Talle SA’ners se Mauritius-drome ly glo skipbreuk

Miranda Hartzenberg-Meyer.

Beloftes van welvaart en ʼn idilliese eilandbestaan het ʼn klomp Suid-Afrikaners ontnugter en in die rooi gelaat ná daar tot dusver niks van hul beleggings in ʼn beplande hotel en vakansieoord op Mauritius gekom het nie.

Die Clear Ocean Hotel & Resort ter waarde van ongeveer $360 miljoen (sowat R5,4 miljard) sou volgende jaar sy deure oopmaak, maar tot dusver is nog nie ʼn sooi gespit nie. Daar word bereken dat beleggers reeds sowat R100 miljoen in die projek ingeploeg het.

Van hulle beweer nou dat hul geld al jare lank die spoggerige leefstyl van Miranda Hartzenberg-Meyer, die ontwikkelaar se uitvoerende hoof, finansier.

Verskeie klagtes van bedrog is by die Valke in George en Kaapstad teen Hartzenberg-Meyer aanhangig gemaak. Lt.kol. Philani Nkwalase, die Valke se woordvoerder in die Wes-Kaap, het die dossiernommers bevestig en aan Maroela Media gesê die sake word ondersoek.

Die Reserwebank en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is glo ook op haar spoor.

Hartzenberg-Meyer besit ʼn netwerk van maatskappye en trustfondse wat van Suid-Afrika tot in die Seychelle en Mauritius strek. Haar Phoenix Trust se bankrekening by FNB in Suid-Afrika is gebruik om beleggers se geld na die buiteland oor te plaas.

‘n Skermskoot van ‘n plasing op Miranda Hartzenberg-Meyer se Facebook-blad.

Pelangi Trust in die Seychelle besit Pelangi Resort Holdings (Bpk.) wat ʼn meerderheid-aandeel in Clear Ocean Hotel & Resort (Bpk.) in Mauritius het. Dié maatskappy probeer sedert 2014 om die hotelprojek van die grond af te kry.

Hartzenberg-Meyer is die uitvoerende hoof van Pelangi Resort Holdings en die besturende direkteur van Clear Ocean Hotel & Resort. Haar mededirekteure is Rocky Boodhoo, ʼn boorling van Mauritius en Francois Conradie, ʼn sakeman van Noordwes. Conradie het na raming reeds sowat R50 miljoen opgedok om die projek telkens van ondergang te probeer red.

Ten minste nog vyf ander groot beleggers in die Wes-Kaap het sedert 2014 ʼn verdere sowat R20 miljoen in Pelangi ingeploeg met die verwagting dat hulle aandele in die projek sal ontvang wanneer ʼn finansierder aan boord kom en met bouwerk begin word.

Meer as 50 beleggers het ook minstens R150 000 elk vir opsies op aandele in filiaalmaatskappye betaal. Dié sou noodsaaklike dienste soos menslike hulpbronne en bemarking aan Clear Ocean verskaf en kleiner besighede soos ’n haarsalon, fiksheidsentrum en tuindienste bedryf wanneer die hotel sy deure oopmaak.

Flambojante ouma se luukse leefstyl

Miranda Hartzenberg-Meyer.

Dié flambojante ouma het ses jaar gelede op Facebook begin spog dat haar drome bewaarheid is en dat Pelangi ʼn vyfster vakansieoord op Mauritius gaan bou. Sy het ook aan almal wat wou luister, vertel dat groot geld gemaak kan word deur in eksklusiewe aandeelopsies te belê.

Goedgelowige vriende en kennisse het gou saam begin droom, veral omdat verblyfreg en werkpermitte op Mauritius, volgens Hartzenberg-Meyer, by die aandeelopsies ingesluit was. Die meeste beleggers wou sak en pak Mauritius toe te trek.

Al wat hulle moes doen, was om ʼn kontrak met Pelangi te sluit en die geld in Hartzenberg-Meyer se Phoenix Trust-rekening in te betaal. Dit het na ʼn ideale geleentheid geklink en om vir die opsies te betaal, het die meeste beleggers hul huisverbande vergroot, pensioene onttrek of die geld geleen.

Intussen het “die meisie van Mosselbaai”- soos Hartzenberg-Meyer graag na haarself verwys – letterlik en figuurlik hoog gevlieg. Sy en haar kinders en kleinkinders het gereeld in besigheidsklas tussen haar luukse verblyf in Mauritius en haar herehuis buite Mosselbaai gependel.

Sy het dikwels haar glansryke bestaan en haar liefde vir haar Skepper in dieselfde plasings op Facebook besing. Een van die beleggers, wat verkies om anoniem te bly, sê die foto’s van Hartzenberg-Meyer en haar vriende wat op die strand baljaar en op plesierbote rondjakker, het hom oortuig dat die projek op koers was, maar langer neem as wat voorsien is.

“Ek het vasgebyt en gewag, want Miranda het altyd ʼn storie gereed gehad oor hoekom die projek sloer.”

Maar agter die skerms het dit nie so goed gegaan nie.

‘Hou op om ons strande te steel’

Die beplande ontwikkeling het die wind van voor in Mauritius gekry.

ʼn Informele burgerregtegroep op Mauritius, Aret Kokin Nu Laplaz (AKNL) – die naam beteken letterlik Hou op om ons strande te steel – het die 60 jaar-huurkontrak vir die grond bevraagteken.

Die minister van behuising en grondsake, Showkutally Soodhun, wat die kontrak namens die regering met Clear Ocean Hotel and Resort gesluit het, het later uit sy pos bedank.

AKNL het ook aangevoer dat die grond binne ʼn erfenisgebied val en dat Mauritius se nasionale ontwikkelingsplan die bou van nog meer hotelle aan die kus verbied. Hulle het gereeld vreedsame betogings teen die bou van die oord gehou en selfs in onderonsies met Hartzenberg-Meyer en haar vriende betrokke geraak wat hulle met woord en daad van die strand af probeer verwilder het.

Volgens Carina Gounden, ‘n aktiewe lid van AKNL, beslaan hotelle, oorde en gholfbane nagenoeg 90 km van Mauritius se kuslyn.

“Dit word jaarliks deur sowat 1,1 miljoen toeriste benut terwyl die 1,2 miljoen plaaslike inwoners slegs toegang tot die helfte van die eiland se strande het.”

Ontnugterde beleggers wat die aandeelopsies gekoop het, probeer nou al vir meer as ʼn jaar om hul geld terug te kry. Van hulle is in skuld gedompel en een het selfs ʼn senuwee-ineenstorting gehad.

Hulle beweer hulle is by ʼn bedrogspul betrek wat Hartzenberg-Meyer fyn uitgewerk en beplan het. Sy het glo dieselfde opsies aan meer as een belegger verkoop en boonop nie die filiaalmaatskappye geregistreer nie. Boonop is die Phoenix Trust se rekening na bewering intussen gestroop.

Een van die beleggers het aan Maroela Media gesê dis eintlik ironies dat Hartzenberg-Meyer nog nie gearresteer is nie.

“Want almal wat geld belê het, weet waar sy al maande lank in Kaapstad woon.”

Beweerde ongerymdhede in Mauritius

AKNL betoog op die strand in Mauritius.

Hartzenberg-Meyer beweer sy het nou ʼn finansierder bekom wat teen 12 November die eerste betaling gaan maak. Al die beleggers gaan dan glo hul geld terugkry, maar sy wou nie die naam van die finansierder aan Maroela Media bekend maak nie.

Die beleggers sê hulle hoor dieselfde storie al jare lank en dat ʼn paar potensiële finansierders voorheen koue voete gekry het, juis oor die dreigende regsaksies van skuldeisers wat die afgelope ses jaar by die projek betrokke was.

Die regering van Mauritius het sedert 2017 reeds drie keer uitstel vir die aanvang van die bouwerk gegee omdat die projek nie betyds finansiering kon bekom nie en omdat die nodige permitte nie uitgereik was nie.

Tydens vraetyd in Mauritius se parlement op 8 Mei 2019 het die huidige minister van behuising en grondsake, Purmanund Jhugroo, dit duidelik gestel dat geen verdere uitstel toegestaan sal word nie. Die laaste sperdatum was 30 Junie vanjaar, maar dis weer eens gemis.

Volgens Yan Hookoomsing van AKNL het die regering nie Clear Ocean se omgewingsimpakstudie (OIS) aanvaar nie omdat dit oorspronklik vir die maatskappy, Midas Acropolis, gedoen is. Midas Acropolis wou ʼn ander hotel op die terrein bou, maar het na bewerings van ongerymdhede die projek gekanselleer en die grond aan die staat teruggegee.

Hartzenberg-Meyer beweer sy het ʼn samewerkingsooreenkoms met Midas Acropolis gehad en hou vol dat die impakstudie ook vir haar hotel wel aanvaar is. Sy beweer ook alle dokumentasie is opgestel en die tariewe bygewerk, maar dat die Mauritius-regering traag is om ʼn klaringsertifikaat uit te reik.

Die terrein waar die hotel en oord gebou sou word by Pomponette in Mauritius.

In Mauritius is glo lankal vermoed dat die land se voormalige minister van omgewingsake, Deva Virahsawmy, by die Midas Acropolis-projek betrokke was, soveel so dat sy rol in 2015 na bewering deur die eiland se polisie ondersoek is. Dit was deel van ʼn omvattende ondersoek na korrupsie met staatsgrond tydens die bewind van die vorige regering wat in Desember 2014 by die stembus verslaan is.

AKNL beweer die polisieondersoek het op geheimsinnige wyse doodgeloop. Hulle beweer verder dat Deva Virahsawmy destyds die minister was wat Midas Acropolis se impakstudie goedgekeur het.

Maroela Media het ʼn e-pos gesien waarin Hartzenberg-Meyer op 22 Oktober 2014 aan haar mededirekteur, Francois Conradie, geskryf het dat net hy en sy en twee ander mense weet van hul reëling met ene Deva.

“Niemand anders mag weet nie,” het sy geskryf.

“Deva doen vir ons ongelooflike werk. Hy druk nou weer die maand voor die verkiesing die revised EIA (die omgewingsimpakstudie) met getalle en die water plant deur. Ek betaal hom met vrymoedigheid, want ons sou dit nooit op ons eie reggekry het nie.”

In ʼn e-pos wat Hartzenberg-Meyer op 17 April 2018 aan Conradie geskryf het, verwys sy na $16 miljoen wat aan Deva betaal moet word. Later in dieselfde e-pos dreig sy Conradie dat verskeie mense sal ondergaan as hy haar nie oor die “laaste hekkie” help nie. Onder die name wat “sal ondergaan”, is Deva en Soodhun.

Dis nie duidelik wie Soodhun is nie, maar die voormalige minister van behuising en grondsake wat destyds die 60 jaar-huurkontrak aan Hartzenberg-Meyer se maatskappy toegeken en later bedank het, was Showkutally Soodhun.

Beleggers soek antwoorde

Die vyf Wes-Kaapse beleggers en Conradie het mekaar in Februarie vanjaar vir die eerste keer in Kaapstad ontmoet om te probeer uitpluis hoeveel geld elkeen aan Hartzenberg-Meyer en haar maatskappye en trusts betaal het en wat die verdere finansiële verpligtinge was.

In die notule van die vergadering word na een so ʼn verpligting verwys wat nagekom moes word. Dit lees as volg: “The ex Minister (Deva) would be paid $15 m when funds are in.”

AKNL het aan Maroela Media gesê alles begin nou vir hulle sin maak.

Deva Virahsawmy se skoonseun, Dharmesh Naik, bestuur ‘n finansiële bestuursmaatskappy genaamd Ocra wat takke in Mauritius en in die Seychelle het. In die Seychelle het Ocra dieselfde adres as Pelangi Resorts Holding Bpk.

Hartzenberg-Meyer kap terug

Hartzenberg-Meyer het verskeie e-posse aan Maroela Media gestuur om hierdie storie te probeer stop. Sy het nie die vrae beantwoord wat aan haar gestuur is nie, maar het dae lank beweer sy het die antwoorde aan ʼn prokureur van Vanderbijlpark gestuur om dit na te gaan. Hy het laat weet dat hy nie namens haar optree nie.

In van die e-posse het sy beweer dat die regering van Mauritius die grond vir die hotel aan haar gegee het nadat Midas Acropolis van die projek onttrek het. Sy het egter ontken dat sy Deva Virahsawmy gehuur het of gevra het om werk vir haar te doen.

“Elke konsultant, professionele persoon of vennoot waarmee ons besigheid aangegaan het, het wettige ooreenkomste met voorwaardes wat duidelik uiteengesit gesit en onderteken is.”

Hartzenberg-Meyer het verder gesê dat sy die regering van Mauritius van die bewerings in hierdie storie, wat sy vals noem, laat weet het.

Mauritius se hoë kommissaris in Pretoria, dr. P Vijaye Lutchmun, het nie op skriftelike navrae of verskeie telefoonoproepe reageer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
MH

Mense leer nie. As jy jou geld in so ‘n riskante projek belê, moet jy verwag om alles te verloor.

Gerrit

Wat my die MEESTE verstom. Verstaan mense wat met sulke bedrieglike voorwendsels, ander mense beroof nie, dat daar ‘n dag en ‘n oomblik gaan aanbreek van rekenskap nie? Hoe blind en doof moet jy wees om met so saak, teen jou eie beterwete mee vol te hou… en binne jou weet jy, jy is bedrog se ouma?! En ten spyte van oordonderende getuienis, steeds jouself te verontskuldig en in jou luuksheid voort te ploeter…???

Wicus

Klink soos Binnelanders …..

JohanR

Val mense in die 21ste eeu nog vir hierdie stories? Die haarseerste is van pensioenarisse alles verloor. Waaneer iemand vra om ‘n storie te stop, dan moet jy maar weet daar is ‘n rot!

Niklaas

Ai , daar is altyd verhale van arme mense wat ingeloop word. Ek het sedert die destydse Kreon beleggings gemors in die Vaaldriehoek , besonder skepties geraak en bejeen al hierdie groot “geleenthede” met agterdog. Wees eerder versigtig te alle tye en doen behoorlik huiswerk as gelde in iets van hierdie aard geploeg moet word. Om ‘n fortuin so te verloor , kan mens 20 jaar terugsit.