Wat gebeur as jy ʼn rower in jou huis doodskiet?

Argieffoto. (Foto: Verskaf)

Jy hoor ʼn geluid wat klink soos ʼn deur wat breek. Die honde wat jou moet waarsku teen moontlike betreders is egter tjoepstil. Dan hoor jy manstemme wat fluister en dit klink asof dit moontlik uit jou vierjarige dogtertjie se kamer kom. Jy verwag die ergste. Jy weet dit is ʼn aanval op jou gesin. Daar is ook geen kans dat die polisie, privaat veiligheidsbeamptes of selfs die buurtwag kan intree terwyl hierdie skurke reeds binne-in jou huis is nie. Jy is nou jou en jou gesin se eerste en laaste linie van verdediging. Jy is wettig gewapen en skiet een van die drie gewapende indringers. Twee indringers het te voet gevlug, terwyl die ander een noodlottig gewond is.

Wat kan jy verwag as jy ʼn betreder binne-in jou huis doodskiet? Die voorafgaande inleiding skets slegs ʼn tipiese toneel waarmee duisende mense in Suid-Afrika die afgelope jare (selfs dekades) gekonfronteer is en baie meer mense sal waarskynlik nog in die toekoms aan soortgelyke situasies blootgestel word. Dit is dus belangrik om te verstaan wat jy kan en mag doen om so ʼn aanval op jou en jou gesin te voorkom. Dit is egter ewe belangrik om te verstaan wat gebeur nadat jy, as wettig gewapende burger, moes intree om die bedreiging af te weer. Ian Cameron, stigter van Firearms Gaurdian en firearms.co.za, gee raad:

  1. Maak seker dat die toneel geen verdere bedreiging inhou nie. In die geval van die toneel geskets, soortgelyk aan die een in die inleiding, maak seker dat jou gesin veilig is en dat niemand ernstig beseer is nie.

 

  1. Dit is belangrik om nie die toneel te verlaat waar die voorval plaasgevind het nie. Soos genoem in die eerste punt, moet jy verseker dat jou gesin veilig is, maar ook, sodra die huis ontruim is (soos aangedui in bogenoemde scenario), dat dit veiliger is vir jou en jou gesin om nie verder te probeer om ander verdagtes op te spoor nie.

 

  1. Sodra dit vir jou moontlik is om te skakel, moet jy die polisie in kennis stel van die voorval. Indien jy ʼn lid is van Firearms Guardian, skakel die noodnommer vir regshulp en die nodige ondersteuning, sou dit benodig word. Stel ook (indien moontlik) jou plaaslike gemeenskapsveiligheidstrukture en privaat sekerheidsmaatskappye in kennis. In die meeste gevalle in Suid-Afrika is buurtwagte en sekerheidsmaatskappye eerste op hierdie soort tonele. Ontbied die ambulansdiens om te help met die bepaling van moontlike beserings en bystand te verleen met behandeling van skok. Dit is belangrik om te weet dat die oproep na die polisie, indien jy 10111 geskakel het, opgeneem is.

 

  1. Jy hoef geen verklarings onmiddellik ná die voorval af te lê nie. Ongelukkig het dit al gebeur dat polisielede aan slagoffers sê dat ʼn verklaring onmiddellik vereis word, wanneer dit nie nodig was nie. In daardie stadium mag jy moontlik nie in die toestand van kalmte en beredeneerdheid wees wat vereis word vir ʼn akkurate verklaring met relevante besonderhede nie.

 

  1. Indien jy nie ʼn lid van Firearms Guardian is nie, kan jy jou prokureur bel, indien jy leiding benodig aangaande verdere prosedures.

 

  1. Indien enigsins moontlik, probeer om die toneel af te sper. Verseker dat die aankoms van enige noodpersoneel, onder wie privaat sekerheidspersoneel, nie die toneel versteur en sodoende deurslaggewende bewyse vernietig nie. In Suid-Afrika is die polisie nie altyd eerste op die toneel nie en daarom is dit uiters belangrik om die toneel te beskerm tot tyd en wyl die polisie aankom.

 

  1. Neem foto’s van die toneel indien jy voel dit is nodig vir verdere verwysing en ondersoek. Maak egter seker dat jy dit nie aanstuur of plaas op sosialemediaplatforms nie. Indien jy wel foto’s neem, verseker dat jy nie, in die proses, die toneel vertrap en versteur nie.

 

  1. Indien enigiets wel verander gedurende die tyd van die voorval tot die aankoms van die polisie, maak seker dat jy dit wel aanmeld. Byvoorbeeld: die aanvaller het ʼn vuurwapen in sy hand gehad en jy het dit uit sy hand geskop vir veiligheidsredes. Moenie jok of probeer om enigiets in verband met die misdaadtoneel te manipuleer nie. Jy het opgetree uit selfverdediging. Dit is jou reg, luidens wetgewing in Suid Afrika, om jouself en jou gesin, asook enige ander lewe wat bedreig word, te beskerm met ʼn

 

  1. Maak seker dat jou vuurwapen in die holster is, sodra die toneel beveilig is, veral wanneer polisie en gewapende sekerheidspersoneel aankom. Dit is van sleutelbelang sodat jy nie foutiewelik as ʼn gewapende verdagte aangesien word nie. Maak ook seker dat jy niks verander aan die vuurwapen en oorblywende ammunisie in die magasyn of loop van die vuurwapen ná afloop van die voorval nie. Dit sou ook insluit die skoonmaak of ontlading van die vuurwapen. Laat die vuurwapen onaangeraak en bêre dit in die holster. Sodoende word enige onnodige agterdog ten opsigte van die vuurwapeneienaar vermy. Indien die polisie op die toneel vra vir die vuurwapen wat jy op die toneel gebruik het, vir ondersoekdoeleindes, oorhandig dit veilig aan hulle of wys hulle waar dit is, vir hulle om moontlik te ondersoek, of in ʼn (voorgeskrewe) sak te sit en te verseël vir verdere ondersoek. Die polisie sal waarskynlik vra of jy ʼn lisensie en bevoegdheidsertifikaat het vir die genoemde vuurwapen – antwoord asseblief eerlik.

 

  1. Die speurder aan diens en die SAPD se plaaslike misdaadrekordsentrum (PMRS) op die toneel, mag vra vir ʼn geskrewe verklaring. Soos voorheen genoem, het jy nie nodig om ʼn verklaring daar en dan te skryf nie. Neem tyd binne die daaropvolgende paar dae om tot verhaal te kom en lê dan die verklaring af. Dit is belangrik om ondersteuning van Firearms Guardian te oorweeg, of indien jy nie ʼn lid is nie, dan van jou prokureur, voordat jy ʼn verklaring aflê. Dit is altyd beter om een akkurate en relevante verklaring af te lê, in plaas van verskeie kort verklarings aan te heg of by te voeg wat verwarring kan veroorsaak of selfs teenstellings kan meebring.

 

  1. Daar sal waarskynlik beslag gelê word op die vuurwapen wat tydens die voorval gebruik is vir ballistiese en forensiese toetse. Dieselfde sal van toepassing wees op patroondoppies wat op die toneel gevind is. Natuurlik sal die polisie ook foto’s van die toneel neem, voordat enigiets opgetel en as bewysstukke geneem word. Sodra daar beslag gelê is op die vuurwapen, sal dit ingeskryf word as bewysstuk by die polisiestasie.

 

12.  Sodra bogenoemde prosedure afgehandel is, sal die SAPD springstofresidu-toetse doen van jou hande en liggaam. Hulle sal waarskynlik versoek dat jou klere ook ingehandig word as bewysstukke. Die SAPD sal ʼn afskrif van jou vuurwapen-vaardigheidsertifikaat en vuurwapenlisensie aanvra. Buiten die sake van huisroof en betreding wat deur die klaer aanhangig gemaak is – wat in hierdie geval jy is – sal die SAPD hoogs waarskynlik ook ʼn klag van moord en/of poging tot moord aanhangig maak. Die SAPD behoort egter slegs ʼn geregtelike doodsondersoekdossier te open indien hulle vermoed dat jy regmatig opgetree het. Ongelukkig is bitter min polisielede bewus daarvan dat dít die feitelik korrekte prosedure is. Dit is iets waarop jy moet aandring. Jy sal waarskynlik aangekla word en ʼn hofdatum sal aan jou verskaf word, terwyl die SAPD die ondersoek afsluit as ʼn strafregtelike dossier oopgemaak word. Die strafregtelike dossier sal deur die senior staatsaanklaer geëvalueer word om te bepaal of jy regmatig of onregmatig opgetree het. Indien regmatig, sal die saak van die hofrol geskrap of onttrek word; indien onregmatig, sal die saak verhoor word.

  1. ʼn Geregtelike doodsondersoek is ʼn ondersoek na die voorval en slegs ná afloop daarvan kan vervolging intree indien die ondersoek misdaad vermoed. Die proses is heelwat minder stresvol.

Wettige vuurwapeneienaars wat goed opgelei en vertroud is met hulle vuurwapens is ʼn aanwins vir hulle gemeenskap se veiligheid.

Ian Cameron is ook die direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jack ·

So nou word jy ontwapen en vir hoelank? Intussen gaan misdaad voort en mag die misdadigers as vergelding weer terugkeer. Hoop jou vrou is bewapen anders gaan die slagoffer jy en jou gesin wees. Wonder of jy jou jaggeweer mag hou wat nie betrokke was nie?

Dawie ·

Slegs die vuurwapen wat gebruik word, word op beslag gele. Dis ook een een van vele redes hoekom mense in die land meer as een pistool het, jy kan n addisionele pistool op Sec15 kry en soveel soos jy wil op sec16 met didikate status. So voorkom jy dat jou hande af gekap is en maak reg vir n tweede aanval van die verdagte se maker wat terugkeer

david ·

Slegs die wapen wat gebruik was mag deur die polisie verwyder word.

boerie ·

Daar is geen rede om te vra vir n bevoegdheid sertifikaat nie, n lisensie is voldoende, dit kan nie uitrereik word sonder bevoegdheid nie.

Bart-Man ·

Net in Suid-Afrika word daar vir jou stap vir stap verduidelik wat om te doen as jy iemand in jou huis skiet. En skryf hulle” en baie meer mense sal waarskynlik nog in die toekoms aan soortgelyke situasies blootgestel word. Terwille van oorlewing.

Jannie van Niekerk ·

In teorie mag dit dalk so werk maar in die praktyk is dit ‘n totaal ander storie. Ek weet van ten misnte twee gevalle in die Overberg waar die persoon wat homslef verdedig het teen die misdadiger onmiddelik in hegteni geneem is, in die selle aangehou is saam met kriminele en aangekla is van moord.
Rasbehepteid deur sekere polisiemanne speel natuurlik ook ‘n rol.

david ·

Van Kleinmond af, sal ek waardeur om te weet van die voorvalle!

AndrewL ·

Als goed en wel. Die artikel raak net aan sekere aspekte van wat werklik kan gebeur.

Ongelukkig sien ek die artikel as bemarking vir Firearms Guardian.

Die artikel maak geen melding van wanneer ‘n aanvaller slegs beseer is met die vuurwapen nie. Dit brei ook nie uit om gevalle buite die huis aan te spreek nie.

As die persoon wat hom/haarself verdedig van die begin af eerlik met die polisie saamwerk, word meeste van die probleme vermy.

Ons het die reg om ons lewens te beskerm met die hulp van ‘n vuurwapen, maar dit moet binne die raamwerk van die wet gedoen word. Dit is juis hier waar daar ‘n groot leemte is en vuurwapen eienaars nie altyd op die hoogte is van sake nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.