VBS: ‘Grootste oneerlike skouspel in SA bankwese ooit’

Die VBS-bedrogspul het die hele land in rep en roer, nadat ʼn ondersoek van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) R2 miljard se plundery blootgelê het. Vrae oor hoe bedrog op so ʼn groot skaal, deur so ʼn onbeduidende entiteit, vir so lank kon voortduur, krap al wat ʼn belastingbetaler is, om

Nog belangrike vrae is watter reperkussies hierdie skandaal vir Suid-Afrika kan inhou en hoe kan dit in die toekoms voorkom word? Maroela Media het tussen die puin gaan rondkrap, opsoek na moontlike antwoorde.

Hoe het dit gebeur?

Prof. Nicola Viegi, die SARB-leerstoel in monetêre ekonomie aan die Universiteit van Pretoria (UP), is nie verras deur die Reserwebank-verslag se bevindinge nie. “VBS se ineenstorting is ʼn direkte gevolg van die manier waarop die bank gefinansier was, deur sy toegang tot politieke konneksies in die munisipaliteite,” sê hy.

VBS Mutual Bank het klein begin, met stokvels en klein deposito’s wat die grootste deel van sy besigheid uitgemaak het. Toe het die bank egter besluit om hom op munisipaliteite toe te spits vir korttermyndeposito’s en daardie geld dan in hoogs twyfelagtige lenings uit te betaal – ʼn werkswyse wat volgens Gerhard van Onselen, senior navorser by die sakeliga, ʼn resep vir kontantvloeiprobleme is.

Teen Maart 2017 was daar reeds ʼn R180 miljoen tekort. Slegs ʼn jaar later is die bank R1,8 miljard onderdeur. Die tempo van die diefstal het dus drasties en vinnig toegeneem en die meeste geld is in die afgelope tien maande verduister.

Ekonoom Mike Schüssler verduidelik dat ʼn bank gewoonlik twee ouditeursfirmas het wat oorsig oor sy bedrywighede hou. PricewaterhouseCoopers (PwC) was VBS se interne ouditeur en KPMG die eksterne ouditeur. Laasgenoemde moes aan die Reserwebank verslag doen, maar die ouditeur wat oor VBS aangestel is, Sipho Malaba, het nie die ware situasie aan die Reserwebank voorgehou nie. Hy het self ook nagenoeg R34 miljoen se kontantbetalings van VBS ontvang, behalwe vir bates soos voertuie en die afskryf van skuld by die bank.

“Die Reserwebank maak grootliks op ouditeurs staat om banke te monitor en stuur dalk een keer elke paar jaar iemand na ʼn bank om die stelsels na te gaan. Die VBS-skandaal is te wyte aan ʼn bedrieglike ouditeursverslag, dit is hoekom die bedrogspul vir so lank onder die Reserwebank se radar gebly het. Die ouditeur en die bank se bestuur was geldgierig en het geld van arm mense en arm munisipaliteite gevat,” sê Schüssler.

Prof. Viegi beklemtoon dat dit baie moeilik vir reguleerders is om kriminele aktiwiteit te bespeur as nie net die bank se bestuur daarby betrokke is nie, maar ook die ouditeurs.

“ ʼn Kenmerk van alle bankkrisisse hier en oorsee is die medepligtigheid van ouditeursfirmas en graderingsagentskappe, wat veronderstel is om die eerste verdedigingslinie teen finansiële bedrog te wees. Ons sal moet besin waarom internasionaal gerekende firmas soos KPMG so diep by die Suid-Afrikaanse skandaal betrokke was.”

Die 15 munisipaliteite wat geld by VBS belê het, het waarskynlik “kommissie” – dus omkoopgeld – verdien en kon sodoende hul salarisse aanvul.

“VBS is deur die Reserwebank se reëls belet om munisipaliteite se geld te vat, maar tog hét hulle. Ons het hier te doen met ʼn kombinasie van oneerlike ouditeurs, bankdirekteure en munisipale beamptes. Dit is die grootste oneerlike skouspel in Suid-Afrika se bankwese ooit. Enige iemand wat die oneerlikheid uitgewys het, is uitgekryt as kritici wat ʼn swartbeheerde bank op rassegronde geteiken het. Dit is ʼn baie hartseer storie. Dit knou vertroue in Suid-Afrika se bankstelsels,” sê Schüssler.

Volgens prof. Derick de Jongh, direkteur van die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap (ALSVL) aan die UP, was dit waarskynlik moontlik vir die bedrogspul om so lank voort te duur as gevolg van ʼn waterdigte netwerk van onderlinge beskerming tussen die bevoordeeldes.

“Dit moes jare se gekonkel geverg het, met baie moeite wat gedoen is om onetiese gedrag onder die dekmantel te hou. Die bevoordeeldes het ʼn bende gevorm wat aan ʼn bepaalde stel reëls moes voldoen om te sorg dat daar geen krake in die struktuur kom waar inligting kon uitlek nie.”

Hoe gaan dit SA se ekonomie raak?

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die rimpeleffek van hierdie skandaal gaan regdeur die ekonomie gevoel word. Die munisipaliteite wat by VBS belê het, gaan baie moeilik herstel – hulle was reeds in die skuld voordat hulle by VBS betrokke geraak het en is nou so te sê onredbaar. Hoewel tesourie normaalweg ʼn reddingsboei sou uitgooi vir munisipaliteite in nood, is daar volgens Schüssler eenvoudig nie genoeg geld om dit op dié skaal te doen nie.

“Dit beteken dat Eskom nie betaal sal kan word nie en dat dié munisipaliteite se krag dus waarskynlik gesny gaan word. Paaie sal nie herstel kan word nie en ander infrastruktuurprojekte soos winkelsentrums sal ook tot stilstand kom. Die krane sal moontlik droogloop omdat daar nie vir watervoorsiening betaal kan word nie en afleggings is waarskynlik, omdat munisipale salarisse nie betaal kan word nie,” sê hy.

Hy voeg by dat daar ook ʼn ekonomiese impak op die land sal wees ten opsigte van ons reputasie.

“Binnelandse én buitelandse beleggingsvertroue sal ʼn knou kry en die graderingsagentskappe sal ook hierop reageer. Beleggers soek beleggingsvriendelike omgewings met maklike reëls. Nou sien hulle dat hier skelms is wat vir lank met hul gekonkel wegkom en dit kan hulle afskrik.”

Na Schüssler se mening moet die verantwoordelike ouditeur, Malaba, die hardste aan die pen ry, omdat hy eindelik die professionele persoon was wat die knoeispul sou kon voorkom, as hy nie homself daardeur wou verryk nie.

Volgens prokureur Péter Wassenaar kan Malaba strafregtelik vervolg word en kan daar ook eise om skadevergoeding teen KPMG aanhangig gemaak word.

“Die ouditeur is die vangnet vir gevalle van bedrog en wanbestuur. Hy hou homself voor as ʼn professionele persoon wat betroubare verslae lewer. As die nalatigheid van die ouditeur skade veroorsaak, kan die maatskappy – en in sekere gevalle derde partye – eise teen die ouditeur instel.”

Afgesien van siviele en strafregtelike eise, gaan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR), wat professionele ouditeurs reguleer, ook ondersoek instel.

“Die een positiewe ding wat sover uit hierdie drama voortvloei, is dat ons die probleem binnelands oplos, ons het ons eie ambulans gestuur,” sê Schüssler. Prof. Viegi stem saam dat hierdie episode in werklikheid die geloofwaardigheid van Suid-Afrikaanse toesighoudende instellings verhoog.

“Ten spyte van aansienlike politieke druk het hulle beslis opgetree toe daar sprake van wanpraktyk by VBS was. Relatief tot ander lande, bly ons finansiële stelsel veilig en goed bestuur.”

Die saak is na die Nasionale Vervolgingsgesag vir verdere ondersoek verwys. Wassenaar verduidelik dat hierdie ondersoek maande of selfs jare kan duur, afhangend van die kompleksiteit van die beweerde bedrog.

Schüssler voeg tong in die kies by dat die veilingbedryf en prokureurs minstens voordeel behoort te trek, danksy al die bates waarop beslag gelê moet word en wat opgeveil moet word om ʼn bedrag aan private beleggers in VBS terug te gee, al sal dit nie die volle som wees nie.

Hoe voorkom ons soortgelyke skandale?

(Grafika via ANA)

Vir dié drama om homself nie in die toekoms te herhaal nie, stel prof. Viegi voor dat rekeningkundige firmas, ouditeurs en graderingsagentskappe in die kollig geplaas moet word. Dis grootliks as gevolg van dié instellings se medepligtigheid of onbevoegdheid dat staatskaping, die Steinhoff-debakel en die VBS-ineenstorting plaasgevind het.

Tog los dié sage ons met ʼn belangrike vraagstuk: Hoe kan arm gemeenskappe dan toegang tot fondse kry, sonder om hulle aan oormatige risiko of bedrog bloot te stel?

“Suid-Afrika se groot handelsbanke is stabiel, dit is die kleinbanksektor wat riskant is en wat die armes disproporsioneel affekteer. Dalk is ʼn algehele hervorming van die sektor nodig,” sê prof. Viegi.

Hy meen dit is belangrik dat daar in die langtermyn iets positiefs van dié skandaal kom, dat daar ʼn les geleer word.

“Ons kan nie voortgaan om die finansiële welvaart van die armstes in hierdie land in die hande van spekuleerders, geldwolwe en plunderaars oor te laat nie. Onderlinge banke kan ʼn belangrike rol speel om mense te help om bates bymekaar te maak deur skaars hulpbronne saam te poel, maar die VBS-ervaring sal vertroue in hierdie instellings knou en die rol wat hierdie “nuwe banke” in die armer gemeenskappe kan speel, verminder.

Ons lewe in ʼn samelewing met korrupte waardes, sê prof. De Jongh.

“Die VBS-sage bevestig net weer dat Suid-Afrika vol geldgierige, onverantwoordelike mense is wat selfs by die armes sal steel. Ons lewe in ʼn wêreld waar dit eintlik net oor selfverryking gaan. Dit is noodsaaklik dat die samelewing weer op ʼn positiewe morele pad moet kom.”

Prof. De Jongh sê dat leierskap besig is om ʼn mite te raak. In die akademie word daar al hoe meer na volgers as na leiers gekyk: die belangrikheid van verantwoordelike volgers eerder as verantwoordelike leiers.

“Kiesers wat korrupte mense in leiersposisies instem, is byvoorbeeld verantwoordelik vir die gemors wat daardie leier veroorsaak. Hoekom het die volgers in die VBS-saak, die junior ouditeurs, werknemers van die bank of van die munisipaliteite nie teen die magsmisbruik opgestaan nie? Ons samelewing het apaties geraak, te bang om op te staan.”

Vir prof. Viegi is dié sin vir verantwoordelikheid – of ʼn tekort daaraan – juis die probleem met onderlinge banke: depositohouers is in werklikheid aandeelhouers en behoort toesig oor die bank se aktiwiteite te hou.

Die antwoord, sê prof. De Jongh, is om terug te keer na persoonlike waardes. Ons moet elkeen weer ons morele kompas op koers bring, ophou blameer en begin opstaan teen korrupsie en oneerlikheid. As samelewing moet ons ʼn beweging begin wat kapsie maak teen onreg.

Op ʼn praktiese vlak sê hy dat hierdie individuele verantwoordelikheid by die huis begin.

“Konfronteer jouself met die groot kwessies wat die samelewing raak. Skole en kerke speel nie meer die morele rol wat dit vroeër het nie, ons moet self vir ons kinders die regte voorbeeld stel. Wanneer ʼn individu sy waardes tuis en in sy onmiddellike omgewing uitleef, sal dit wyer uitkring en ʼn langtermynverskil maak. ”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Koos1 ·

KPMG weer betrokke?
En agter dit alles staan Zuma!
Is alles in hierdie land tot die kern verrot?
Max du Preez het lank terug ‘ n artikel geskryf “Zuma, the one man wrecking ball”. Was hy nog altyd reg?

Zumie ·

Koos – die is nie net Zuma nie – hier is ‘n wavrag politici betrokke wat wys wat hulle kan doen…. Ons probleem is nie een persoon nie maar ‘n geldgierigheidskultuur

Robert ·

Vervolging sal net werk as dit ordentlik toegepas word en die skuldiges in die tronk beland vir ‘n geruime tyd.

Grassie ·

Daar word nêrens gemeld dat die Staatsdienspensioenfonds een van die groot verloorders was nie.

Pieter van Aardt ·

In Desember 2007 is die bates van Corporate Money Managers geplunder. Dit het in April 2009 aan die lig gekom en alle beleggings in die maatskappy is bevries. Sedertdien word daar voortgeploeter en niks word bereik nie sodat beleggers vir alle praktiese doeleindes hulle beleggings kwyt is. Waarom word hierdie skandaal nie ook aan die groot klok gehang nie?

IK ·

Elke dag in SA is ‘n normale dag. ‘n Abnormale dag is wanneer niks verkeerd loop.

Manda Gordon ·

My vraag is dit – hoeveel gee die ouens wat hier drooggemaal het on vir hulle eie mense. Floyd en Brian Shivambo word geimpliseer maar Juju sê hulle het die party se ondersteuning. Juju sê in dieselfde asem die skuldiges moet vervolg word – translated beteken dit “not going to happen, why worry”.

marous ·

Hierdie is ‘n druppel in die emmer van die vooraf sit en bose planne smee van diegene wat te sleg is om op eie stoom iets reg kry , se verorberaars waansin om ten koste van ander hulself dik te stop . Hulle sal niks oorkom nie , en gaan ook nie stop nie. Daar is geen land in die wereld met soveel verfoeilike mense wat so inmekaar gevleg is van bo tot onder met hul knoeiery nie . Vewoestaards van alles !

Willie ·

Hoekom sien ek BBBBBBBBBBBEEEEEEEEEEEEE oor alles geskryf?
Of mis ek iets?

EDT ·

Snaaks dat niks verder gesê word oor die interne ouditeure, PWC, nie?

Kierie ·

Die laaste paragraaf verwys: Dit gaan nooit in hierdie land gebeur nie.

Snowball ·

Ek stem saam Kierie. ‘n Persoonlike morele kompas, ontstaan nie net deur opvoeding by die huis nie. Die skool en kerk se rol is onlosmaaklik deel van die opvoeding van die mens om ‘n waardestelsel en etiese verantwoordelikheid te vorm; dit is die verval/ vernietiging van al drie, die skool, die kerk en die gesin, wat veroorsaak dat mense nie meer ‘n sin het vir wat reg en verkeerd is nie en derhalwe gewetenloos optree, mense wat gevolge en verantwoordelikheid ontduik deur ontkenning en leuens. Die ou gesegde, jy kry dit in met moedersmelk, is waar, maar as die samelewing (skool en kerk) nie daar is om waardes te help vorm en versterk nie, is dit tevergeefs. Daarom is dit so belangrik om skole te hê wat christelike waardes nastreef. Die ANC regering het dit ongelukkig verban en die nagevolge is ooglopend -ons sit klaar met ‘n samelewing wat moreel van die pad af is.

Stef ·

Die Gemeenskap glo wit monopolie kapitaal is die vyand wat vir hulle armoede verantwoordelik is. Stadig leer hulle dat swart monpolie korrupsie baie meer gevaarlik is.
Die Vader behoed hulle as die Skreef ogies hulle eerste bank oprig……

WILLIE ·

NOU SAL EK GRAAG WIL SIEN WIE GAAN TRONK TOE WANT ONS HOOR ELKE DAG NIEMAND IS BO DIE WET VERHEWE EK WAG OPGEWONDE DIE KONING DIE EFF 2ND IN CHARGE KOM ONS KYK

Ruby ·

Ons skoonmaker het ‘n sms gekry met die instruksie om nie meer geld in die munisipaliteit se rekening in te betaal nie maar eerder in VBS!!

Boet ·

Wie gaan in n land met soveel korrupsie, diefstal, geldwassery, moord, roof, ens. hulle geld kom belê. Ekonomie gaan net verswak tot niks oor is nie.

tamboti ·

En nou het die presidensie verklaar dat Ramaphosa nie vooraf ingelig was nie, is dit leuen no. 2?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.