Veediefstal-statistiek skok: Kenners gee raad

Deur Nichelle Steyn

Die jongste statistieke rakende veediefstal is onlangs bekendgemaak en dit is skokkend.

Volgens die syfers word daar daagliks sowat 178 beeste, 249 skape en 115 bokke gesteel. Dit beteken ten minste een ekonomiese plaaseenheid gaan daagliks ten gronde. Selfs Bheki Cele, minister van polisie, het met die aankondiging van die nasionale statistieke oor veediefstal erken die regering het “iewers die bal laat val”.

“In gevalle waar boere met kleiner kuddes boer, verloor hulle soms summier alles,” het Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalforum, onlangs op die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse kongres gesê.

Veediefstal plunder ook die landbou-ekonomie. Die landbougemeenskap se verliese beloop, volgens die veediefstalforum, na beraming meer as R1,2 miljard, die afgelope jaar.

“Dit kan selfs nog hoër wees as mens die misdade wat nie gerapporteer is nie, ook in ag neem,” het Clack gesê.

In die onderskeie provinsies lyk die stand van sake as volg:

  • In die afgelope jaar is meer as 10 000 beeste in KwaZulu-Natal en Mpumalanga, onderskeidelik, gesteel.
  • In die Oos-Kaap en Vrystaat is meer as 20 000 skape, onderskeidelik, per jaar gesteel.
  • Die Noord-Kaap en Noordwes loop weer die meeste deur onder die bokdiewe, waar meer as 8 000 bokke, in beide provinsies, gesteel is.
  • Die Wes-Kaap beleef die grootste algehele toename in veediefstal met ’n styging van 60% in vergelyking met verlede jaar se syfers. In dié provinsie het beesdiefstalle alleen met 196%, skaapdiefstalle met amper 50%, en bokdiefstalle met 67% gestyg.
  • In die Noordwes lyk die prentjie nie veel beter nie. Bokdiefstalle het met ’n astronomiese 1 296% gestyg.
  • Al provinsies met ’n algehele afname van veediefstal, was die Vrystaat en Gauteng.

Clack het gesê alhoewel die syfers ’n donker prentjie skets, boere nie in sak en as moet sit nie. Hy meen veediefstal is ’n wêreldwye euwel, en kom van die Bybel se tyd af.

Foto: Verskaf.

“Dit is nie net Afrika wat hiermee worstel nie, selfs die Australiërs het my onlangs genader oor die probleem.”

Clack het genoem dat net ongeveer 30% van gevalle tans aangemeld word. Hy glo egter die bestaande veediefstalforums wat landwyd takke het,  is ’n waardevolle netwerk wat help om veediefstal te bekamp.

Vrystaat Landbou (VL) het ’n veiligheidstoepassing (app) ontwikkel, genaamd Plaaswag, om die publiek en veral boere te bemagtig. Die toepassing werk met ’n noodknoppie op ’n slimfoon, en stel verbruikers ook in staat om alle misdade wat in hul omgewing, soos wat dit gebeur, te volg en ook daarop te reageer.

Mense kan die app gratis by www.dieplaaswag.co.za, aflaai.

Foto: SAPD.

“Meer akkurate syfers kan die polisie help om brandpunte te identifiseer,” sê Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by die VL.

“Dit kan ook die owerhede en gemeenskappe help om beter strategieë vir die voorkoming van landboumisdade daar te stel.” Dié app kan selfs verdagte voertuie aandui en moontlike slagoffers waarsku van booswigte in hul omgewing.

Buys sê daar is tans ’n interprovinsiale veediefstalforum tussen die Vrystaat, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga wat reeds met groot sukses bedryf word.

“Die forum kommunikeer hoofsaaklik deur WhatsApp-groepe om so gou moontlik veediefstalle aan te meld. Verskeie rolspelers werk dan nou saam om die skuldiges te probeer vastrek.”

Daar is ook volgens hom verskeie veediefstalinligtingsentrums wat deur die RPO, georganiseerde landbou en veral die veediefstaleenhede op versoek van boere in ’n omgewing gestig word.

“Die doel van sodanige sentrums is om inligting te deur te gee, navrae rakende sake te rig, asook om die vervolging van sake deur howe te monitor.”

Foto: SAPD.

’n Prokureur wat gereeld met veediefstalsake werk, sê dit is vir die staat moeilik om ’n saak van veediefstal te bewys.

“Daar is gewoonlik nie genoegsame fisieke bewysstukke nie en die kettinggetuienis is nie genoegsaam om die beskuldigde(s) direk met die veediefstal te verbind nie.”

Sy meen die uiteinde hiervan is dat die staat pleite sal aanvaar op mindere misdrywe of dat beskuldigdes dan summier met die misdrywe wegkom.

“Die staat se onvermoë om veediefstalbeskuldigdes aan die pen te laat ry, het ook ’n groot invloed op die polisie se moraal,” meen sy.

Sy sê dit is uiters belangrik om so veel moontlik bewysbare inligting bymekaar te maak.

“Dinge soos versteekte kringtelevisiekameras help baie om skuldigbevindings te bewys. Maak seker dat jou vee ordentlik gebrandmerk is. Dit is ook ’n goeie idee om jou vee se DNS-profiel te hê – sodoende, as die vleis gevind word sonder die brandmerk, kan dit steeds verbind word met ’n kudde. Dit is egter duur, en maak slegs finansieel sin in die geval van stoetkuddes.”

Volgens haar vind bitter min veediefstalle plaas vir eie gebruik.

“Die booswigte se oogmerk is gewoonlik om die beeste of die vleis te verkoop. Vleisverkopers moet rekenskap kan gee van die oorsprong van die vleis, en mense behoort informele transaksies met betrekking tot die koop en verkoop van vee of vleis te vermy. Slagpales en slaghuise behoort ook ’n goeie verhouding met die plaaslike owerhede te bou, en enige verdagte aktiwiteite behoort onmiddellik gerapporteer te word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

koos1 ·

So, onteiening sonder vergoeding kom van die Bybel se tyd af.

jennefer ·

Ek haal my hoed af vir ons land se boere. Gister was daar 5 brande om Nylstroom Modimolle, boere help mekaar om te blus sodat die bietjie gras wat nog oor is, nie verbrand nie. Doodmoeg kom hul tuis, net om te begin met patrollie ry. As hy in sy bed klim moet hy met een oog oop slaap want n plaasaanval is n wrede werklikheid. Die droogte dwing hom op sy kniee want daar is nog nie een politieke party wat reen kan voorsien nie. My diere slaap snags op kraal, dit veroorsaak gewigverlies by die diere want na ongeveer 4 uur se vreet , moet hy herkou en dan weer gaan wei, dan is dit byna aand en in plaas van wei word hul gekraal. Glo my dis geen maklike lewe nie.

Jordaan ·

Waarom is dit vir iemand ‘n skok? Enige veeboer kan vir jou vertel hoe rof dit gaan.

Daan ·

Ek wonder hoeveel gevalle is a inside job ? Sal seker nie wet nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.