Woede oor plundering van melkhoutwoud

Schulphoek in April 2017. Foto: Google Earth

Een van die wêreld se grootste melkhoutwoude by Schulphoek buite Hermanus in die Wes-Kaap is die afgelope vyf weke feitlik geheel en al deur onwettige grondbesetters verwoes, ondanks ʼn interdik en ʼn uitsettingsbevel wat deur die hof uitgereik is.

Van die oorspronklike woud wat 25 ha beslaan het, is tans net sowat 5 ha oor.

Besorgde inwoners van die dorp sê die polisie het met gevoude arms gestaan en toekyk hoe bome afgekap word. Die Overstrand-munisipaliteit se beskermingspan het glo gesê dis die polisie wat moet optree, maar munisipale voertuie het na bewering wel die takke weggery om plek te maak vir die onwettige strukture wat deur die grondbesetters opgerig is.

Schulphoek in Desember 2018. Foto: Google Earth

Melkhoutbome word deur die wet beskerm en ʼn permit moet by die departement van landbou, bosbou en visserye verkry word om dit te kap, versteur, beskadig of vernietig. Dis ʼn strafregtelike oortreding en oortreders kan ʼn boete van R10 000 of tronkstraf opgelê word.

Die Schulphoek-melkhoutbos is deel van ʼn stuk grond wat in 2010 in groot omstredenheid deur die Overstrand-munisipaliteit gesamentlik aan twee privaat maatskappye, Cavcor en Cape Theme Parks, verkoop is. Hulle het sowat R5,3 miljoen vir die ongesoneerde 46 ha grond betaal en wou meer as 200 luukse wooneenhede op ʼn gedeelte van die terrein bou.

hermanus plakkers

Foto: Verskaf

Die maatskappye moes egter onderneem om grootmaatdienste ter waarde van R17 miljoen aan te bring en om ʼn pad van die middedorp af na Schulphoek te bou. ʼn Persentasie van die opbrengs uit die ontwikkeling moes ook vir verbeterings in die Zwelihle- en Mount Pleasant-woonbuurte aangewend word.

ʼn Gedeelte van die grond is later hersoneer, maar die ontwikkeling het nooit van die grond af gekom nie, glo weens ʼn daling in die ekonomie. Die verbeterings wat volgens die 2010-kontrak aangebring moes word, waaronder die grootmaat-infrastruktuur en die pad, is ook nie voltooi nie.

Cavcor en Cape Theme Parks het die grond in 2016 aan Grace Capital verkoop, na bewering vir R30 miljoen met die voorwaarde dat die nuwe eienaar steeds die pad op eie onkoste sal bou. ʼn Belangrike bykomende voorwaarde was dat daar nie grondbesetters op die terrein mag wees nie.

Die nuwe eienaar, Grace Capital, het kort ná die koopkontrak onderteken is die maatskappy se bereidwilligheid verklaar om sowat 12 ha van die grond aan die Overstrand-munisipaliteit af te staan vir die bou van ʼn sportterrein en laekostebehuising. Die inwoners van Zwelihle sou ook ʼn persentasie van die wins ontvang, onder meer vir vaardigheidsontwikkeling.

‘n Melkhoutboom.

Die departement van landbou, bosbou en visserye moes egter toestemming gee vir die verwydering van die melkhoutbome op die 12 ha en die gedeelte waar die pad gebou sou word. Die res van die bome sou in ʼn privaat reservaat omskep word.

Die ooreenkoms is deur al drie partye onderteken en Grace Capital het met die projek begin hoewel die grond nog nie na die maatskappy oorgedra is nie omdat die munisipaliteit skynbaar voete gesleep het om ʼn nuwe ligging vir die beoogde pad aan te dui.

Miljoene rande is bestee aan die ontwerp van die beoogde projek en daar is glo vooruit daarvoor betaal. Dit sou na raming by voltooiing sowat R2,6 miljard werd wees.

‘n Melkhoutboom.

Belanghebbende partye beweer dat die Overstrand-munisipaliteit nie woord gehou het nie en dat die onwettige besetters op die terrein daagliks meer geword het. Cavcor en Cape Theme Parks, wat op skrif steeds die wettige eienaars was, het in ʼn stadium die Rooimiere gekry om die plakkers te verwyder, maar die instroming kon nie gekeer word nie.

Ná verlede jaar se gewelddadige protesaksie oor die gebrek aan voldoende laekostebehuising in Hermanus het die eienaars met die Wes-Kaapse regering onderhandel om die stuk grond aan die staat te verkoop. Overstrand se munisipale bestuurder, Coenie Groenewald, het aan Maroela Media gesê die munisipaliteit sal Schulphoek teen R30,22 miljoen vir behuising koop.

Dit beteken dat die grond nog steeds aan Cavcor en Cape Theme Parks behoort, maar dit lyk asof geen van die partye wat onderhandel die grondbesetting en die verwoesting van die melkhoutbome kan stopsit nie.

Melkhoutbome word honderde jare oud.

Verlede jaar se oproer en die voortgesette onwettige besetting het ʼn geweldige ekonomiese uitwerking op die dorp gehad. Volgens bronne in Hermanus kanselleer buitelanders hulle koopkontrakte wanneer hulle besef die eiendom wat hulle wil koop, grens aan ʼn informele nedersetting. Misdaad het toegeneem en sowat 40% van Hermanus se ondernemings word deur bankrotskap bedreig.

Belangegroepe probeer egter steeds red wat te redde is. In ʼn e-pos wat Maroela Media onder oë gehad het skryf die voorsitter van Hermanus se Nuwe Hawe Ontwikkeling, Willem van Zyl, vroeër hierdie maand aan die departement van landbou, bosbou en visserye dat hy glo dis die departement se plig om die res van die melkhoutbos te bewaar, veral noudat die grond staatseiendom word.

In ʼn verdere e-pos aan Izak van der Merwe, die adjunkdirekteur van bosbouregulering van die departement, vra Van Zyl: “Is julle deel van die beskerming van ons woude of is julle ook deel van die land se beheerstelsel wat met die arms in die lug staan terwyl ons land, mense, werk, aansien en ekonomie in duie stort?  Waar staan julle in die geveg om geregtigheid?”

Die melkhoutboom se takke vorm ‘n digte sambreel.

In sy antwoord aan Van Zyl sê Van der Merwe dat hy die klagte na die direkteur verwys het wat vir optredes in die streke verantwoordelik is.

“Die departement kan nie die onwettige ontbossing aanpak as dit nie die volle samewerking en ondersteuning van die SAPD, provinsie en die munisipaliteit het nie. Ons het nie gewapende beamptes wat patrollies of inhegtenisnemings kan doen nie, ons is afhanklik van die polisie om hulp te verleen,” sê hy.

Op ʼn vraag van Maroela Media oor wat die munisipaliteit doen om te keer dat die melkhoutbos vernietig word, het Groenewald gesê die kwessie is onder die departement van landbou, bosbou en visserye se aandag gebring. “Hulle moet hulle wetgewing toepas!”

Die takke en stam vorm ‘n netwerk waaraan die immergroen lote hang.

Verskeie belanghebbendes het die afgelope paar dae aan die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, geskryf om hulp te vra. Die terugvoering tot dusver is dat premier Winde van die probleem kennis geneem het.

Intussen het taxibase in Hermanus glo begin besef dat verlede jaar se gewelddadige oproer wat die dorp miljoene rande gekos het, ook tot ʼn verlies aan werksgeleenthede gelei het. Die leier van die Land Party wat die oproer gereël het, Gcobani Ndzongana, is glo twee weke gelede deur die taxibase by sy huis opgesoek en met ʼn sambok ʼn loesing toegedien wat tot gevolg gehad het dat hy die dorp verlaat het.

Nogtans beplan Ndzongana glo weer ʼn opmars deur Hermanus vir Vrydag 27 September. Die DA-speaker van die provinsiale wetgewer, Masizole Mnqasela, het vroeër die week in ʼn mediavrystelling bevestig dat hy Ndzongana ontmoet het om hom te vra om die beplande optog te heroorweeg.

Dit lyk egter nie of Ndzongana maklik gaan bes gee nie. In ʼn boodskap op sosiale media sê hy onder meer: “… this is the land of Zwelihle. Save your heart and expect more militant action from Zwelihle … The Milkwood is not (more) important than our people nor tourists are important …”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois

Ai dis verskriklik hartseer.
So word ons flora erfenis uitgewis.
Ho kan die polissie net staan en kyk as die wet gebreek word?
Maar dis seker deel van die reenboog proses – wonder hoe gaan ons land lyk oor 50 jaar van nou af? Ek is dankbaar dat ek nie meer daaityd sal leef nie. Die afgelope 20 jaar was genoeg vir my hart.

Andre

Ek is n inwoner wat reeds 3 melkhoutbome aangeplant het wil ek net n stuiwer in die armbeurs gooi.Overstrand Munisipaliteit se wetstoepassing en natuurbewaring tree net op teen belastingbetalers wat n melkhoutboom wil verwyder of snoei.
As jy n onwettige grondbesetter van elders is ,mag jy hier doen wat jy wil.Geen reels ,bouplanne ens. is van toepassing op hierdie oortreders nie .

J

Dis hartseer. SA is besig om al sy natuurskatte af te staan aan onwettige immigrante, onwettige grondbesetters en geldgierige maatskappye wat niks omgee vir mooi ou Kaapland nie. Die Here kan nou maar kom.
As iemand my in 1989 gesê het die Kaap gaan uitgeroei word sou ek dit nie geglo het nie. Koebaai Toerisme.

Niks gaan oorbly nie

Kyk die film Stroop, dan verstaan jy hoe en met watter gesindheid al SA se natuurerfenisse benader word. Renosters, olifante, miervreters en perlemoen – alles word uitgeroei, soms op die wreedste denkbare manier.
So wat sal hulle nou vir ‘n melkhoutboom voel….? Alles is ondergeskik soos die laaste par dit stel, aan hulle behoeftes en eise.

Dis Jammer

Dis jammer, maar as die belhammel nou pad gevat het kan dit net beter gaan. Hermanus Munisipaliteit is funksioneel en indien nie die beste nie, een van die bestes in die land. Die res van SA kan maar daar gaan kyk hoe Suid-Afrika kan en behoort te lyk. Gaan kyk sommer die naweek, die Walvisfees is aan en daar gaan FEES gevier word.