik die agente want hul weet as hulle die eienaar direk nader en hom/haar inlig oor wat hul beoog die prys heelwat hoëer gaan wees.In ‘n stadsraad werk dit anders want alle groot Metros het hul eie waardeerders wat gebruik word om eiendomme vir eiendomsbelasting te waardeer.

Dit is dus snaaks dat die waardasierol nie geraadpleeg is nie voordat die aankope gemaak is nie.Iemand in die Raad maak lekker geld in samewerking met ander.Kyk maar hoe lê een van die manne in die storie soos ‘n vetgemeste varkie in sy stoel.

Ruiklont ·

Wel gedaan met die bietjie speurvernuf, vat hulle vas en sit die skuldiges lank, baie lank agter tralies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.