Weermag ontplooi: Só vorder ingryping

Foto: Henk Kruger/African News Agency (ANA)

Dit is net meer as ʼn maand nadat aangekondig is dat die weermag op die geweldgeteisterde Kaapse Vlakte ontplooi sal word.

Honderde voetsoldate het op 18 Julie op die Kaapse Metropool inbeweeg in ʼn poging om die polisie tydens klopjagte by te staan en die uiters hoë moordsyfer te help stabiliseer.

Op ʼn vraag of die weermag iets vir hom beteken, sê Igsaan Samsodien (55), ʼn inwoner van Hanover Park, ook bekend as die Back Streets, op die Kaapse Vlakte: “Absoluut niks. Sodra die weermag daar is, dan is dit stil. As hulle uittrek, dan gaan dinge maar net weer aan en dis die probleem. Dit is nie ʼn permanente manier om die probleem op te los nie.”

Soos talle ander inwoners meen Samsodien hulle wou die weermag daar hê. “Ja, definitief, ons is gatvol. Weet jy hoe gevaarlik is dit? Vir ons kinders? As hulle winkels toe loop, dan skiet die mense net left right and centre.

“Kyk, die hele Hanover Park is dysfunctional. Want hulle roep die polisie uit en sodra hulle sien wie betrokke is, bly hulle stil en sê niemand dat die persoon wat doodgeskiet is ʼn bendelid was nie. Hulle weet nie watter kant van die fence hulle wil wees nie. Dis ʼn catch 22.”

Volgens Samsodien lê die antwoord van sukses binne die gemeenskap eerder as die weermag. “Ek dink die enigste manier wat die probleem opgelos kan raak, is as die community – die mense wat daar woon en wat nou rêrig gatvol is van wat gebeur – begin saamstaan en die moeilikheid uitroei. Maar hulle is ook bang.”

Kan syfers ʼn aanduiding van sukses wees?

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, maak sedert die weermag se ontplooiing weekliks moordsyfers bekend.

Altesaam 47 mense is die naweek in die Kaapse metropool vermoor. Dit sluit onder andere in ʼn ma van Kuilsrivier wat glo deur haar tienerseun doodgesteek is; ʼn 29-jarige taxibestuurder wat verskeie kere in sy gesig geskiet is en die moord op die hoogswanger Sadigah Newman van Manenberg.

Winde het ook verwys na die moord op Meghan Cremer wie se liggaam op ʼn sandmyn op ʼn plaas in Philippi gevind is. “Albei hierdie jong vroue se lewe is kortgeknip deur sinnelose geweld. Ons moet dit stopsit.”

Van die naweek se 47 moorde was 27 skietvoorvalle en 13 mesaanvalle.

Andrew Faull, ʼn senior navorser by die Instituut vir Sekuriteitstudies, wonder egter of dié syfers belangrik is as daar nie aanvanklik enige duidelike doelwitte opgestel is waaraan die weermag hulself voortdurend kan meet nie.

Faull het aan Maroela Media verduidelik dat solank daar geen duidelike doelwitte is waaraan stappe gemeet kan word nie, kan daar gevolglik geen uitkoms bepaal word nie.

Die ISS meen dat die weermag se optrede hoofsaaklik gelei moet word deur ʼn plan gegrond op noukeurige ontleding van betroubare en relevante data wat aan ʼn stel voorafbepaalde aanwysers en tydraamwerke gemeet kan word.

DefenceWeb se redakteur, Guy Martin, sê die ontplooiing van die weermag in die Wes-Kaap is uitsluitlik vir ondersteuningsdoeleindes. Martin meen verder dat sukses nie bepaal kan word wanneer slegs voetsoldate uitgestuur word nie. Die doelwitte en dit wat bereik wil word, lê egter by die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Is daar ʼn oplossing?

Alan Winde. Foto: Courtney Africa/African News Agency(ANA)

Daar is sedert November 2018 meer as 2 300 mense in die Wes-Kaap vermoor.

Winde het aan Maroela Media gesê dat die weermag beslis ʼn invloed op die Kaapse Vlakte het. “Ek hoop dat die polisie hierdie geleentheid ten volle sal gebruik.”

Die Wes-Kaap het volgens Winde ʼn tekort aan 4 500 polisielede. “Ons soek meer mense [polisielede] meer gereeld of voltyds.”

Winde, ook die voormalige minister van gemeenskapsveiligheid in die provinsie, erken die oplossing lê nie uitsluitlik by polisiëring nie.

“Dit is ons gewone dienste, skoonmaak, ondersteuning – dit is nie net polisiëring nie. Dit is kinders wat van die straat af moet kom en ouers wat hul verantwoordelikhede moet opneem.

“Dít is ʼn proses. Dit is nie ʼn vinnige regruk nie. Dit verg samewerking, beplanning en ʼn fokus op ʼn einddoel om te sê ons gaan dit veiliger maak.”

Winde het verduidelik daar is drie langtermynplanne. Die stad het net meer as ʼn maand gelede nagenoeg 100 veiligheidsbeamptes in Bonteheuwel ontplooi waar daar in die eerste ses maande van die jaar 44 moorde aangeteken is. Volgens Winde het moorde in Bonteheuwel drasties gedaal sedert dié ingryping.

Volgens Winde is daar noue samewerking tussen die provinsie en die Stad Kaapstad met verwysing na burgemeester Dan Plato se burgemeestersprogram vir stedelike herlewing (MURP). Danksy die MURP-inisiatief gaan vier laerskole in Manenberg – ook ʼn hoërisikogebied – opgegradeer word; hulle is besig om ʼn vaardigheidskool te bou en ʼn nuwe hospitaal gaan binne die gebied opgerig word.

Die MURP-inisiatief is egter niks nuuts nie, en is reeds in 2015 in gebiede wat vandag nog hoërisikogebiede op die Vlakte is van stapel gestuur.

Gemeenskap het ook ʼn rol om te speel

Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency (ANA)

Winde se derde strategie is om ʼn resep te ontwikkel wat geweld en misdaad binne gemeenskappe verminder.

“Geweld soos ons die afgelope naweek gesien het, beïnvloed die hele provinsie en alle regeringsgebiede. Ons het die druk gesien wat geweld op ons gesondheidstelsel plaas, met geweldige toenames in skietbeserings wat tot gevolg het dat operasies vir toestande wat nie lewensgevaarlik is nie, uitgestel moet word.

“Ons sien die uitwerking van geweld op kinders en onderwysers in skole en dit beïnvloed ons vermoë as provinsie om die beleggings te lok wat ons benodig om die ekonomie te laat groei en werk te skep wat sal help om die misdaadkrisis in hierdie provinsie op te los.

“Ek doen ʼn beroep op almal om hul rol te speel om hierdie provinsie veiliger te maak. Ek moedig almal aan om te doen wat hulle kan – of dit nou is om by ʼn buurtwag aan te sluit, vrywilligerswerk te doen of om organisasies soos Pink Ladies of Rape Crisis te ondersteun.

“Ons moet die bekamping van misdaad ʼn prioriteit vir almal maak. Waar mense getuies is van misdade of inligting het wat tot ʼn inhegtenisneming kan lei, versoek ons ​​hulle om asseblief na vore te kom. Dit kan help om ʼn lewe of lewens in die toekoms te red en verdere misdaad te voorkom.”

Intussen duur die amptelike dispuut tussen die provinsiale en nasionale polisie voort. Die dispuut is tans in die stadium waar die hof moet besluit of daar genoeg ondersteuning en genoeg polisiëring in die Wes-Kaap is.

Volgens Winde sal hy ʼn skrywe aan die nasionale polisiebestuur rig om ʼn volledige verslag te versoek oor die rol en doeltreffendheid van die weermag sedert hul ontplooiing, asook die SAPD se planne om misdaad in die provinsie in die toekoms te bekamp.

Operasie Lockdown

Bheki Cele. Henk Kruger/African News Agency (ANA)

Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër die week aangekondig daar is sedert Operasie Lockdown op 12 Julie begin het, reeds meer as 1 000 mense in hegtenis geneem in verband met verskeie misdade, waaronder moord, poging tot moord, gewapende rooftogte en kapings.

Volgens Cele is daar ook 20 bendelede wat in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Daar is ook reeds tydens die operasie op 45 vuurwapens, 1 036 patrone en 78 messe beslag gelê.

Cele meen die misdaadsituasie in die betrokke gebiede is aan’t stabiliseer. “Ons sal egter wil sien dat die syfers nog verder daal.”

Hy het daarop gewys dat dit belangrik is om te onthou dat Operasie Lockdown net ʼn tydelike inisiatief is.

“Op die polisiëringsfront moet ons almal begin voorberei vir die tydperk wanneer hierdie bykomende magte onttrek gaan word. Ek het dit al voorheen gesê en ek sal dit weer sê: ‘Misdadigers, veral bendelede en bendeleiers – jul dae is getel.’”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

otterman ·

Dit is erger as ‘n volskaalse oorlog. Erger as voor apartheid!!

Lou ·

Haal die bende leiers uit die prentjie uit dan sal dinge beter begin raak. Die bendes beheer alles (insluitende die polisie in sommige gebiede) en dit is ‘n mags oorlog oor geld en grondgebied om dwelms te versprei.

Mm ja nee ·

Dit kom voor, geen plan en geen manier om dit te monitor, die inligting wat ek as persoon in die media sien wys my daar gebeur eintlik niks om die mense se omstandighede te verbeter… Ek hoop ek is verkeerd. En terwyl hulle lekker hofsake hou en ag to so belangrik lyk, sterf mense op strepe…miskien moet die mense ook maar “vigilante” aksies begin toepas, dalk sien die bendes dan dat die gemeenskap hulle sal uithaal. Wat n hopelose situasie,wat net daadwerklike optrede uit gesorteer sal kry.

Leon ·

Hier is die oplossing.
Dit is ongelukkig ‘n apartheids oplossing.
Tek ‘n kordon om die area so tussen 02:00 en 03:00 in die oggend. Niemand gaan uit en niemand gaan in.
Die weermag gaan dan van huis tot huis en keer alles om. So vind hulle die wapens en die oortreders. Hulle beweeg ook van 4 of 6 kante af in die gebied in en begin ook van die beiiekant en beweeg na buite.
Daarna is dit stil.
Die probleem is: Die polisie vertel hulle maatjies wat hulle betaal uit die misdaad waneer dit gaan gebeur en so ook van die weermag kant. So dit kan nie ‘n klandistiene operasie wees nie, wat dit einlik moet wees. Dit het in Soweto en Mamelodi en Soshanguve gewerk. hoekom sal dit nie op die Kaapse Vlakte werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.