Verantwoordelike joernalistiek en die rol van die publiek

Argieffoto (Foto: David Schwarzenberg/Pixabay)

In die postwaarheid era is verantwoordelike joernalistiek meer belangrik as ooit tevore. Met die opkoms van sosiale media en burgerjoernalistiek (nie noodwendig verslaggewing oor die toestand van kitskosrestaurante nie, maar eerder die idee dat enige slimjan met ’n slimfoon ’n joernalis kan wees), behoort die nuusmedia tussen al die fopnuus en “alternatiewe feite” ’n baken vir demokrasie te wees. En Jan Publiek kan ook sy deeltjie doen om dit in stand te hou.

Wat is verantwoordelike joernalistiek? 

“Verantwoordelike joernalistiek is joernalistiek wat voldoen aan al die etiese, professionele vereistes soos vervat in die SA Perskode,” verduidelik prof. Lizette Rabe, hoof van die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement. Sy meen dit is belangrik dat “die nuusmedia geloofwaardig moet bly ter wille van die publiek wat gedien word”.

“As geloofwaardigheid verloor word, het die media al sy sosiale kapitaal verloor – en het die publiek hul een en enigste bastion vír demokrasie en téén alles wat anti-demokraties is, verloor,” sê Rabe.

Ook die sprekers by ’n onlangse aanlyn Future of Media-konferensie was dit eens dat die verbinding tot ’n perskode ’n teken van geloofwaardigheid is. “Dit beteken dat daar interne prosesse bestaan wat verantwoordbaarheid en kwaliteit bevorder; dat daar ses of sewe stappe is voordat iets gepubliseer word, omdat daar die moontlikheid is dat jy gedagvaar kan word indien jy nie aan die vereistes van die perskode voldoen nie,” het Pule Molebeledi, nuus- en mediadirekteur van Arena Holdings gesê.

Verantwoordelikheid en aanspreeklikheid

Die Amerikaanse joernalistiekprofessor Louis Hodges het in die tagtigerjare ’n onderskeid tussen “verantwoordelikheid” en “aanspreeklikheid” getref. Volgens hom het eersgenoemde te doen met die vraag “op watter maatskaplike behoeftes behoort joernaliste en die media te reageer?” en laasgenoemde bied dan ’n antwoord op die vraag “hoe kan die samelewing ’n beroep op joernaliste en die media doen om hul verantwoordelikheid na te kom?” “Verantwoordelikheid” is dus die omskrywing van behoorlike gedrag, en “aanspreeklikheid” het te doen met die afdwing of implementering daarvan.

Byna vier dekades later bevind ons ons egter in ’n heel ander landskap, waar ’n groeiende aantal mense hul daaglikse nuus deur sosiale media verkry, waar burgerjoernalistiek en fopnuus hoogty vier, en waar dít wat voorheen slegs as “die nuusmedia” bekendgestaan het, nou dikwels “die hoofstroommedia” genoem word.

Deesdae het (sosiale) mediagebruikers ’n bykomende verantwoordelikheid: Alvorens hulle die mediaplatform vir “onbehoorlike gedrag” aanspreeklik kan hou, moet hulle eers die algemene geloofwaardigheid van die mediaplatform vasstel. Is daar byvoorbeeld ’n datum en ’n naam van ’n joernalis by die artikel, word daar meer as een bron geraadpleeg, word uitroeptekens en emotiewe taalgebruik vermy, en is daar kanale om ’n klag in te dien indien die nuus onakkuraat is?

“Suid-Afrikaners se mediageletterdheid is ongelukkig laag, ook ’n gevolg van ons verlede toe daar nie mediavryheid was nie,” sê Rabe oor die publiek se verantwoordelikheid om die nuusmedia aanspreeklik te hou. Sy plaas die onus eerder op die media: “Die nuusmedia se tradisionele rolle is inligting, opvoeding en vermaak, in daardie volgorde, maar eerstens: inligting, vry van enige drukgroep, vry van enige groepsbelange, onafhanklik, geverifieerd.”

Feite en die waarheid

Prof. Anton Van Niekerk skryf egter “daar is nooit iets soos ‘n ‘brute feit’ nie” in ’n artikel, Media-etiek: Die storie, die verteller en die publiek (1999). “Die feite word in die nuusmedia altyd ‘n ‘storie’, en ‘n storie is noodwendig ‘n interpretasie,” meen hy. “Daardie interpretasie word onvermydelik gekleur deur die politieke simpatieë van die nuusblad, die prominensie waarmee dit geplaas word [en] die mate waarin alle kante van die saak ondersoek is.”

“Feite is nie dieselfde as die waarheid nie,” beaam prof. Herman Wasserman, direkteur van die Sentrum vir Film- en Mediastudies aan die Universiteit Kaapstad, in ’n LitNet-artikel in 2017. “Feite kry slegs binne ’n bepaalde konteks betekenis, ’n diskoers wat dit omvou, en as sulks kan feite moontlik wel korrek en verifieerbaar wees, maar binne ’n misleidende of irrelevante konteks aangebied word,” skryf hy. “Dit is ook belangrik om te oorweeg watter feite geselekteer en aangebied word in beriggewing.”

Wanneer is dit fopnuus?

“Regerings skree baie vinnig ‘fopnuus’ wanneer ’n berig hulle in ’n slegte lig stel,” het die Future of Media-konferensieleier, Lisa MacLeod, gesê. “Dit het selfs mode onder lesers geword om joernaliste van fopnuus te beskuldig wanneer hulle nie van ’n artikel hou nie.” Dit is om hierdie rede dat William Bird, hoof van die waghondorganisasie Media Monitoring Africa, verkies om die terme “misleidende inligting” (bloot verkeerde inligting) en “waninligting” (verdraaide inligting wat moedswillig versprei word om mense te bedrieg) verkies.

“Die eerste vraag om te vra is dié oor bedoeling,” skryf Wasserman. “Hoewel joernaliste dikwels foute begaan, onakkuraat kan berig of in die belang van sensasie kan oordryf, doen hulle dit gewoonlik onwetend, of uit versuim.” Hy meen die makers van vals nuus “smee hul produk egter doelbewus om die leser te mislei deur die formaat en aanbieding van hul berig te laat lyk soos die ware Jakob, maar die ‘feite’ uit hul duim te suig”.

Feitekontrolering en die verantwoordelikheid van sosialemediaplatforms

Feitekontrolering of fact checking is ’n joernalistieke praktyk wat in die 1920’s in Amerikaanse tydskrifredaksies ontstaan het. Die doel was om feite en aanhalings van politici en ander bekendes intern en vóór publikasie na te gaan. Met die opkoms van die internet en sosiale media het die term “feitekontrolering” in die een-en-twintigste eeu egter ’n renaissance beleef en ter selfde tyd ’n ander betekenis aangeneem.

Deesdae behels feitekontroleringsartikels deur byvoorbeeld AFP en Africa Check dat eksterne inligting op die internet ná publikasie geverifieer word en die proses stap vir stap in die artikel verduidelik word, sodat die leser kan sien hoekom die inligting as “vals”, “misleidend” of “waar” bestempel is.

Jocelyne Muhutu-Remy, Facebook se Suid-Afrikaanse skakelbeampte, het tydens die konferensie gesê Facebook kan nie self besluit wat waar en wat vals is nie. “Ons gebruik onafhanklike feitekontroleringsdienste soos AFP en Africa Check om inligting te verifieer.” Sy het verduidelik hoe Facebook dan “tot aksie oorgaan” deur plasings af te gradeer “sodat baie minder mense dit kan sien”.

“Tensy dit werklik potensiële skade inhou, laat ons spasie vir vryheid van spraak, en sal ons nie ’n plasing heeltemal verwyder nie,” het sy gesê. Mediahuise kan egter swaar gestraf word indien hul plasings herhaaldelik ‘vals’ gemerk word, en dit kan hul verspreidingsyfers op Facebook drasties beïnvloed.

Hoe kan ek Maroela Media aanspreeklik hou?

“In die eerste plek bly ons belofte aan ons lesers dat ons nie iets sal publiseer sonder dat ons feite so deeglik moontlik nagegaan het nie,” sê Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof. “Dis vir ons van groot belang om ons slagspreuk, gebalanseerd en betroubaar, gestand te doen in alle beriggewing.”

“Natuurlik maak ʼn mens soms foute,” sê sy, en sy doen ’n beroep op lesers “om ons op ons tone te hou” deur foute in die kommentaar-afdeling onderaan die betrokke artikel aan te meld, of ’n e-pos na [email protected] te stuur. “Albei dié terugvoerkanale word voltyds beman, en daar word aandag gegee aan elke kommentaar en e-pos wat ontvang word.”

Volgens Lombaard is Maroela Media se beleid om, indien daar ʼn fout begaan is, ʼn regstelling te maak, en bo-aan of onderaan so ʼn berig aan te dui dat die berig gewysig is sedert dit aanvanklik gepubliseer is, “omdat ons deursigtig wil wees met foute wat ons maak en regstellings wat gevolglik gedoen word”. 

  • Voetnota deur die redakteur: Maroela Media het in Augustus vanjaar ‘n artikel getiteld “Só lyk die gemiddelde plaasaanvaller” publiseer, waarvan die inhoud later geblyk het op onwetenskaplike afleidings gegrond te wees. ‘n Nota van die erkenning hiervan is later by die artikel geplaas en Maroela het daarop ook ‘n verdere artikel getiteld “Perspektief op plaasaanvalle binne SA se kultuur van geweldsmisdaad” publiseer,  gebaseer op ander bronne en navorsing. Dié twee artikels het die redaksionele span genoop om self weer te kyk na die beginsels van verantwoordelike joernalistiek en die mate waartoe ‘n media-instansie soos Maroela Media deur die publiek verantwoordbaar en aanspreeklik gehou kan word om akkurate, betroubare en deursigtige inliting te publiseer. Hierdie artikel herbevestig Maroela se verbintenis tot hierdie deursigtigheid en betroubaarheid.  

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Media rapporteer net sensasionele berigte dn nuus en stel
dikwels nie belang in ” goeie nuus” nie

Tanya ·

Dit is ‘n veralgemening. Baie mediahuise doen geweldig baie moeite om sogenaamde goeie nuus uit te lig en te rapporteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.