Wat is DA se plan met die EFF?

Herman Mashaba (Foto: ANA)

Die DA se strategie en doelwit wat betref sy verhouding met die EFF is besig om al meer wenkbroue in politieke kringe te laat lig.

Aan die een kant verkeer die DA in samewerkende regering met die EFF in ‘n verskeidenheid munisipaliteite, waaronder Johannesburg en die Tshwane-metroraad in Pretoria, asook ‘n reeks groot dorpe soos Thabazimbi en Modimolle (Nylstroom).

Aan die ander kant hoor mens deesdae al meer geluide uit die DA-leierskap wat in die openbaar met die EFF verskil. Tydens een so ‘n woordewisseling verlede week in die parlement het die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, wat tydens die onlangse DA-kongres in Pretoria na die EFF as “fasciste” verwys het, die politici in rooi uitgedaag om die samewerkende regerings in Johannesburg en Tshwane te verbreek.

Die vraag is, waar laat dit die DA-kieser in plekke waar die DA met die ondersteuning van die EFF regeer? Wat wil die DA hê moet die EFF doen?

Die Gautengse leier van die DA, John Moodey, en die DA-burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, het tereg vandag klem gelê op die sukses wat die Johannesburgse stadsadministrasie tans behaal, onder meer met die bekamping van korrupsie en wanbestuur wat soveel jaar aan die Goudstad gevreet het.

Die vraag is: As hul aanspraak korrek is (soos die DA-leierskap tog sekerlik sal onderskryf), hoe gaan hulle die werk voortsit sonder die steun van die EFF? Die antwoord is eenvoudig. Hulle sal nie kan nie.

As die taktiek van sommige DA-leiers om in die openbaar met die EFF in stryd te tree voortduur, is die noodwendige gevolg dat die EFF sy steun na die ANC sal skuif. Die vraag is hoe dit in belang is van DA-kiesers om deur ‘n ANC/EFF-koalisie regeer te word? Dis tog sekerlik die swakste moontlike uitkoms vir die DA-kieser?

Gesprekke met DA-leiersfigure het die volgende vyf redes vir hul meer aggressiewe houding jeens die EFF laat uitkristalliseer:

*Die EFF se houding teenoor die DA se nasionale voorsitter, Athol Trollip, as burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth. Die EFF het in Maart hul steun aan Trollip onttrek, wat die DA gedwing het om in koalisie te gaan met twee kleiner partye, die Patriotic Alliance (PA) en die African Independent Congress (AIC) om Trollip aan bewind te hou. Die UDM wil ook nie meer met Trollip saamwerk nie.

* Die EFF se indien van ‘n mosie oor die onteiening van grond sonder vergoeding by die parlement. Dis egter iets wat die EFF elke jaar doen.

* ‘n Persepsie binne die DA dat die veel kleiner EFF nie gesien moet word as dat hulle aan die DA voorskryf nie – dat hulle “hul plek moet ken”, om twee senior LP’s aan te haal. Daar is ook irritasie in die DA met die EFF se kapokhaantjie-houding, wat seker menslikerwys verstaanbaar is. Hoe dit in belang van die kieser, buite die magspel van politieke raadsale, is, is onduidelik.

* Daar is baie mense in die DA wat meen die EFF is in elk geval van plan om by die ANC aan te sluit of met die ANC saam te werk, en daar is niks wat die DA daaraan kan doen nie, so dit kan net sowel vroeër eerder as later gebeur. Só ‘n persepsie word deur die EFF ontken.

* Sommige DA-raadslede, spesifiek wykraadslede in oorwegend wit, welvarende dele van Johannesburg, meen die party is die EFF ter wille met die gevolg dat nie genoeg klem op voorstedelike dienslewering soos die sny van gras langs sypaadjies geplaas word nie.

Aan die ander kant is alle aanduidings dat Mashaba en die burgemeester van Tshwane, Solly Msimanga, gesonde verhoudings met die EFF handhaaf. Die vraag is nou wat die verskil is tussen hoe die twee metro-burgemeesters die saak benader en hoe die res die saak benader, en watter benadering DA-kiesers meen meer in hul belang is?

Ná die munisipale verkiesings van 2016 is skakelingskanale tussen die DA en EFF daargestel. Die terugvoer is dat die doeltreffendheid daarvan wisselvallig is. Die vraag is of daar ‘n manier is om dit te verbeter.

Die algemene verkiesing van 2019 is omtrent ‘n jaar die toekoms in. Hoe die twee grootste opposisiepartye hul geskille gaan oplos, kan in die lig van voortgesette tanende ANC-steun in tussenverkiesings ‘n belangrike invloed op Suid-Afrika se onmiddellike toekoms hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Reguit ·

EFF = Hard Communist
ANC = Medium to Hard Communist
DA = ANC Lite

Almal agter-af gefinansier deur dieselfde bose Geldmag.

John ·

Eintlik het die EFF die meeste gebaat. Van feitlik onbenullig tot ‘n groep wat hul gewig kan rondgooi. En vandag moet Paul Kruger waai. Dit was ‘n groot fout om so angstig te wees om die show te run op ‘n paar plekke. Die stede se agteruitgang word gestuit en wie kry die krediet en wie die skoppe? Die DA gaan baie swakker vertoon by aanstaande jaar se verkiesing weens leierskap-wispelturigheid en De Lille gaan hulle die grootste slag toedien… Kyk maar. ‘n Dominee was nog nooit ‘n goeie politikus nie. En met die grondgrypmanie wat nou momentum kry gaan die DA nie die boere se saak steun nie en die party gaan uiteindelik net 5 witterige lede oorhe…

Kobus ·

Almal wil nie die EFF se agterentte soen nie.DA is nie meer vir my nie ek gaan na n kleiner party wat vir my volk iets doen.dankie VF+

Inus Bester ·

Stem saam Kobus. Ek is klaar met die DA vandat hul met die EFF heul – dieselfde manne wat reguit sê hul gaan die wittes uitmoor – “maar nie noual nie.” En wat sê die DA van dié EFF-moordplanne? Nie ‘n woord nie. Dus stem die DA saam met die EFF!!
Pieter Groenewald en die VF+ kry ook my stem.

Dries ·

Om vir Jimmy Kruger aan te haal toe hy van Steve Biko se dood gehoor het…. “dit laat my koud”. Dis hoe ek oor die DA voel.

John Samuel ·

DA, anc, eff, AfriForum – 3x wolwe en n skaap wat stem wat vir aandete geslag moet word….

Reguit ·

Watter ordentlike en intelligente persoon sal hom/haar nog wil steur aan die sinnelose & belaglike Azaniese sirkus….. ek meen “politiek” of “partye”? Verstandige en nugter mense stem eerder met hulle voete en hulle verlaat daardie walglike hool op strepe.

Hendrik ·

Ek stem saam met jou. Die kans dat die politieke situasie gaan verbeter met die kaliber politici wat die meerderheid kiesers verkies is baie skraal. Ek het al lankal weggestap van die waglike hool, soos jy genoem het , en konsentreer op die praktiese uitvoerbare proses van konsentrasie van Afrikaners in ‘n geografiese gebied. Ons moet studies, soos gedoen deur is deur die Rasse Instituut, ernstig opvat oor die verskillende senarios in die toekomstige S.A. en besluite neem. Tans lyk dit werklik of die land in staatsverval is en die Rasse Instituut meen ook so. Dit is regtig tyd dat ons leierskap planne maak om die Afrikaners se toekoms volhoubaar kan maak. Die mense op die grond doen dit al en die leierskap, wat die geld het , doen nie hulle deel om ‘n groei in hierdie praktyke te plaas. Dit geld vir stedelike, plattelandse, nuwe en bestaande Afrikaner enklawes. Ons praat nou van veiligheidsdorpies in stede vir Afrikaners, veiligheidsgebiede vir mense op die platteland, gemeenskaplike standplase vir boere (Om plaasaanvalle te verhoed) en gemeenskappe soos Kleinfontein en Orania.

Reguit ·

Hendrik jy mors jou tyd en ek luister nie na sulke praatjies nie want dit mors my tyd. Nie net Azanië is ‘n hool nie, die hele Afrika is ‘n hool. Mense verlaat die hool. Diegene wat steeds in die Afrika-hool wil bly is welkom. Good luck to them.

nico k ·

Ek verstaan die kommentaar dat die DA die EFF nodig het, maar ons het van die begin geweet dat dit ‘n koalisie is van twee totaal teenstrydige pole. So die DA kan ook maar net sover stilbly as hulle nie met die EFF saamstem nie. Die enigste samebindende faktor was hul teenkanting teen Zuma en dit het nou verdwyn. So daar is regtig niks wat hul bymekaar hou nie.

PLP ·

Hoe sterker die DA standpunt inneem teen die EFF hoe meer stemme gaan die DA werf. Die EFF is die junior vennoot en die DA die senior vennoot. Die EFF moet besef hy is niks sonder die DA nie of sonder enige ander koalisie party nie. Deur moonlik met die ANC saam te werk verloor die EFF heelwaarskynlik 50% van sy huidige stemme aan die ANC of SAKP. Deur nou egter vir n kleiner party te wil stem is onverantwoordelik want jy maak net die ANC sterker – so jy stem eintlik vir n sterker ANC. Die DA het sy eie probleme maar hulle probeer darm. Wat doen die kleiner partye – niks want hulle kan niks met hulle min stemme doen nie. Stem eerder vir die DA om die ANC te ontroon. Jy kan later weer vir jou kleiner party stem om dan weer n koalisie met die DA te vorm. so kry ons dan die DA aan bewind met die kleiner partye in koalisie wat ook n se het, en in die proses sterker na vore tree

Gerhard ·

Die DA gaan meer stemme kry as hulle standpunt inneem teen die EFF? Verseker nie swart stemme nie en hulle het al die wit stemme wat hulle ooit gaan kry.

bgj van der westhuizen ·

anc,eff en da sal die land uit mekaar laat val wand al wat hulle in belang stel is geld

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.